Partytjiegangers kniehalter brandbestryders

Argieffoto: drive-awayspecialist.com

Brandbestryders in Vosloorus, suid van Boksburg, is op Nuwejaarsdag glo deur jolytmakers verhoed om by ʼn brandende huis in die gebied uit te kom.

Die Ekurhuleni Rampbestuur en Nooddienste het Dinsdag in ʼn verklaring gesê brandbestryders was op pad na die brandende huis toe hulle weg op ʼn pad in die Mailula-gedeelte versper is deur twee voertuie wat gebots het.

“Die eienaars van die twee voertuie, ondersteun deur ʼn hele aantal partytjiegangers, het die brandweerwa voorgekeer, die brandbestryders gedreig en selfs die brandweerwa se sleutels afgeneem om te verhoed dat die brandbestryders by hul bestemming uitkom,” lui die verklaring. “Lede van die publiek het op die brandweerwa gedans en selfs foto’s op die voertuig geneem, wat heeltemal onaanvaarbaar is.”

Luidens die verklaring is dienslewering met vyf uur vertraag weens die voorval.

In nog ʼn onverwante voorval is ʼn brandbestryder van die Palm Ridge-brandweerstasie in Ramokonopi in Katlehong-Wes aangerand toe hy gereageer het op ʼn huisbrand waarin ʼn vrou erge brandwonde opgedoen en later gesterf het. Luidens die verklaring is ʼn aanrandingsaak by die polisie aanhangig gemaak en die brandbestryder is op siekverlof.

Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie en word deur die polisie ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Mich ·

Ek is van mening alle opsetlike brandstigting moet beskou word as poging tot moord. En dit sluit in dié wat die nooddienste daarvan weerhou om hul pligte uit te voer.

Jan van Riebeeck ·

Dis nie meer lank dan is ons terug in die tyd vóór ek hier aangeland het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.