Parool vir man wat ongebore baba laat doodskiet ‘klap in gesig’

Melissa Dyer. (Foto: Facebook)

“Ek het besluit dat hy nie meer beheer oor my lewe sal hê nie. Hy het my byna vernietig, maar ek was sterker en met die hulp van familie en vriende wat my ondersteun het, het ek oorleef.”

Só het Melissa Dyer gesê nadat sy die nuus ontvang het dat David Best, die pa van haar eerstelingdogter maar ook die baasbrein agter die plan om die ongebore kindjie te laat doodmaak, op parool vrygelaat gaan word.

Nobuntu Gantana, woordvoerder van die Oos-Kaapse departement van korrektiewe dienste, het bevestig dat Best op parool vrygelaat gaan word. Volgens die departement het Best die minimum van sy aanhoudingstydperk voltooi, soos deur die hof gelas, en het hy programme ondergaan om sy gedrag te verander.

Dyer is op Valentynsdag 2006 geskiet kort nadat sy en Best saam ʼn ginekoloog in Southernwood, Oos-Londen, besoek het. Dyer was destyds 38 weke swanger en sou na verwagting binne dae geboorte gee. Die paartjie het ʼn dogtertjie verwag wat hulle reeds die naam Jenna-May gegee het.

Op daardie noodlottige dag is die twee terug na hul voertuig in die parkeerterrein, waar Ludwe Mshumpa saam met hulle in die motor gespring het. Hy het hulle met ʼn wapen gedreig en Best oënskynlik gedwing om na ʼn verlate gebied naby Fort Jackson buite Oos-Londen te ry. Daar het Mshumpa vir Best in die skouer geskiet om die rooftog geloofwaardigheid te gee. Dyer is twee keer in die buik geskiet.

Best se horlosie, beursie en selfoon is gesteel en Mshumpa het gevlug, waarna ʼn gewonde Dyer en Best mediese hulp gaan soek het.

Dyer se baba is met ʼn keisersnee gebore. Hoewel die baba doodgebore is, kon sy haar dogtertjie wel vir ʼn paar minute vashou.

Dit het tydens die ondersoek aan die lig gekom dat Best ʼn ander minnares gehad het en dat die baba wat hy saam met Dyer verwag het, vir hom ongerieflik was. Hy het Andile Tukani, wat later ʼn staatsgetuie geword het, genader om die plan te help uitvoer. Mshumpa is daarna betrek. Daar is afgespreek dat Dyer én Best geskiet moes word en daar moes verseker word Dyer word in die buik getref sodat die baba nie oorleef nie.

Best het onskuldig op die aanklagte teen hom gepleit, maar is eindelik skuldig bevind aan onder meer poging tot moord op Dyer, dwarsboming van die gereg, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie, aanhitsing om moord te pleeg en aanranding.

Die hooggeregshof het egter beslis dat die doodmaak van ʼn ongebore kind in die baarmoeder nie moord is nie.

Best het nou sowat 13 jaar van die 21 jaar lange vonnis wat hy opgelê is, uitgedien en sal na verwagting teen Kersfees by die huis wees. Hy het luidens berigte tot enkele maande gelede volgehou dat hy niks met die voorval te doen gehad het nie. Hy het onlangs eers aanspreeklikheid aanvaar en ʼn paroolraad in die Oos-Kaap het bevind dat hy nou geregtig daarop is om op parool vrygelaat te word.

Dyer sê die feit dat Best die dag voor Kersfees op parool vrygelaat gaan word, is ʼn klap in die gesig.

“Wat ek ook al sê gaan niks verander nie, omdat die paroolraad reeds die besluit geneem het om hom op parool vry te laat.

“Toe ek die paroolverhoor bygewoon het, het ek die gevoel gekry dat die raad reeds besluit het om hom vry te laat,” het sy gesê.

Dyer, wat steeds in Oos-Londen woon, sê sy sukkel al die afgelope 14 jaar met posttraumatiese stressindroom (PTSD). Sy word ook daagliks deur die merke op haar liggaam aan die gebeure herinner.

“Dit verbyster my steeds dat iemand so ʼn onmenslike daad teen ʼn ander mens kan beplan. Hy het die lewe van my eersgeborene dogter geneem, selfs al het hy geweet hoe sien ek daarna uit om haar in hierdie wêreld te verwelkom,” het Dyer gesê.

Sy sê Best word na haar mening te vroeg vrygelaat en moes sy lewenslange vonnis uitgedien het.

“Ek voel sterk dat korrektiewe dienste my as ʼn slagoffer van hierdie gruwelike misdaad in die steek gelaat het.”

Dyer het egter net lof vir die ondersoek- en vervolgingspan wat die saak hanteer het. Sy sê hulle het nie net tydens die verhoor nie, maar ook in die jare daarna, net haar beste belange op die hart gedra.

“Ek laat die saak nou in die hande van my hemelse Vader wat die beste weet en die bron van my daaglikse krag is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

tweeling ·

My indruk was dat die ander party eers moet inwillig voor parool toegelaat kan word. Dis hoekom Chris Hani se moordenaar nog in die tronk is.

QueenB ·

Dus hoe ek dit ook verstaan maar dit wys nou net in die geval van Chris Hani se moordenaar is daar alweer ras betrokke

ElizeK ·

Ek is naar waar ek hier sit. ‘n Hooggeregshof het beslis dat n ongebore baba wat op 38 weke in haar Mamma se baarmoeder doodgeskiet word nie moord is nie.
En die mensie se “donor” (kan hom niks anders noem nie) wat die moord beplan het kom na 13 jaar uit op borg. Hoe siek is dit!!!
Dankie vader, ALMAL van ons sal voor die hemelse hoofregter moet gaan staan waar HY sal oordeel.
Baie sterkte Melissa. Ek dra jou op in gebed en staan vas in jou geloof hartjie.

anniekiewiet ·

Ek het dieselfde gevoel van naarheid, ongeloof, gevind.

