Partye kap terug oor Tembisa-tienling

Die 37-jarige Gosiame Thamara Sithole van Tembisa. Langs haar sit haar man, Tobogo Tsosetsi. (Foto: Thobile Mathonsi/African News Agency/IOL)

Die Gautengse regering het gesê hy gaan regstappe doen teen Independent Media wat beweer het dat die Tembisa-tienling wel gebore is en nou kwansuis die moontlike slagoffers van ’n mensehandelsindikaat in Gauteng is.

Dr. Iqbal Survé, uitvoerende hoof van Independent Media, het Woensdag tydens ’n mediakonferensie vele bevindings ná afloop van ʼn maande lange “onafhanklike ondersoek” bekendgemaak.

Independent Media besit Pretoria News, wat aanvanklik die storie van die tienling gebreek en later vir skenkings gevra het.

Met die groep se bevindings beskuldig hulle onder meer hooggeplaastes in die regering, mediese personeel, polisiebeamptes, sakepersone en maatskaplike werkers van toesmeerdery wat met mediese nalatigheid en mensehandel verband hou.

Vuyo Mhaga, woordvoerder van die Gautengse premier, David Makhura, sê die Gautengse regering veroordeel die bewerings van die mediagroep en het daarom besluit om tot regsaksie oor te gaan.

“Die provinsiale regering het die staatsprokureur opdrag gegee om tot regstappe teen die Independent Media-groep oor te gaan. ’n Senior advokaat is oor die saak ingelig en hofstukke sal op die mediagroep bedien word,” sê Mhaga.

“Die regering is verplig om die integriteit van alle regeringsamptenare en amptenare in openbare instellings te beskerm.”

Die Tembisa 10 is glo in Junie vanjaar gebore en is uit verskeie oorde, onder andere deur die regering, as fopnuus bestempel. Maroela Media het vroeër berig dit is nadat nie ʼn enkele foto van die babas opgespoor kon word en niemand hulle skynbaar met ʼn oog gesien het nie. Foto’s van ʼn oënskynlik hoogswanger Gosiame Thamara Sithole (37) het wel op die voorblad gepryk.

Die leidende dokter wat Sithole regdeur haar swangerskap behandel het, is glo ʼn Nigeriese man wat onder twee name praktiseer – onder meer by die Netcare Sunninghill private hospitaal in Johannesburg, waar Sithole glo vele besoeke afgelê het.

Die Netcare Sunninghill-hospitaal het Woensdag in ’n verklaring bevestig dat daar nog nooit ’n pasiënt met meer as agt babas in dié hospitaal behandeling ontvang het nie.

Volgens Jacques du Plessis, besturende direkteur van Netcare se hospitaalafdeling, het die bestuur hospitaalrekords gekontroleer en met al die onafhanklike ginekoloë en verloskundiges wat by die fasiliteit praktiseer, geraadpleeg.

“Dit is bevind dat nie een van hul praktyke ’n pasiënt behandel of ’n skandering gedoen het wat ’n meervoudige swangerskap van agt of meer babas gehad het nie,” het Du Plessis gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pietertjie

Dis darem interessant hoe leuens ‘n lewe van hulle eie kan ontwikkel, en hoe die waarheid sukkel om te oorleef.

Chris dupreez

Word die egpaar geld betaal vir hierdie snert. ?

Desiré

Baie interessant, darem gee hulle ons iets om oor te lag!!

JohanR

Enige iemand kan sien onder daai rok sit ‘n plastiek oefenbal.

SjN

Wonder waar is die klomp wat die snert geglo het en die ander gekruisig het, hul is nou stil.