Party soek antwoorde oor ‘bedrieglike BTW-eise’

Argieffoto

Die DA het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens daarvan beskuldig dat hy “moontlik met opset” bedrieglike BTW-eise van sowat R100 miljoen oorgesien het wat deur mense na aan die omstrede Gupta-familie ingedien is.

Dit volg ná mediaberigte Sondag dat die SAID na bewering R100 miljoen se bedrieglike BTW-eise ontvang het van mense of ondernemings wat bande met die Guptas het en dat meer as R30 miljoen daarvan uitbetaal is. Volgens die mediaberigte is nege mense in hegtenis geneem in verband met dié kulskema.

“Dit beteken doodeenvoudig dat die SAID se stelsels net nie behoorlik werk nie of dat dit met opset ondermyn word deur iemand binne die SAID,” het Alf Lees, die DA se woordvoerder oor finansies, gesê.

Lees het gesê die DA sal Yunus Carrim, die voorsitter van die parlement se staande komitee oor finansies, versoek om die parlementêre regsdienste te vra om die komitee van raad te voorsien oor die moontlike tekortkominge op die openbaarmakingsbeperkings soos vervat in artikel 6 van die Belastingadministrasiewet.

“Daar moet tog sekerlik vrae gevra word oor hoe die lede en/of direkteur van Shaz Trading die verskeidenheid bates wat in die mediaberig genoem word, wat neerkom op meer as R61,8 miljoen wat deur die Beslagleggingseenheid bevries is, kon bekom het,” het Lees gesê.

Hierdie bates sluit in nege huise in Centurion, horlosies ter waarde van R5,2 miljoen, ʼn plaas en vier ander huise.

Volgens Lees dui hierdie baterykdom daarop dat Shaz Trading so suksesvol moes gewees het dat die maatskappy in staat was om sy lede en direkteure – lede van die Joosab-familie – enorme salarisse, direkteursfooie of dividende te betaal. “Dit blyk nie geloofwaardig te wees nie en die ooglopende vraag hier is of die SAID leefstyloudits gedoen het op al die betrokkenes.”

Lees het gesê dit het die DA “jare lange druk geverg” om te onthul dat die SAID met opset vertragings in die terugbetaling van BTW en ander belasting van relatiewe klein bedrae veroorsaak het “wat klein ondernemings in gevaar gestel en in sommige gevalle uit besigheid laat gaan het”.

“Terwyl die SAID mense se werk in gedrang plaas deur BTW-terugbetalings aan klein ondernemings te laat sloer, blyk dit nou dat die inkomstediens, dalk met opset, die bedrieglike BTW-eise van sowat R100 miljoen aan verdagte welgestelde mense, wat bande met die Guptas het, oorgesien het.

“Dit ly geen twyfel nie dat die SAID se reaksie hierop die standaardreaksie van ‘belastingbetaler-vertroulikheid’ sal wees wanneer ons die kwessie teenoor die minister van finansies, Nhlanhla Nene, opper, maar ons sal ons grondwetlike verantwoordelikheid versuim deur dit na te laat.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eish ·

Kankerbestuur deur kriminele wat nog nie in die hof verskyn het nie?
Buitelandse beleggings?
Eish!
Die staasdienspensioenfonds is hoeka nog n R4b armer nadat n belegging in n oliempy met Nigeriese bande gevou het.
In hierdie helhool belê jy slegs in n donker bodemlose gravitasieput “Blackhole” waaruit niks ooit weer verskyn nie. Slegs n ingryping van Bo kan ons verrotende melaatsheid genees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.