ES ·

Elize, ek stem saam jou… ongelukkig sien ons wetgewing nie ongebore babas as ‘n persoon nie. Die wet vereis dat die baba gebore moet wees, van sy ma se baarmoeder geskei wees en lewendig gebore wees vir die baba om as persoon en “lewendig” geklassifiseer te word. Daar is al vir baie jare debat oor die hof se siening oor ongebore babas.

Patch ·

Hierdie is skokkend. As daar ‘n hartkloppie is, is daar ‘n lewe!

Grassie ·

‘n Lewende kind wat al ‘n naam het en binne enkele dae gebore sou word – en die regter sê sy is nie ‘n mens nie. Ons leef in ‘n bose wêreld. Maar daar Bo is ‘n regterstoel waar verantwoording gedoen sal moet word.

Misky ·

Dis belaglik en na wat hy daai arme vrou deurgesit het!!!! Hy is siek in sy kop en hoe kan so mens weer in die samelewing toegelaat word? En dis moord op daai baba en klaar!!!! Babas wat op 20 weke al gebore word kan oorleef en die oomblik wat daar n hartklop is, is dit n kind.

Zhara ·

HOE KAN N ONGEBORE BABA 38WEEKE SWANGERSKAP NIE AS MOORD BESKOU WORD NIE??? AS N BABA OP 38WEEKE SWANGERSKAP GEBORE WORD LEEF HY/SY DAN… SUID AFRIKA SE REGSTELSEL VERSTOM MY ELKE DAG MEER EN MEER. HIERDIE MOORDENAAR HOORT IN DIE TRONK AFTER SLOT EN GRENDEL.

Erika ·

Dit is suiwer boosheid En die Regstelsel het hierdie vrou in steek gelaat

Alta ·

Die baba was “ongerieflik” vir hom? So .mens is “ongerieflik” vir die samelewing maar die moordenaar gaan nou gerieflik vrygelaat word!

Stefan ·

Siek, wonder in elk geval watter tipe lewe hy gaan hè by sy vrylating, wie wil enigiets met so’n ou te doen hè.

Suzette ·

Daar moet eintlik ‘n foto van hom geplaas word sodat hy nie weer enige ander vrou ‘n rat voor die oë kan draai nie. Hulle is goed genoeg om te gebruik maar wanneer daar verantwoordelikhede daarmee saamkom, word die verantwoordelikheid uit die weg geruim.

Cherokee ·

Die moordenaar wat Magoos Bar gebom het, robert mcbride (klein letters met opset), blyk stteds pelle te hê.

quartus ·

Dit het hoog tyd geword dat die paroolstelsel afgfeskaf word. Dit is iets wat net in n ontwikkelde samelewing, waar daar nog wet en orde is, kan werk

Fritz ·

Dit smaak my ons hooggeleerde landdroste en regters is nie genoegsaam deel van die misdaad nie. Die dat vonisse so lig is. Hopelik verander dit.

anniekiewiet ·

Sterkte aan jou, mamma want jy is n mamma. Mag jy net troos en berusting van Bo kry.

JM ·

Aborsie word beskou as moord. Hoe kon die regter besluit dat hierdie mensie op 38 weke nie VERMOOR is nie?! Hoe siek!!

ES ·

JM, ongelukkig word aborsie nie beskou as moord nie deur ons regstelsel nie. Jy kan nogsteeds geboorte aborteer tot en met 21 weke en enige tyd daarna as jy die opinie van ‘n dokter en vroedvrou gekry het oor die aborsie.

Dis net as Christene dat ons dit beskou as moord, maar die regstelsel sien dit nie so nie…

Thea ·

Hoe belaglik is dit nie! Ek wonder of die familie genader is vir hulle insae oor die aansoek vir parool? Ons bly in ‘n siek, bloeiende land!

Genis ·

Die land is siek, een stal reels vir en, een stel reels vir n ander, en dan n stel reels vir ANC bevel…

Cecilia ·

Geen geregtigheid nie. N Baba op 38 weke v swangerskap is lewensvatbaar. As jy n aborsie sou doen was jy as ma aangeklae vir moord so hkm kon d vark daarmee wegkom.
Sterke Melissa.
Kry onmiddelik n beskermingsbevel teen hom want jou lewe is nie n sent werd met daai vark op parool nie.

Lian ·

Watse pa maak sy ongebore kind dood ? Dit gaan hom jare later inhaal al is hy nou vry .

johanf ·

Sterkte Melissa, ek glo die meerderheid voel jou pyn, Sterkte vorentoe…..

Karlahari ·

Ek onthou die moord nog baie goed.
En die rassehaat as gevolg van die mans wat hulle na die asgate “ontvoer” en geskiet het.
Net om later uit te vind dit was moord met voorbedagte rade. Koelbloedig beplan.
Sy 2 handlangers wag vir hom.
Gemors hoort in die asblik

MVH ·

My hart gaan uit na haar engel,al was sy nog in haar ma se moederskoot,het sy gelewe…haar hartjie het geklop ,nes myne en joune…

Nie Verbaas ·

Best het programme ondergaan wat sy gedrag verander het. Is die ander wat vrygelaat is en weer gemoor en verkrag het aan dieselfde programme onderwerp?

Anoniem ·

Maak sy lewe hel buite die tronk. By moet wens dat hy kan teruggaan selle toe. Ek in Oos Londen gewoon het, sou hy elke dag van my geweet het

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.