Party eis antwoorde oor Denel se geldsake

Die DA eis antwoorde oor die finansiële posisie van die staatsbeheerde wapenvervaardiger Denel.

Volgens vakbonde het Denel se geld opgeraak en is die maatskappy nie in staat om sy verskaffers en nagenoeg 4 000 werknemers hul salarisse vir Desember te betaal nie.

ʼn Noodvergadering met die maatskappy en vakbonde Solidariteit, Uasa en Numsa, het niks opgelewer nie.

Volgens Natasha Mazzone, DA-woordvoerder van openbare ondernemings, is berigte van Denel se finansiële krisis ʼn verdoemende aanklag teen die entiteit se bestuur.

“Denel moet oop kaarte speel en dringend reageer, aangesien die DA verskeie versoeke vir ingryping ontvang het. Dit is duidelik dat die uitvoerende bestuur nie meer vertrou kan word om die dreigende noodgeval op te los nie,” het Mazzone gesê.

“Dit is ook duidelik dat Denel se bestuur heeltemal onbekwaam is om ʼn noodgeval te hanteer. Dit is steurend om te dink dat Denel-werknemers moontlik nie die feesseisoen hul salarisse sal ontvang ná ʼn lang jaar se harde werk en toewyding nie.”

Mazzone het gesê die land se staatsbeheerde entiteite is in ʼn krisis en die blaam moet vierkantig op Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, geplaas word. “Onder haar bestuur het staatsondernemings verbrokkel weens korrupsie en growwe wanbestuur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pieter van Niekerk ·

Nog ‘n onderneming word uitgewis weens staatsinmenging. Dit is wat jy kry as ‘n kommunistiese gesinde staatsorde hulle met demokratiese bestuursvernuf probeer inmeng. Dis twee beginsels wat nie met mekaar versoen kan word nie.

Piet Snot ·

Wonderlik hoe dié menere ‘n oneindig beter handelsituasie het as die vorige bedeling; desnieteenstaande het dit onder die vorige bestuur nooit gebeur nie.
Wonder wat is die verskil?

Grassie ·

As ek reg onthou was die Guptas ook nog onlangs by Denel betrokke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.