Parool wink glo vir De Kock, Derby-Lewis

Eugene de Kock

Eugene de Kock

Die hooggeregshof in Pretoria het opdrag gegee dat die nuwe minister van justisie en korrektiewe dienste moet oorweeg om Eugene de Kock op parool vry te laat.

Regter Thokozile Masipa het Woensdag beveel dat minister Michael Masutha 30 dae het om te besluit of De Kock op parool vrygelaat moet word.

Die nasionale raad vir korrektiewe dienste het glo in November verlede jaar al ‘n besluit geneem oor De Kock se parool. Die aanbeveling is aan Sbu Ndebele, die vorige minister van korrektiewe dienste, gestuur vir oorweging. Hy het egter nooit ‘n besluit geneem nie en het De Kock vroeër vanjaar die hof genader om hom te dwing om dit te doen.

Die saak is as afgehandel beskou nadat Ndebele se regsverteenwoordigers aangedui het dat hy teen 12 Mei ‘n besluit sou neem. Geen besluit is egter teen die tyd geneem nie en nadat Ndebele sy pos verloor het na die verkiesing het De Kock weer die hof genader.

City Press berig intussen dat Clive Derby-Lewis op dieselfde tyd as De Kock op parool vrygelaat sal word. Volgens die berig is dié besluit glo deur president Jacob Zuma geneem.

De Kock het hom weens dade in die apartheidstyd die bynaam Prime Evil op die hals gehaal. Hy was ʼn polisiebeampte onder die apartheidsregering. Hy is ʼn week voor Nelson Mandela se inhuldiging as president in 1994 in hegtenis geneem vir die afsterwe van talle anti-apartheidsaktiviste. Hy is in 1996 tot 212 jaar tronkstraf gevonnis.

Derby-Lewis is tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir sy aandeel in die moord op Chris Hani, destydse leier van die SAKP.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

david ras ·

Ineressante vergelyking: Clive Derby Lewis wat skuldig bevind aan ‘n sameswering om ‘n enkele mens -Chris Hani te vermoor, sit na twintig jaar noog steeds in die tronk. Hy het kanker, Bram Fischer wat ook skuldig bevind is aan sameswering wat die dood van duisende kon veroorsaak het word na slegs 8 jaar vrygelaat omdat hy kanker het deur die “bose”apartheids regering. Die “hoogheilige, mensereg “bewuste ANC (en andere) doen enigiets om Clive nie vry te laat nie..Mens wonder darem waarom ? Weet Clive dalk iets wat vir sommiges ongemaklik kan wees?

Pierre ·

Interessant wat jy hier sê David. Dit laat mens met geen ander keuse as om te wil glo dat Clive oor inligting beskik wat nie vir almal se oë en ore bedoel is nie.

Grassie ·

Ek hoop ek is verkeerd maar ek dink nie Eugene de Kock se kans op parool is baie goed nie. Hy was bloot ‘n polisieman wat die taak wat sy base hom opgelê het, uitgevoer het. Onthou, Suid-Afrika was daardie tyd in ‘n lae intensiteit oorlog gewikkel. Hy sit nou al 18 jaar in die tjoekie en sy voormalige base floreer buite. Een het ‘n wynplaas gekoop, die ander een was voete en so aan. Ek dink dit was ‘n politieke besluit om hom op te sluit en die sleutels weg te gooi – hy moes die blaam van almal dra. Weens die onverdraagsaamheid van die huidige regering sal hy nie maklik gelos word nie. Intussen kan ons maar net duim vashou – die dae van wonderwerke is nog nie verby nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.