Partye nié beïndruk met Ramaphosa se ekonomiese plan

Pres. Cyril Ramaphosa Donderdag aan die woord. (Foto: GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa se ekonomiese herstelplan maak nie sin nie, was vol jargon en bloot ’n herhaling van vorige beloftes.

Só meen verskeie politieke partye in reaksie op die plan wat Donderdagmiddag in die parlement ter tafel gelê is.

Volgens die DA het baie van Ramaphosa se planne boonop nie sin gemaak nie en is dit onduidelik hoe daar vir al die planne betaal gaan word.

Maroela Media het vroeër berig Ramaphosa se plan het vier hoofdoelwitte waaronder werkskepping, industrialisering, strukturele ekonomiese hervorming om binnelandse en buitelandse beleggings te lok, die bekamping van misdaad en korrupsie, en die verbetering van die staat se regeringsvermoë in alle regeringsvlakke.

Die DA meen nou die Suid-Afrikaanse regering hoef nie nóg planne te beraam om te verseker dat die land se ekonomie herstel nie, maar dat hervorming betyds toegepas moet word om verdere massawerkloosheid en armoede in die land te vermy.

Geordin Hill-Lewis, die DA se skaduminister van finansies, sê Ramaphosa moet bloot ministers afdank wat in die pad ​​van hervorming staan.

“Elke minister wat verantwoordelik is vir ʼn belangrike hervormingsgebied moet hom verbind tot ʼn tydlyn vir die inwerkingstelling van die hervorming. Indien daar nie aan die tydlyn voldoen word nie, moet hulle verantwoordelik gehou en afgedank word.”

Volgens Hill-Lewis sal die ekonomie nie herstel nie indien daar nie vinnig vordering gemaak word wat hervorming betref nie.

Die VF Plus sê op sy beurt Ramaphosa se ekonomiese herstelplan is bloot ʼn herhaling van vorige beloftes en gegewe die omvang van Suid-Afrika se ekonomiese en fiskale krisis, uiters teleurstellend.

Pres. Cyril Ramaphosa Donderdag aan die woord. (Foto: GCIS)

“Daar is al menige soortgelyke planne in die verlede aangekondig, maar die inwerkingstelling daarvan het nooit geskied nie,” wys dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, daarop.

“Die president en die ANC gaan voort om die verkeerde dinge te doen soos om te volhard met beleid soos Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB), onteiening sonder vergoeding en striemende arbeidswetgewing wat beleggers eerder verdryf as wat dit ekonomiese groei sal bewerkstellig en werk sal skep.

“Die VF Plus sou eerder wou hoor dat arbeidswetgewing verander om beleggers te lok, dat daar weggedoen word met mislukte SEB en dat daar spesiale ekonomiese sones of vryehandelsgebiede geskep word om die ekonomie te stimuleer en werk te skep.”

Volgens Groenewald moet daar ook groter belastingverligting vir sakeondernemings en individue kom. “Die enigste manier om die ekonomie op lang termyn te red is om belasting en tariewe te verlaag, besteebare inkomste te bewerkstellig en Suid-Afrika aanloklik vir beleggers te maak.”

Volgens Groenewald is die 800 000 nuwe werkgeleenthede wat volgens die plan teen 31 Maart aanstaande jaar geskep gaan word, niks anders nie as ʼn verlengstuk van die maatskaplike Covid-19-stimuluspakket aangesien die staat die poste kunsmatig skep en die salarisse betaal gaan word met belastinggeld wat ontbreek.

“Nie een van die nuwe werkgeleenthede wat pres. Ramaphosa voorsien, gaan geskep word weens spontane ekonomiese groei nie. Dit is bloot ʼn verdere uitbreiding van die reeds bestaande en onvolhoubare welsynstaat.”

Die EFF het blykbaar geen vertroue in Ramaphosa se plan vir die ekonomie nie. Die party sê Ramaphosa het daarin misluk om ʼn praktiese en geloofwaardige ekonomiese plan saam te stel. Lede glo die plan skort rigting, visie en politieke moed en is ver verwyder van die werklikheid.

