Groot pogings word aangewend om Suid-Afrika se paroolstelsel te verbeter te midde van groot woede oor kindermoorde in Wes-Kaap wat glo gepleeg is deur oortreders wat op parool vrygelaat is, het die minister van justisie, Ronald Lamola, Woensdag aan die parlement gesê.
Lamola het ʼn twee dag lange vergadering byeengeroep ná die moorde op die agtjarige Tazné van Wyk in Kaapstad, asook die verkragting en moord op die sewejarige Reagan Gertse in Tulbagh. In albei gevalle was die vermeende moordenaars op parool.
Volgens die minister integreer die meeste van diegene wat parool vrygelaat word vreedsaam terug in die samelewing, maar daar is gevalle waar hulle nie net weer misdaad pleeg terwyl hulle op parool is, maar selfs érger misdade pleeg.
“Daar is vrot appels wat gruwelike misdaad pleeg,” het hy aan LP’s gesê.
Hy het volgehou dat die paroolstelsel “gebrekkig, maar nie gebreek is” nie en het gesê die nodige verbeterings word aangebring sodat vorige misdaadrekords dadelik beskikbaar is wanneer ʼn verdagte se geskiedenis nagegaan word.
“Die skakeling tussen die stelsels is ʼn prioriteit vir die groepering en daar word werk van gemaak,” het hy gesê.
Volgens die departement van justisie gaan die vergadering paroolpraktyke in die Wes-Kaap oor die afgelope jaar hersien en bepaal of daar enige verbreking van bepalings in die proses, soos voorgeskryf deur die Wet op Korrektiewe Dienste, was.
Maroela Media het vroeër berig Jakobus Petoors (58) het Dinsdag in die landdroshof in Tulbagh verskyn in verband met die moord op Reagan. Die seuntjie se liggaam is Sondag tussen die bosse naby ʼn rivieroewer in die dorp gevind. Hy is na bewering verkrag voordat hy om die lewe gebring is. Petoors is familie van Reagan se pa en is in November verlede jaar op parool vrygelaat.
Moehydien Pangaker (54), die beweerde moordenaar van die agtjarige Tazné van Wyk wie se liggaam twee weke gelede gevind is, is óók vroeër op parool vrygelaat.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
13 Kommentare
Hierdie minister gebruik die regte woorde maar moet dit as volg uiteensit – meeste is vreedsaam as hulle op parool vrygelaat word – ja right die meeste vreet saam en die ander kyk wat kan hulle volgende doen wat die vorige oortreding soos ‘n baba laat lyk.
As jy van moord, verkragting, roof, aangekla word, moet/ mag daar nie eens borg wees nie.
Die tronke sit met 50% meer gevangenis as wat hulle kan akkommodeer, hulle bou nie nuwe tronke nie so wat doen hulle ,laat hulle uit op vroeë parool…..niks wat hierdie anc regering doen werk of is opbouend nie.
Die stelsel is totaal gebreek.
Ok….die ANC breek dan alles!