Partye kap sommige ‘irrasionele besluite’ om virus te stuit

(Argieffoto: Nokuthula Mbatha/ANA)

Pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging oor verskerpte regulasies om die tweede vlaag van Covid-19 te stuit, het dit duidelik gemaak dat die land se gesondheidskapasiteit nog nie naastenby so sterk en ontwikkel is as was dit moet wees nie – en dít ten spyte van wat Ramaphosa nege maande gelede onderneem het.

John Steenhuisen, leier van die DA, Maandagaand in reaksie op die verskerpte regulasies gesê daar is boonop nog geen duidelike plan om ʼn entstof beskikbaar te stel nie. Hy het gesê Suid-Afrika benodig nie ʼn entstofverkrygingstaakspan nie, maar ʼn datum vir wanneer ʼn entstof vir Suid-Afrikaners beskikbaar gaan wees.

Steenhuisen sê Suid-Afrikaners moet hulself afvra wat die land ná byna ʼn jaar in afsondering bereik het en dat die gesondheidsorgstelsel, ten spyte van beloftes om dit te verskerp en voor te berei op ʼn skielike styging in infeksies, steeds steier.

“Amper ʼn jaar later, nadat dit ons ekonomie verwoes het, byna die helfte van klein ondernemings in die land in die slag laat bly het en miljoene in armoede gedompel het, is Suid-Afrika glad nie beter daaraan toe om die pandemie te hanteer as ʼn jaar gelede nie. Daar is geen omvattende openbare gesondheidsreaksie nie en ons vervalle stelsel knak onder die druk van Covid-19.

Die DA-leier John Steenhuisen. (Foto: Courtney Africa/ANA)

“Suid-Afrika se gesondheidstelsel het onder die pandemie ineengestort weens die ANC se gewetelose diefstal, dekades lank van geld wat hospitale moes bou, verpleegsters oplei en na ons land omsien in die geval van ʼn nasionale ramp,” het Steenhuisen gesê.

Hy sê nege maande ná Ramaphosa se belofte om die gesondheidstelsel te versterk, word Suid-Afrikaners steeds aangesê wat hulle mag doen en waarheen hulle mag gaan en wanneer.

“Dit is die langtermynprys wat ons betaal vir die ANC se verwoesting van die openbare gesondheidstelsel.”

Steenhuisen sê ook die DA steun nie Ramaphosa se aankondiging dat sekere strande en openbare parke vir die feestyd gesluit sal wees nie.

“Die aankondiging druis in teen die wetenskaplike advies en aanbevelings deur mediese kenners soos dr. Angelique Coetzee [nasionale voorsitter van die Suid-Afrika Mediese Vereniging] en prof. Salim Abdool Karim [aansteeklike siekte- kenner] en gaan onmoontlik wees om af te dwing.”

Steenhuisen sê die beperking is irrasioneel en voorspel ʼn ramp vir die gasvryheid- en toerismebedryf. “Dit gaan uiteindelik ʼn doodskoot wees vir kusekonomieë en gaan selfs meer ekonomiese onrus in kusgemeenskappe veroorsaak.”

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het ook gesê duisende gewone gesinne wat in klein getalle strand toe sou gaan se vakansies is nou ontwrig, terwyl groot strandsaamtrekke die risiko is.

“Die strandregulasies kon slimmer gedoen word en minder mense en toerismeondernemings kon ontwrig word.

“Die kurwe tel wel op en moet met erns hanteer word. Ons doen ʼn beroep op almal in Suid-Afrika om self verantwoordelikheid te neem om veilig en gesond te leef,” het Buys gesê.

“Ons moet egter nie ophou leef nie. Ons moet leer om saam met die virus gesond te leef.”

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het ook die sluiting van strande in die Oos-Kaap en die Tuinroete as irrasioneel bestempel.

“Soos in KwaZulu-Natal kon dit net op sekere tradisioneel besige dae gesluit word. Die aankondiging gaan ook groot ontwrigting vir baie vakansiegangers veroorsaak. Die verbod van alkohol op strande word wel verwelkom en is ʼn rasionele besluit.”

Dr. Pieter Groenewald. (Foto: VF Plus)

Groenewald sê voorts die ANC-regering volg nou die inperkingsmodel wat die VF Plus voorstaan om die verspreiding van die virus, asook ekonomiese skade te beperk. Hy sê egter miljoene mense het reeds hul vakansiereëlings getref en die aankondiging kon vroeër gedoen word.

“Die VF Plus se siening oor Covid-19 was deurentyd dat ʼn gedifferensieerde benadering tot inperking gevolg moet word, dat die nodige gesondheidsprotokolle streng toegepas moet word en dat ʼn volstrekte grendelstaat onnodig is. Die ANC-regering se totale inperkingsmodel het onnodige skade aan die ekonomie aangerig wat groot werksverlies tot gevolg gehad het.”

Steenhuisen sê ook Suid-Afrikaners het in Maart, toe die afsonderingstydperk aanvanklik ingestel is, ʼn ooreenkoms met Ramaphosa en die regering aangegaan om die pandemie saam te beveg, maar dat die president nie sy kant daarvan nagekom het nie.

“Ons het die regering ʼn kans gegee, maar ons vertroue is geskend. Dit gaan moeilik wees om die virus daarsonder te beheer.”

Deel van: SA-nuus

Koronanuusbrief

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Teken in op die nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

24 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anton

Sal maar sien of hulle die EFF van die strande af kan hou. Ongelukkig het Brackenfell nie ‘n strand nie ????

Phillip

Maar daar was mos gese hulle is reg vir die cov en als is in plek nou val als vrot lekker in die piesang rubblikiek

Jaco

Die DA is laaste om te kla: oral in die Wes-Kaap, waar hulle meestal in beheer is, het hulle die afskiet van vuurwerke op oujaarsaand verbied. Dis iets wat jare lank ‘n tradisie was, totdat die DA dit gestop het. So dis mos maar ook ‘n geval van vir mense voorsê en dikteer wat hulle moet doen.

Michael

Nou wonder ek, gaan die kommuniste die winkelsentrums ook sluit, want die miljoene gaan nou daarbinne saamdrom op die dae. Hierdie gaan alles oor mag en beheer en geensins om die veiligheid van mense nie. Daar is talle ander dinge wat menselewens bedreig-dis die aard van die lewe-waarom is daar nie bevelsrade om die bevolking teen dit te beskerm nie? Wanneer gaan die sheepel wakker word en verstaan dis ‘n wereldwye poging om mense te beheer? Die statistieke en wetenskaplike feite is beskikbaar dat hierdie geen pandemie is nie-selfs die WGO en die CDC in VSA se statisteike bewys dit.… Lees meer »

annie

Die mense wat by die reèls probeer hou het is diegene wat dit steeds moet doen om te maak of SA ‘n voorbeeldige bevolking (family) is… alles vir die show vir die wèreld en WGO. Die res doen nog altyd net wat hulle wil en sorg dat hulle kry wat hulle wil hè. As hulle in massas opruk, keer niemand nie, moet net nie ‘n mandjie pak vir die gesin en iewers alleen langs die see wil gaan ontspan nie…