Partye kan beboet word oor plakkate

Foto: isdei.blogspot.com

Foto: isdei.blogspot.com

Politieke partye kan beboet word indien verkiesingsplakkate nie voor die sperdatum, wat die onderskeie munisipaliteite verskaf het, verwyder word nie.

Alle verkiesingsplakkate in Pretoria moet teen Saterdag verwyder word, het die City of Tshwane Dinsdag gesê. “Alle partye moet seker maak dat die plakkate teen 24 Mei verwyder is,” het Blessing Manale, woordvoerder vir die stad, gesê. “Indien die plakkate nie verwyder is nie, sal hulle ʼn skriftelike finale waarskuwing van sewe dae ontvang.”

Die City of Tshwane sal politieke partye met R500 per plakkaat beboet indien hy die plakkaat namens die party moet verwyder.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het gesê die verwydering van plakkate word deur die munisipale wette gereguleer. “Die OVK is glad nie betrokke nie,” het Kate Bapela, woordvoerder van die OVK, gesê.

Die stad Kaapstad het gesê politieke partye het 10 dae om verkiesingsplakkate te verwyder. “Volgens standaard verkiesingswette het partye tot verlede Saterdag gehad om die plakkate te verwyder,” het Priya Reddy, woordvoerder vir die stad Kaapstad, gesê. “Ons het egter besluit om die partye ʼn paar ekstra dae te gun voordat ons kontrakteurs begin om die plakkate te verwyder.”

Reddy sê plakkate sal van Donderdag 22 Mei verwyder word. Partye sal met R88.40 per plakkaat in Kaapstad beboet word, of R126.90 per plakkaat wat opgeplak is.

Die stad Johannesburg sê hy het reeds met verskeie politieke partye vergader oor die plakkate. “Die boete vir ʼn onwettige plakkaat is R1 000 elk,” het ʼn woordvoerder gesê. “Volgens die munisipale wette is daar ʼn vergunningsperiode van sewe dae om alle verkiesingsplakkate te verwyder.” Die stad het egter nog nie ʼn finale sperdatum bekend gemaak nie.

Die eThekwini-raad in Durban het partye drie maande lank gegun om die plakkate te verwyder. Daarna sal die munisipaliteit die plakkate verwyder en die party met R50 per plakkaat beboet, het woordvoerder Tozi Mthethwa gesê. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.