Parys-boere: Dokter gekap oor teenstrydighede

Die beskuldigdes in die hof. Foto: Mariné Lourens

Die tydsraamwerk waarin Samuel Tjixa en Simon Jubeba die aand van 6 Januarie 2016 in die staatshospitaal in Parys behandel is, was Dinsdag ʼn hewige twispunt tydens die moordverhoor van die sogenaamde Parys-boere.

Die staat beweer Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, kapt. Henk Prinsloo, Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen en Miela Janse van Vuuren was deel van ʼn groep boere in die gemeenskap wat op 6 Januarie 2016 vir Tjixa en Jubeba op die plaas Swartklip aangekeer en so erg aangerand het dat hulle later in die hospitaal aan hul beserings beswyk het. Die verdediging beweer Tjixa en Jubeba het vir Loedie van der Westhuizen sr., Boeta se pa, op sy plaas aangeval en was aan’t vlug toe hulle aangekeer is.

Adv. Nico Dreyer vir die verdediging het Dinsdagmiddag vir dr. Sifiso Nxumalo kruisondervra. Nxumalo was die aand van 6 Januarie 2016 aan diens toe Tjixa en Jubeba na die Parys-hospitaal gebring is. Nxumalo het vroeër getuig hy is net ná 22:00 na die ongevalle-afdeling ontbied toe die twee mans ingebring is.

Volgens Nxumalo het hy Jubeba eerste behandel en was hy tot ongeveer 23:35 met hom besig. In hierdie tyd het hy telefonies met ʼn dokter van die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein, dr. Werner van Tonder, geskakel om te versoek dat Jubeba na Bloemfontein oorgeplaas word. Die oorplasing is goedgekeur en Nxumalo het solank vir Tjixa behandel terwyl daar gewag is op ʼn ambulans om Jubeba te kom haal.

Volgens Nxumalo was hy tussen 25 en 30 minute met Tjixa besig. Tjixa is daarna na ʼn saal oorgeplaas met die bedoeling dat hy deur die nag gemonitor sal word sodat x-strale van sy kop en bors in die oggend geneem kon word.

Dreyer het Nxumalo Dinsdag gevra hoe dit moontlik is dat Van Tonder beweer hy het om 21:00 ʼn oproep van ʼn dokter in Parys gekry om te versoek dat ʼn pasiënt (Jubeba) na Pelonomi oorgeplaas word as Nxumalo die twee mans eers ná 22:00 die eerste keer gesien het. Dreyer het ook na Nxumalo se polisieverklaring verwys waarin hy aandui dat hy omstreeks 20:00 die twee mans behandel het.

Nxumalo het volgehou hy het die mans eers om 22:15 die eerste keer gesien en gesê daar is moontlik ʼn fout in die polisieverklaring gemaak. Oor Van Tonder se getuienis dat die oorplasing reeds om 21:00 versoek is, kon Nxumalo nie ʼn verklaring gee nie.

Nxumalo se getuienis oor die tyd wanneer hy die pasiënte gesien het, is verder betwis toe Dreyer aangevoer het dat die paramedikus wat Jubeba by die hospitaal in Parys kom haal het, getuig het hy het om 22:45 by die hospitaal aangekom en toe “was die dokter nêrens te vinde nie”. Volgens Nxumalo se getuienis moes hy om 22:45 steeds besig gewees het om Jubeba te behandel. Nxumalo kon ook nie hierdie teenstrydigheid verklaar nie.

Oorplasing van pasiënt

Nxumalo het verder kleigetrap toe hy oor die Glasgow-komaskaal uitgevra is. Die Glasgow-komaskaal word gebruik om die bewustheidstoestand van ʼn pasiënt aan die hand van spesifieke aspekte te bepaal, waaronder reaksie van die oë, verbale reaksie en motoriese reaksie. Nxumalo het vroeër getuig Jubeba se telling op die Glasgow-komaskaal was 3/15, terwyl Tjixa se telling 14/15 was.

Dreyer het Nxumalo gepols oor sy bepaling van hierdie tellings en wou weet hoe hy hierdie aspekte van die pasiënte beoordeel en watter vrae hy hulle sal vra om hul verbale reaksie te toets.

