Paroolvoorwaardes kan verskerp word

Argieffoto

Paroolvoorwaardes in Suid-Afrika kan nog strenger gemaak word noudat soveel misdade teen spesifiek kinders gepleeg word deur gevangenes wat op parool uit die tronk gelaat is.

Die parlement se portefeuljekomitee oor korrektiewe dienste het Vrydag gehoor dat parool reeds deesdae as ‘n reël moeiliker toegestaan word as in die verlede.

Waar gevangenes in die vorige stelsel vir parool in aanmerking gekom het nadat hulle ‘n derde van hul vonnis uitgedien het, is dit nou eers nadat hulle die helfte uitgedien het.

Die regering oorweeg dit egter nou om die tydperk waarteen gevangenes wat skuldig bevind is aan sekere geweldsmisdade vir parool in aanmerking sal kom, op te stoot na twee derdes van die vonnis.

Besluite soos hierdie sal eers geneem kan word nadat die huidige paroolhersiening afgehandel is en die nuwe regulasies opgestel word.

James Selfe, DA-LP en langsdienende lid van die portefeuljekomitee, het egter drie waarskuwings tot die ander parlementslede gerig.

Die eerste is dat die beskuldigde in die moord op Tazne van Wyk van Kuilsrivier tydens die moord onder korrektiewe toesig was, wat min of meer neerkom op die outydse huisarres, maar bietjie minder streng is. Die probleem in daardie geval was dat die departement van korrektiewe dienste nie hul rol behoorlik vervul het soos in die wet vereis nie.

Tweedens het die departement van korrektiewe dienste te min maatskaplike werkers. Slegs 600 maatskaplike werkers bedien 120 000 gevangenes. Dit skep baie probleme, onder meer ook op paroolrade, waar daar dan dikwels nie maatskaplike werkers op die paneel is nie, sodat oortuigende psigopate byvoorbeeld die leke wat wel daar is, ʼn gat in die kop kan praat oor hul beweerde relatiewe onskuld.

Derdens het Selfe, in die lig van bogenoemde, dus die parlementslede en die amptenary versoek om nie wetgewing of regulasies op te stel wat hulle nie prakties kan afdwing nie, want dit dien geen doel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Michael ·

Die probleem is nie die parool nie dit is die oorvol tronke, die regering bou nie nuwe tronke nie ,die populasie groei en die oortreders word meer en daarom word die paroolstels gebruik om die probleem op te los.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.