Partye nader hof oor OVK-baas se bedanking

Pansy Tlakula. Foto: eNCA

Pansy Tlakula. Foto: eNCA

Die verkiesingshof het Dinsdag tydens ʼn sitting in die Johannesburgse hooggeregshof gehoor dat die OVK se voorsitter, Pansy Tlakula, nie geskik is om in haar amp te dien nie, en dat sy moet bedank.

Die hof het ʼn aansoek van verskeie politieke partye aangehoor dat Tlakula as voorsitter van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) moet bedank, voor die land se verkiesing op 7 Mei. Die partye wat die aansoek ingedien het, is die United Democratic Movement (UDM), die African Christian Democratic Party (ACDP), die Congress of the People (Cope), Agang SA en die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF).

Tlakula was nie in die hof nie. Sy het verlede week ʼn brief aan die hof geskryf waarin sy glo geskryf het sy hoop om nie na die hof geroep te word nie, en dat die OVK nie die verkiesing sonder haar leiding sal kan hanteer nie.

“Tlakula sal nooit van al die aanklagte en bevindinge teen haar ontslae kan raak nie,” het David Unterhalter, die regsverteenwoordiger van die politieke partye, gesê.

Unterhalter het aangevoer dit is belangrik vir die kiesers en die opposisiepartye om vertroue in die OVK te hê en dat die kommissie deur iemand gelei moet word wat ʼn vrye en regverdige verkiesing kan verseker.

“Sy het nie dié waardes nie. Sy het haarself skuldig gemaak aan wangedrag,” het Unterhalter gesê.

Regter Lotter Wepener wou by Unterhalter weet of dit enige uitwerking op 7 Mei sal hê indien die hof ag slaan op die voorstel. Volgens Unterhalter moet die Nasionale Vergadering (NV) dié probleem oplos en dat dit nie by die hof berus om daaroor te besluit nie. Hy het ook gesê die NV sal grondwetlik verplig wees om ʼn plaasvervanger vir Tlakula aan te stel voor die verkiesing.

Wepener het gesê hy sal die aansoek as dringend hanteer.

Ouditeure van PriceWaterhouseCoopers het namens die Nasionale Tesourie ʼn verslag saamgestel oor die aanskaffing van die OVK se kantoor by Riverside-kantoorpark in Centurion, Pretoria. Die verslag het bevind die proses was nie regverdig, deursigtig of koste-doeltreffend nie. Die verslag het ook bevind dat Tlakula verskeie persone nie ingelig het oor wat van hulle verwag word tydens die proses nie.

Tlakula het ná die verslag volgehou dat die verslag haar nie van korrupsie aankla nie.

Thuli Madonsela, die Openbare Beskermer, het in Augustus 2013 ʼn verslag vrygestel waarin sy bevind het dat Tlakula ʼn “onreëlmatige” rol gespeel het om die perseel aan te skaf, waarna die oudit van die Nasionale Tesourie aangevra is. Tlakula het Madonsela se verslag verwerp en gesê dit bevat “feitelike foute”.

Die verhoor duur voort. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.