Dreyer het Nxumalo toe gevra hoekom Van Tonder getuig het dat die dokter van die Parys-hospitaal vir hom gesê het die pasiënt wat oorgeplaas moet word se telling op die Glasgow-komaskaal is 6/15, terwyl Nxumalo getuig het Jubeba se telling was 3/15. Volgens Van Tonder se getuienis sou hy nie die oorplasing van ʼn pasiënt van 3/15 op die Glasgow-komaskaal goedgekeur het nie, aangesien só ʼn pasiënt “basies breindood” is.

Nxumalo het ontken dat hy aan Van Tonder gesê het die pasiënt se telling is 6/15 en het aangevoer Van Tonder moes dalk verkeerd gehoor het.

Dreyer het ook Nxumalo met vrae gepeper oor die urienkateter wat Jubeba moes ontvang voordat hy na die hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas kon word. Nxumalo het gesê dit is noodsaaklik dat ʼn pasiënt ʼn urienkateter kry voordat hy in ʼn ambulans vervoer word, maar hy het gesê die verpleegsters by die hospitaal sal gewoonlik die kateter vir die pasiënt insit.

Op ʼn vraag van Dreyer of dit nie die dokter aan diens se verantwoordelikheid is om toe te sien dat die kateter wel ingesit word nie, het Nxumalo gesê hy kan nie ʼn reguit antwoord hierop gee nie.

Dreyer het toe gesê die paramedikus wat Jubeba vervoer het, het getuig met sy aankoms by die hospitaal het die pasiënt se drup nie gewerk nie en het hy ook nie ʼn urienkateter ingehad nie. Volgens die paramedikus moes hy self die kateter insit voordat hy die pasiënt kon vervoer. Hy het ook beweer dat die suster aan diens vir hom gesê het sy weet nie waar die dokter is nie.

Nxumalo het gesê indien daar enige probleme was of die paramedikus wou met hom praat voor hy by die hospitaal vertrek, moes die verpleegpersoneel hom net gebel en gesê het om terug te kom na die ongevalle-afdeling. Hy het genoem dat hy die enigste dokter aan diens is by die hospitaal en hy moet na alle pasiënte by ongevalle, in die kraamsaal en in die ander sale omsien en daarom kan hy nie heeltyd by ongevalle wees nie.

Op ʼn vraag van Dreyer of hy onmiddellik sou gereageer het indien die verpleegpersoneel hom gebel het, het Nxumalo gesê hy reageer altyd. Dreyer het toe aan hom uitgewys dat toe verpleegpersoneel hom om 04:00 gebel en gevra het om na Tjixa te kom kyk waar hy in ʼn saal opgeneem was, het Nxumalo eers om 06:00 by die saal opgedaag. Tjixa is toe dood verklaar.

Nxumalo se kruisondervraging sal Woensdag voortgesit word.

Lees alle vorige berigte oor die Parys-boere op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Eish ·

Seker Kuba. Hy weet nie of dit Maandag of Dingaansdag is nie.

PJC ·

Daar word tog te lekker gelieg om die wittes se saak te benadeel. Dit gebeur gereeld in howe en word dikwels sonder aarseling aanvaar en dan daarvolgens straf uitgedeel. Wat ń klug het sommige van die howe nie geword nie.

Pieter ·

As kleur in die prentjie kom, is die uislag voorspelbaar. Ek verloor vertroue in ons howe.

snoefie ·

ek vra weer hoe is hierdie saak anders as die saak van 20 swartes wat Pierre de Necker doodgeskop het? sapd was op die toneel maar niks gedoen nie. die moordenaars is ook op video vasgelê. van die laksmanne van Pierre de Neckers het video grepe van dié aanranding opgeneem en oa vir sy pa gestuur. dus was hulle selfoon nommers ook op beskikbaar. hoekom is die “moordenaars” nog oo vrye voet?

Petro ·

Snoefi, stuur die inigting na die kantoor van die Minster van Polisie. Die man wil mos woeker, so kom ons kyk wat maak hy met die geval van Pierre de Necker.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.