Party sal optree as motoriste oor e-tol vervolg word

Een van Dinsdag se vele padblokkades. Foto: AriveAlive / Twitter

Een van Dinsdag se vele padblokkades. Foto: AriveAlive / Twitter

Die VF Plus het Woensdag gesê hy sal ʼn strafregtelike klag teen die minister van vervoer aanhangig maak indien die regering toelaat dat padgebruikers oor e-tol vervolg word.

“Die jongste dreigement van Jamie Surkont, hoofbestuurder van Electronic Toll Collection (ETC), dat motoriste oor e-tol vervolg kan word, is lynreg in stryd met ‘n onderneming wat die minister in Maart in die parlement hieroor gegee het,” het adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer, gesê. “Die minister se presiese woorde was: “…Sanral is not going to use the road to sentence people”. [Sanral gaan nie die pad gebruik om mense te vonnis nie]

“Indien die regering daarom toelaat dat mense vervolg word, sal die VF Plus ‘n strafregtelike klag teen die minister indien vir minagting van die parlement en inmenging in die parlement se gesag,” het Alberts bygevoeg. “Dit sal ook ‘n verbreking van artikel 108 van die Wet op Verbruikersbeskerming wees indien mense wat hul rekeninge by die Verbruikerskommissie ingedien het, wel vervolg word. Dit kom opsigself neer op ‘n misdryf. Die ETC, Surkont, SANRAL se hoof en direksie asook die hoof van die NVG kan daarom strafregtelik vervolg word indien dit gebeur.”

Alberts het gesê dit is egter belangrik dat mense hul rekening by die Verbruikerskommissie moet indien én kla oor die tariewestruktuur wat eskaleer nadat ‘n rekening sewe dae uitstaande is en dat dit onbillik is ingevolge die Wet op Verbruikersbeskerming.

“Indien mense tog in hegtenis geneem word, sal die VF Plus aan hulle bystand verleen,” het Alberts gesê.

Hy sê die VF Plus sal toesien dat ETC, SANRAL en die minister van vervoer hulle streng by die wet hou.

Mense wat meer inligting verlang oor hoe om ‘n klag by die verbruikerskommissie in te dien, kan die VF Plus se webwerf besoek by www.tolhekpetisie.org.za.

Maroela Media het Dinsdag berig dat die departement van gemeenskapsveiligheid ontken het dat padblokkades in Gauteng verband hou met e-tol.

“Die Gautengse verkeerspolisie het Dinsdag in verskillende dele van die provinsie gefokus op voertuie en bestuurdersfiksheid,” het Thapelo Moiloa, woordvoerder vir die departement, gesê. “Hierdie bedrywighede moet nie as enigiets anders as wetstoepassing beskou word nie.”

Die Justice Project SA (JPSA) het gesê mense wie se voertuie geen probleme gehad het nie, is by ʼn padblokkade in Atlasweg afgetrek en is glo gevra waarom hulle nie e-tolskyfies het nie. Hulle is glo ook gevra waarom hulle sonder e-tolskyfies van die e-tolpad gebruik maak. Hulle name en identiteitsnommers is glo neergeskryf. “Daar is geen vereiste onder enige wet vir enige persoon om ʼn e-tolskyfie te hê nie,” het Howard Dembovsky, voorsitter van die JPSA, gesê.

Dembovsky het gesê die JPSA is deur die departement gerus gestel dat die aktiwiteit in die noordelike dele van Johannesburg en Pretoria slegs daarop fokus om foutiewe nommerplate, lisensieskywe en ander voertuig- of bestuurdersdefekte te ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Shannon ·

Ek glo dat Doktor Mulder homself nou meer kan toespits op hierdie adhoc siviele sake siende dat hy nou nie meer die druk van die vis en blomme portfolio op sy skouers het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.