Partyleier kort voor verkiesing geskors

Argieffoto

Een van die land se kleiner politieke partye, die African Congress of Democrats (ACD), het groot drama slegs nege dae voor die verkiesing beleef toe ʼn paleisrewolusie uitgevoer is.

Tot verlede week was Reggy Lebakeng van Bloemfontein een van die min nasionale leiers van ʼn politieke party om in die Vrystaat te woon. Nou woon hy steeds in Bloemfontein, maar hy is nie meer die nasionale leier van ʼn politieke party nie.

Die ACD het hom as leier geskors oor ʼn verskeidenheid redes, soos dat hy uit eie beweging ʼn foto van homself aan die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) gestuur het om op die stembrief langs die ACD se logo gebruik te word.

Boonop het die party hom skuldig bevind aan die “kwaadwillige naamskending” van die party, dat hy nie partybeleid eerbiedig nie, oneerlikheid, pligsversuim as partyleier, meineed en diefstal.

Ná al die bevindings was dit geen verrassing nie dat Lebakeng van sy pligte as partyleier onthef is, en die aankondiging dat die valbyl op sy politieke loopbaan – in elk geval in die ACD – neergekom het, is deur die party se nasionale woordvoerder, Simon Rakgatla, gedoen.

Lebakeng se verweer dat hy heel onskuldig is, is deur die partyleiding verwerp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.