Partye reageer op Cosas se ‘waansinnige’ eis oor Afrikaans

(Argieffoto: pixabay)

Die Demokratiese Alliansie (DA) en VF Plus sê hulle verwerp eise van die Congress of South African Students (Cosas) dat Afrikaans geskrap moet word as ʼn opsie om enige eksamenvraestel in af te lê. Volgens dié partye is die eise ongrondwetlik en buitensporig, aangesien dit leerders se reg tot moedertaalonderrig bedreig.

In aparte verklarings sê die partye die studenteorganisasie moet eerder daarop fokus om ander amptelike inheemse tale ook uit te bou sodat alle leerders in Suid-Afrika die voordeel van moedertaalonderrig kan geniet en daarby kan baat.

Cosas het Woensdag antwoorde van die departement van basiese onderwys geëis oor waarom studente nog die opsie het om opdragte en wiskunde-matriekvraestelle in Engels af te lê. Volgens dié studenteorganisasie is dit ’n belediging vir inheemse kinders wat elke vraag of antwoord in hul moedertaal moet vertaal. Hulle eis ook dat Afrikaans onmiddellik as ʼn opsie geskrap moet word om enige vraestel in af te lê. Hulle het minister Angie Motshekga tien dae gegee om op dié eise te antwoord.

Annelie Lotriet, voorsitter van die DA se parlementêre koukus, vra of Cosas dan nou “kêns” geraak het en sê die organisasie weerspreek homself met dié eis. “Dit wys hul ware kleure: Afrikaans en ander inheemse tale is vir hulle niks anders as ’n politieke speelbal om punte te probeer wen nie. Indien Cosas werklik belang gestel het in die bevordering van inheemse tale, sou hulle nie die aanval teen Afrikaans begin het nie,” sê Lotriet.

Die VF stem saam. “Uiteindelik vertoon die verklaring wat Cosas uitgereik het, een van die sentrale swakhede van die onderwysbedeling ná 1994: Pleks dat ander Afrikatale ontwikkel word om by Afrikaans en Engels kers vas te hou, word Afrikaans afgetakel,” sê Wynand Boshoff, woordvoerder van basiese onderwys van die VF Plus.

Boshoff sê moedertaalonderrig was ’n hoeksteen van die gewraakte “Bantoe-onderwys” en sterk weerstand is hierteen gebied omdat ouers Engels as die taal van opwaartse mobiliteit beskou het.

“Die implementering van moedertaalonderrig is uit sekere oorde as ’n vorm van “verdeel en heers” beskou. Dit was deel van die narratief dat “Bantoe-onderwys” bedoel was om swart mense vooruitgang te misgun. So gou as wat Transkei byvoorbeeld in 1963 selfregering verwerf het, is moedertaalonderrig afgeskaf,” sê Boshoff.

Die DA sê hy doen ’n beroep op Motshekga om dié versoek te verwerp. Die party sê hy neem ook kennis van Cosas se dreigement dat hy gaan “optree” as daar nie aan hul waansinnige eise gehoor gegee word nie.

“Ons wil dit aan Cosas duidelik maak dat indien hul sogenaamde ‘optrede’ daarop gemik is om Afrikaanse leerders op enige wyse van hul grondwetlike reg op moedertaalonderrig te ontneem, hy homself lelik teen die DA gaan vasloop,” sê Lotriet.

“In plaas daarvan om energie te vermors op Cosas se ondemokratiese dreigemente, moet minister Motshekga eerder ’n duidelike plan daarstel om moedertaalonderrig dringend in alle Suid-Afrikaanse inheemse tale te bevorder,” sê Lotriet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Persheks Adri ·

Skraap Cosas! Ons het grondwet regte!!!

#Tsek Cosas tsek!!!

Trotse Boervrou ·

Daar is vir my niks mooiers as die Afrikaanse taal nie! “Tsek Cosas…” Uitstekend Persheks!

Jaco ·

Ek verstaan as COSAS se aksie teen Afrikaans eintlik gemik is teen wit Afrikaanssprekende leerders. Blykbaar “moet” alle wit Suid-Afrikaners tot in die miljoenste geslag ná apartheid nog steeds vir apartheid “gestraf” word. Maar wat van Afrikaanssprekende kleurlinge? Hulle was tog slagoffers van apartheid. So waarom moet hulle dan ook “gestraf” word???

JohanR ·

Kan enigeiemand by Cosas tot 10 tel, of self Afrikaans praat of lees? Soos met die ANC, is dit die stupid wat die stupid lei!

Oomniklaassevriend ·

Nee hulle kan niks daarvan doen nie. Dit mag wees dat iemand dalk iemand ken wat een van die dinge kan doen.

Anoniem ·

Van wanneer af kom die DA so op vir Afrikaans? 2020 is interdaad n baie vreemde jaar…
dankie VF Plus julle was darem nog altyd daar en nie so wisselvallig om stemme te werf nie.

Jack ·

Die DA probeer kliphard om Afrikaanssprekendes se steun terug te werf. Sodra dit gebeur sal die DA se nuutgevonde pro-Afrikaans gesindheid verflou.

Hercules ·

omdat daar weer ‘n blanke leier is, sé ek vir ‘n vriend!

Judge ·

Tussentydse leier nogal. Dus die DA se Afrikaanse steun is moontlik van korte duur.

lodewyk ·

Dis wat gebeur as jy niks kan bou nie,jy raak jaloers oor ander se sukkses en jy as n swakeling wil die aandag wegvat van jou muslikings en onbevoegtheid ,dus nou wil iemand wat dalk nie eers matriek geslaag het nie hulle stem duk maak -stel voor hulle begin eerder werk aan die toekoms en nie dit verder afbreuk nie -Klomp groot bekke en lafhaards -En wat se aksie wil hulle vat?? -Hulle speel met vuur,ek het kinders in die skool,raak aan hulle of hulle skool en julle gaan die Afrikaner se lellike kant sien!!

akkedismis ·

COSAS en hul.VRIENDE wil alles wat KOLONIAAL is VERNIETIG. Julle MOED dus van ENGELS ONTSLAE raak en nie AFRIKAANS wat in RSA sy OORSPRONG het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.