‘Partypolitiek belemmer regsprosesse’ – MRK

Adjunkhoofregter Raymond Zondo. Foto: Itumeleng English/African News Agency (ANA)

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) is bekommerd oor onlangse neerhalende uitlatings wat senior politici in die openbaar oor die Grondwet, die regbank en regsprosesse gemaak het.

Die kommissie het veral verwys na ’n gelekte klankopname wat aan die lig gekom waarin die Zondo-kommissie, die voorsitter van dié kommissie, adjunkhoofregter Raymond Zondo, én die aksie teen die voormalige president van Suid-Afrika, Jacob Zuma, deur senior politieke figure gekritiseer word. Die gesag van die howe word ook bevraagteken.

“Die vermoë van die regbank om onafhanklik te werk en toe te sien dat alle regsaksies vry en sonder vrees of vooroordeel moet kan voortgaan, is noodsaaklik vir die funksionering van die land se grondwetlike demokratiese bedeling,” het die kommissie Donderdag in ʼn verklaring gesê.

Die MRK het die vordering wat die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping gemaak het, verwelkom en ’n beroep op politieke partye en die Suid-Afrikaanse regering gedoen om te verseker dat onafhanklike regsprosesse nie deur partypolitiek belemmer moet word nie.

Die MRK sê voorts dat die getuienis wat voor die Zondo-kommissie gelewer is, skokkend is en die ware impak van wydverspreide korrupsie in die regering openbaar.

“Die Zondo-kommissie het die potensiaal om die Nasionale Vervolgingsgesag te ondersteun om individue en entiteite in die privaatsektor, die regering en op ander terreine tot verantwoording te roep. Dít is noodsaaklik sodat diegene wat vir korrupsie verantwoordelik is verantwoordbaar gehou word en om ander wat dié soort dade in die toekoms oorweeg hopelik af te skrik.”

Die MRK sê verder dat hy vir die volgende vyf jaar op die impak van korrupsie op menseregte gaan fokus.

“Korrupsie belemmer ontwikkeling, die verligting van armoede, die vestiging van ekonomiese gelykheid en die lewering van sosio-ekonomiese regte en dienste aan almal in Suid-Afrika,” sê Gushwell Brooks, kommunikasiekoördineerder van die MRK.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Vrijburger ·

Die MRK met hul rasse-partydigheid is deel van die probleem, nie deel van die oplossing nie.

Pietertjie ·

En dit het hulle 25 jaar gevat om agter te kom wat die impak van korrupsie is. Dit gaan hulle seker nóg 25 jaar vat om agter te kom dat hulle eintlik besig is om rassisme te beskerm en aan te blaas.

Ian ·

Baie pratery en geen aksie nie. Die MRK hulself is ook ooglopend deel van die probleem.

Dup ·

Die land is besig om om teen ñ afgrond af te stort en die blanke bevolking gaan die grootste slagoffers wees.

jzjz05 ·

MRK is julle nie n bietjie laat nie?. Kom julle nou eers agter dat die land in die grond geregeer is deur die ANC en julle eindelik groot bygedrae het dat dit gebeur het. AS julle nou iets wil doen begin by al die diskrimineerende en rassitise wette wat regte van die witras ontneem, WYS ONS JULLE IS ERENSTIG OM IETS VIR SA TE DOEN.EN NIE NET LIPPETAAL IS NIE.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.