Volgens die EFF mislei Ramaphosa boonop die mense van Suid-Afrika met die R500 miljard-verligtingspakket wat “nooit bestaan het nie”.

“Alles wat Ramaphosa as die prestasies van die ekonomiese en maatskaplike verligting voorgehou het, het geen wetenskaplike grondslag nie. Die feit is dat meer as twee miljoen mense hul werk verloor het en dat die ekonomie in die tweede kwartaal van 2020 met 16,4% ingekrimp het, wat die ekonomie in verdere depressie gedompel het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Werner ·

Enige persoon wat dink hierdie land kan deur hierdie onbevoegde regering deur watter plan ook al gered word,droom van ysblokkies in die hel

Persheks Adri ·

Ja Cyril doen alles vir “our people” jou planne werk nie gaan dink bietjie! Tsek man tsek

Pieter ·

Wat verwag jy van die klomp nare van eff en anc. – Dom planne want hulle het niks.

Adam Adriaan ·

Mondelinge maagwerkings wat gaan uitloop op niks nie!!!!

Johan ·

Julle moet nie vir Rampspoedig teveel kritiseer nie want shame hy dink Sad- Afrika is n MacDonalds.

PH ·

Van finasiële beplanning weet die anc minder as niks.
Dis nie ‘n plan nie, dis ‘n wishlist.
‘n Plan sluit in STAPPE VAN IMPLIMENTERING EN HOE GAAN JY DIE UITVOERING EN SUKSES MONITOR

tweeling ·

Hulle weet ook minder as niks hoe om ‘n land te regeer

JohanR ·

ANC bogger alles op vanaf 26de Maart, en kom dan met ‘n herstel plan. Jy kan sien 2021 is verkiesing jaar……blah blah blah en nog blah blah blahs! #VoertsakANC!

Vernon ·

Net nog n praatjie met beloftes! Daar gaan eerder 800 000 mense wees wat hul werk verloor. Die ou wat hierdie nonsens glo het waarskynlik ook die vorige 50 keer se beloftes geglo…..

Derek ·

Wanneer die ANC met planne na vore kom was die planne altyd gebaseer op miljoene, biljoene rande, maar nooit n konstruktiewe , goed deurdinkte en praktiese uitvoerbare plan. Net soos ND Zuma se nuwe model of die nuwe nommerplate, net n verdere melking van die belasting betaler wie reeds tot sy ore belas is. Die dag wanneer hierdie mense geld miskyk en n plan na vore bring sonder om die belasting betaler verder te melk dan sal SA weer groei, hou godsdiens uit die politiek.

johanf ·

Geen kommentaar meer oor die Regering se Toekomsplanne nie….
En wragtig het sy weer die land se Inperking Status verleng gekry…….

daniel ·

Hulle behoort eerlik te wees en te erken dat hulle nie n land kan regeer nie.

Schalk ·

As hy in enige ander besigheid in beheer was het die deure lankal toegemaak en die ligte is afgeskakel. As hy vir my gewerk het sou ek hom lankal gejaag het en dit geld vir sy adviseurs , mede-ministers en sy party wat dink hulle kan God speel deur rassistiese wette te gebrik tot selfverryking!

Pieter ·

Dis nie n plan om net meer te vat by die wat werk en dan aan die luies te gee nie.

Chris ·

Juis waarvoor ons gestem het, die ANC en EFF gaan ons saamsleep na die hemel op aarde.

Cecilia ·

800 000 werksgeleenthede waarvan 799 999 gevul gaan word met onbevoegde drommels wat net kyk waar hulle geld in hulle eie sakke kan druk. Agter lessenaars sit en nie n idee het v hoe om te werk nie!En wie gaan d 800 000 se salarisse moet betaal? Ons belastingbetalers!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.