‘Partytjie-dwelm’ dalk oorsaak van drie se dood in Pta-huis

Die trappe waar Kleynhans en Pretorius gevind is. (Foto: Verskaf)

Die drie kollegas, wie se liggame vroeër vanjaar in ʼn huis in Menlopark in die ooste van Pretoria aangetref is, is waarskynlik aan ʼn oordosis van die sogenaamde partytjie-dwelm gamma-hidroksibutiraat (GHB) oorlede. ʼn Nadoodse ondersoek het tekens van dié middel in die oorledenes se liggaamstelsels gevind.

Maroela Media het vroeër berig dat daar talle vrae rakende die oorsaak van Theo Kleynhans (60), Chariska Kloppers (30) en Mario Pretorius (23) se dood heers. Die drie is in April in Kleynhans se sogenaamde partytjiehuis dood.

Pretorius se stiefpa, Colin Forbes, het die private ondersoeker Mike Bolhuis aangestel om die verloop van gebeure op dié dag uit te pluis.

Callie de Kock, ʼn private ondersoeker vir Bolhuis, het Donderdag aan Maroela Media gesê die polisie het bevestig dat drank en GHB in die drie se liggaamstelsels gevind is. GHB is ʼn reuklose middel wat in vloeibare vorm voorkom en dit is vermoedelik met drank gemeng en só ingeneem.

“Die dwelm gee ʼn mens glo ʼn euforiese gevoel, maar indien ʼn milliliter te veel daarvan ingeneem word, kan dit dodelik wees. Dit word ook as ʼn verkragtingsmiddel gebruik aangesien dit binne minute intree en gebruikers met tydelike geheueverlies laat.”

Volgens De Kock het Pretorius bloed in sy longe en bloeding op die brein gehad. Sy bloedalkoholvlak was ook 0,12 mg/100 ml. Die wettige perk in Suid-Afrika is 0,05 mg/100 ml.

Nóg ʼn kollega was by die huispartytjie betrokke en is lewend in die huis aangetref. Sy is later uit die hospitaal ontslaan en die polisie wag nog op haar toksikologieverslag om te bepaal waaraan sy byna oorlede is.

Die laaste ding wat dié kollega onthou, is dat sy iets soos whiskey gedrink het en badkamer toe was. Sy het later weer ʼn sluk van haar drankie geneem en in die hospitaal wakker geword.

“Daar is steeds nie iets pluis met die tydverloop van gebeure nie. Die kollegas was glo vroeër die aand by ʼn restaurant en het daarna na Kleynhans se huis toe gegaan. Hul liggame is die volgende oggend deur ʼn werknemer van Kleynhans se huishouding gevind. Die twee vroue is saam aangetref terwyl Kleynhans en Pretorius by die trappe gelê het.

“Meer as twee uur het egter verbygegaan voordat nooddienste na die toneel ontbied is en die glase en asbakkies was skoon,” het De Kock gesê.

Die huis was ook vol kringtelevisiekameras, maar opnames kon nie gevind word nie omdat dit glo nie verbind was nie.

“Ander dwelmmiddels is op die eerste verdieping in Kleynhans se kantoor opgespoor, maar dit blyk dat dit nie verband hou met die drie se dood nie.”

Niemand is in verband met hul afsterwe in hegtenis geneem nie en vuilspel word nie vermoed nie. Die polisie ondersoek steeds die saak, het kapt. Kay Makhubele, woordvoerder van die polisie, aan Maroela Media gesê.

Volgens Bolhuis het hy ook ʼn intensiewe ondersoek gedoen en die moontlikheid van vuilspel uitgeskakel.

“Daar was nie ander partye die aand betrokke buiten die vier kollegas nie. Dit is moeilik om te bepaal of almal wat in die huis was daardie aand die dwelms met opset geneem het, maar dit lyk asof niemand gedwing is om dit in te neem nie.”

Bolhuis het van die begin af vermoed dat dwelms by die partytjie betrokke was. Die vraag is egter wie hierdie dwelms aan hulle voorsien het.

“Dit is kommerwekkend dat hierdie en ander dwelms so maklik bekombaar is. Daarom doen ons ʼn beroep op lede van die publiek om alle dwelmverwante gevalle by die polisie aan te meld.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Elmarie ·

Die oorlewende persoon moet tog meer inligting kan gee oor wat gebeur het voordat sy die drankie gedrink het. Soos bevoorbeeld wie het die drankies geskink en aan gedra., was sy bewus dat daar dwelms in haar drankie was?Waar was sy voordat sy uit gepass het en wie was almal saam met haar op daardie plek?

Elmarie ·

Het geen begeerte om vir hom te werk nie. Sal nie my mening oor hom hardop uiter nie

Zombie ·

Dit hang seker ook af van hoeveel alkohol die persoon vooraf geneem het. Alkoholinname kan ook geheue aantas.

Linx ·

Klink asof d skoonmaker gewoond was aan hierie tipe partytjies,sy/hy het hul plek geken,ds hoekom alle asbakkies&glase skoon gemaak is en eers 2 ure later d storie aangemeld het,d skoonmaker moet maar d plek inneem vir medepligtige,defeating the ends of justice ook nog

modiglianigirl ·

Ek stem saam met die spekulasie. Die skoonmaker was duidelik nie bewus daarvan dat die gaste en gasheer dood is nie. Sy het seker vermoed dat hulle ‘ouder gewoonte’ onkapabel is.

VaalDonkie ·

In die ou dae het ons net brannewyn gedrink en baklei. Dit was beter dae gewees.

Henri ·

3 mense is dood. Een het by die dood omgedraai. En vuilspel word uitgeskakel? Klink na ‘n spel met onheilspellende reëls.

Linx ·

“niemand was gedwing om die dwelms te vat nie”…weet nie hoe dit vasgestel is nie,maar ja ds seker d rede hoekom vuilspel uitgeskakel is

Onnie ·

As iemand sonder jou mede wete n dwelmmiddel in jou drankie gooi, dan is dit net so goed jy word gedwing om dit te neem – dit is beslis nie uit vrye wil nie. Die feit dat die toneel semi-opgeruim was, is net soos om te peuter met bewyse of misdaadtoneel – wat n kriminele oortreding is. Hier is ‘n paar tekens van vuilspel, dink Die polisie en Mike moet maar CSI gaan kyk. Lol.

Grens ·

CSI is fiksie met oulike televisie, die werklikheid is anders.

Peach ·

Mense is so geneig om afleidings te maak….. in my kultuur is daar ‘n gesêgde, “never speak ill of the dead”. Het hierdie tragedie op tv gesien en, volgens die moeder van Clariska Kloppers, die oorlede dame was sy ‘n toegewyde mamma vir haar twee kleuter kinders en, geensins ‘n “party mens”, wat mens laat wonder wat regtig skeef geloop het.

Anoniem ·

Hoe gril ek nou. Regtig………………………. Vandag se mense het darem ‘n wan indruk van die woord partytjie. Partytjie het tog groot pret en kuier in vervloë dae beteken. Die lewe het darem baie verander.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.