Partye kry stry oor kragvoorsiening

Kenia se sonkragplaas (Foto: Africa Energy Portal (AEP) via ANA)

Botsings in die parlementêre portefeuljekomitee oor energie het Dinsdag getoon dat die stryd oor die verskaffing van elektrisiteit aan huishoudelike kragverbruikers deur onafhanklike elektrisiteitsvoorsieners lank en bitter kan wees.

Pres. Cyril Ramaphosa het in vanjaar se staatsrede aangedui dat verligting op die Eskom-stelsel onder meer bereik kan word deur plaaslike owerhede toe te laat om elektrisiteit vir huishoudings by onafhanklike kragvoorsieners te koop.

Die vraag voor die LP’s was hoe dit moet gebeur, en twee wetsontwerpe daaroor is voorgestel.

Eerstens het DA-LP Kevin Mileham die nuwe Wetsontwerp op Onafhanklike Elektrisiteitsvoorsieningsoperateurs voorgestel.

Daarvolgens sal ʼn nuwe organisasie gestig word waarin die staat asook die private sektor elk vyf lede van die beheerraad kan nomineer, en waar die staat die voorsitter, ondervoorsitter en finansiële hoof kan aanwys om elektrisiteitsvoorsiening deur onafhanklike kragvoorsieners te reguleer.

Gwede Mantashe. Argieffoto: Werner Beukes/SAPA

Diegene van die agt metro’s wat skoon oudits gekry het en oor die finansiële middele beskik, sal dan deur so ʼn liggaam toestemming kan kry om elektrisiteit van buite die Eskom-stelsel aan te koop.

Munisipaliteite in soortgelyke sterk finansiële posisies sal dieselfde kan doen, maar eers nadat die minister van energie (tans Gwede Mantashe) toestemming gegee het.

Waarnemers meen dis onderliggend duidelik dat die DA-voorstel ten doel het om finansieel sterk metro’s (soos Kaapstad) in staat te stel om onafhanklik elektrisiteit te koop sonder dat Mantashe hulle kan terughou, soos die DA beweer tans deur die minister gedoen word. ʼn Hofsaak hieroor word ook eersdaags in die Kaapse hooggeregshof beslis.

Die reaksie van die ANC en EFF was asof ʼn ideologiese slang hulle gepik het, en hul uitgesproke sienings dat die DA besig is om elektrisiteitsvoorsiening op skelm wyse te probeer privatiseer, het getoon dat die versigtig geskrewe wetsontwerp waarskynlik gaan sneuwel.

Die ANC, met ʼn volstrekte meerderheid in die komitee, verkies om die sogenaamde Ismo-wetsontwerp (Wetsontwerp op Onafhanklike Stelsel- en Operateursbestuur) te laat herleef. Die Ismo-wetsontwerp is in 2013 ná ʼn jare lange stryd aan die parlement onttrek omdat die ANC destyds aangevoer het daar is nie regtig ʼn baie sterk moontlikheid dat enigiemand in die afsienbare toekoms genoodsaak sal wees om elektrisiteit buite Eskom te koop nie – Eskom sal wel die mas opkom.

Die Ismo-wetgewing stel ten doel om ʼn volkome staatsbeheerde entiteit daar te stel wat sal besluit wie mag by wie elektrisiteit koop en op watter voorwaardes, binne en buite Eskom.

Die parlement is dus deur die komitee opdrag gegee om so gou doenlik ʼn regsmening te bekom oor hoe die Ismo-wetsontwerp weer kan herleef in die parlementêre proses, en die verslag daaroor word aanstaande week verwag.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan Venter

Eskom en kragvoorsiening word in Suid-Afrika in ‘n groot grot bewaar. Om daarby uit te kom moet die bevolking sê “Open ……. “ (dan volg die geheime woord), waarna die grot ontsluit word, die rots voor die opening rol dan weg en almal kry toegang tot broodnodige lewegewende energie, anders sterf hulle.

Nou staan die volk voor die grot en sê in ‘n koor “Open Sesame!”, maar die rots voor die grot opening se naam is Gwede, hy roer nie!

Jannie van Niekerk

Die ANC moet nou maar ruiterik erken dat hulle oor 26 jaar bewys het dat hulle onbevoeg en onbekwaam is om ‘n land te kan regeer en op finansiële voorspoed te plaas. Hulle wil Eskom nie privatiseer nie omdat hulle bang is dit sal tot werksverliese lei vir hulle onbekwame ANC kaders.
Laat die privaatsekor elektrisiteisvoorsiening oormeem met bekwawe mense dan sal die ekonomie groei en daar sal meer werksgeleenthede wees. Selfs vir onbekwame ANC ondersteuners

Dries

En so begin ‘n nuwe hoofstuk in korrupsie, bedrog en selfverryking, as die ISMO-spektakel in werking gestel word.

Jaco

Tydens die Kaapse waterkrisis het ‘n entrepreneur ‘n redelik goedkoop ontsoutingsplan aan die Kaapse stadsraad voorgelê. Dit sou AL Kaapstad se waterprobleme opgelos het. Die plan is egter ummier afgeskiet, omdat die besigheid met die ontsoutingsplanne nie regstellende aksie en BEE reg toepas nie.
Dieselfde gaan met onafhanklike kragvoorsiening gebeur, want in SA is die “regte” velkleur by omtrent alles die deurslaggewende ding.