‘Parmantige’ Lizz groet haar ma met humor, deernis

Lizz Meiring se ma, Villiere Meiring, is Donderdag oorlede nadat limfoomkanker onlangs by haar gediagnoseer is. Foto: Facebook

“Ma, jou gedenkdiens sal classy en vol kleurvolle blomme wees. Geen onnodige tranetrekkery nie. Uniek en eg soos jy.”

So beloof Lizz Meiring haar ma, Villiere, wat Donderdag aan limfoomkanker oorlede is, in ʼn eiesoortige inskrywing op Facebook soos net dié aktrise en regisseur dit kan stel.

Die kanker is baie laat by haar ma gediagnoseer, sê Meiring. “Sy was in elk geval piepklein en amper 89. Sy’t behandeling geweier en ek respekteer dit. Haar kwaliteit van lewe en waardigheid en onafhanklikheid was vir haar alles.”

Meiring sê wat sy veral van haar ma sal mis, is “haar klas, warmte, liefde, intelligensie, deernis, kreatiwiteit, stylvolheid en oorspronklikheid”.

Sy vertel sy kon nie tydens haar ma se laaste oomblikke by haar wees nie. “Die engele het dit so bestem dat ek ten tyde van haar dood aan verfilm was aan ʼn nuwe rolprent en dié week elke dag óf aan die nuwe fliek of aan die sitkom Ouboet en Wors moes verfilm, plus elke aand by ʼn funksie moes optree.”

Lizz Meiring beskryf haarself as net so eiesinnig en astrant soos haar ma, Villiere, wat Donderdag oorlede is. Foto: Facebook

Maar sy meen haar ma sou verstaan. “The show must go on, so is ons opgelei en so sou sy dit wou hê.”

Meiring sê sy steun in dié hartseertyd op haar groot en wonderlike ondersteuningsnetwerk van vriende en kollegas, wat haar dra.”

Met haar kenmerke vlymskerp humor het Meiring ʼn spesiale opdrag vir haar ma: “Gaan jaag daai klomp in die Hiernamaals op, Ma! Weier om, soos jy dit sou stel, insipid, onvleiende, wapperende wit gewade te dra – en vertel hulle: ‘Ek dra net Thomas Thomson Couture.’”

Sy weet haar ma sal vir geen oomblik alleen wees nie. “Pa [die chemiese patoloog dr. Lewis Meiring] en soveel ander vriende en familie en geliefdes is daar vir jou. En eet asseblief ʼn slag iets lekkers. Mens sit nie gewig aan in die Ewigheid nie.”

En hoe meen Meiring moet haar ma haar tyd anderkant deurbring? “Gaan gesels met al die skilders en skrywers wat jy so bewonder en wie se werk jy so geniet het. Gaan soen en cuddle jou geliefde, oorlede honde – en die oorlewende een kom na my toe en lê reeds styf teen my.”

Sy verseker haar ma dit gaan goed met hulle almal wat agtergebly het: Meiring se broers, Karl, ʼn navorser en historikus, en Rocco, afrigter van die nasionale swemspan, asook hul vroue, Lynne en Mauneé, en kinders, Lerie, Thaubi, Cara, De Villiers, Karlien en Louis.

“Ons sal jou mooi tuin vol potte blomme verdeel tussen ons – en so sal jy altyd saam met ons groei en blom. In jou tuin is ʼn muurteël wat sê: ‘It is here, with the spirit of the wind, that I will find my soul.’

“En jammer, Ma, my hare is nog steeds daai deurmekaar styl wat jy so verpes. Ek is astrant, parmantig, aweregs, eiesinnig – net soos jy.”

Villiere Meiring se gedenkdiens word op Woensdag 14 November om 11:00 in die NG Kerk Waterkloof, hoek van Dey- en Giovanettistraat, Nieu-Muckleneuk gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Ronnie ·

Liz. Ek wens ek kon aan iets gepas dink om te se. As ek jou ma geken het, was ek verseker ‘n “fan”

Magaretha van heerden ·

Ook jammer vir haar. Ek kan nie anders as om te se daar is baie te leer oor die hemel en die hiernamaals. Net ons Heer en Meester tel daar. Alles is nietig in Sy teenwoordigheid. Ons troos onself maar met al die dinge wat ons se en dink Tog is dit so belangrik om in erns daarna te kyk Baie sterkte vir jou Jy is n puik aktrise wat baie se lewens verryk het tot nou toe.

Hanna ·

Aan al die Meiring sibbe, kinders en familie. ONS innings meegevoel. Ek loof Liz vir haar prag boodskap aan haar geliefde moeder. Gods Rykste Seën aan julle.

Johann cb ·

Sterkte Lizz, aan jou en die uitgebreide familie. Ek verstaan hoe julle voel. My bejaarde moeder is ook onlangs oorlede. Vertroetel haar nagedagtenis!

JO Swanepoel ·

Innige megevoel . Sy was n geliefde onderwyseres te Hoerskool Wonderboom ,
Pretoria

JO Swanepoel ·

Innige meegevoel . Sy was n geliefde onderwyseres te Hoerskool Wonderboom ,
Pretoria

IK ·

Na my vrou se baklei teen kanker en op die ou einde verloor sal ek ook maar die kortpad vat . . . Nogtans ‘n siekte onverstaanbaar om mee te sterwe te kom. Sterkte aan die Meiring-fam.

Abe ·

Volgens watter geloof word ons lewenservaringe bestem deur engele?

Oom Jaco ·

Kom Christene, moenie die Skepper God in ń boksie plaas nie… As ek Hom vra om engele om my te plaas vandag om my te beskerm, dan Sal Hy as ek ń oorgegewe kind van Hom is. Dan weet ek dat my lewenservaringe van die dag beinvloed word deur my keuses en die engele wat my Vader om my geplaas het…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.