Parys-boere: Dokter vertel oor aand in ongevalle

Die beskuldigdes in die hof (20 November 2017). Foto: Mariné Lourens

Die hooggeregshof in Parys in die Vrystaat het Maandag gehoor van die ernstige toestand waarin Samuel Tjixa en Simon Jubeba was toe hulle die aand van 6 Januarie 2016 na die staatshospitaal in Parys gebring is.

Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, kapt. Henk Prinsloo, Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen en Miela Janse van Vuuren word aangekla van die moord op Tjixa en Jubeba. Die staat beweer die ses beskuldigdes was deel van ʼn groep boere in die gemeenskap wat op 6 Januarie 2016 vir Tjixa en Jubeba op die plaas Swartklip aangekeer en so erg aangerand het dat hulle later in die hospitaal aan hul beserings beswyk het.

Dr. Sifiso Nxumalo is Maandagmiddag deur die staat na die getuiebank geroep. Hy het getuig hy was die aand aan diens toe Tjixa en Jubeba na die hospitaal gebring is. Volgens Nxumalo is hy omstreeks 22:00 na die ongevalle-afdeling ontbied toe die twee mans ingebring is. Hy het getuig die suster aan diens het vir hom gesê die twee pasiënte is P1-pasiënte, ʼn klassifikasie wat gebruik word om aan te dui dat die pasiënte onmiddellike mediese sorg nodig het.

Nxumalo het gesê hy het die twee mans vinnig geassesseer en bepaal watter een eerste mediese aandag nodig gehad het voordat hy sy aandag eerste op Jubeba gefokus het. Volgens Nxumalo het dié pasiënt ernstige kopbeserings gehad en was hy bewusteloos. Hy het getuig dat die pasiënt kneusing om sy oë gehad het, sy neus het gebloei en hy het ʼn diep snywond agter sy kop gehad. Volgens Nxumalo het hy ʼn drup op die pasiënt geplaas voordat hy hom van ʼn lugwegbuis voorsien het om sy asemhaling te ondersteun.

Nxumalo het in fyn besonderhede aan die hof verduidelik watter en hoeveel medikasie die pasiënt toegedien is, onder meer morfien, antibiotika en ʼn middel om die pasiënt se glukosevlakke te stabiliseer. Hy het verduidelik dat hy aan die hand van spesifieke aspekte bepaal het waar die pasiënt op die Glasgow-komaskaal lê. Dit is ʼn neurologiese skaal wat gebruik word om die bewustheidstoestand van ʼn pasiënt te bepaal.

Drie van die beskuldigdes, Miela Janse van Vuuren, Loedie van der Westhuizen en kapt. Henk Prinsloo, tydens ‘n besoek aan die toneel waar die twee oorledenes aangekeer is. Foto: Mariné Lourens

Volgens Nxumalo het die pasiënt nie beweeg nie en het sy pupille ook nie op lig gereageer nie. Nxumalo het gesê die pasiënt se telling op die Glasgow-komaskaal was slegs 3 uit 15.

Weens die ernstige aard van die pasiënt se beserings en die feit dat die hospitaal in Parys nie die nodige toerusting het om ʼn CT-skandering te doen of X-strale te neem nie, het Nxumalo aanbeveel dat die pasiënt na die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas word. Nxumalo het getuig nadat hy die pasiënt behandel het, het hy die oorplasing met ʼn dokter by Pelonomi bevestig en gereël dat ʼn ambulans die pasiënt by die hospitaal in Parys kom haal. Hy het die pasiënt nie weer hierna gesien nie.

Die hof het voorheen gehoor Jubeba is na die Pelonomi-hospitaal oorgeplaas en was by sy aankoms daar in ʼn kritieke toestand. Dr. Dalenie de Bruyn het vroeër getuig Jubeba se beserings was van so ʼn aard dat daar baie min was wat gedoen kon word om sy lewe te red.

Volgens De Bruyn was daar erge swelling op Jubeba se brein en het ʼn skanderingsverslag getoon hy het weens sy erge kopbeserings ʼn beroerte gehad. Hy het later die dag in die hospitaal gesterf het.

Nxumalo sal sy getuienis vandag voortsit.

Lees alle vorige berigte oor die Parys-boere op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Andre ·

Kan ons asb so indiepte berig en opvolg kry oor die wat in hegtenis geneem is vir plaas aanvalle ook. Dit lyk ietwat eensydig dat die boere wat iets verkeerd gedoen het vir weke aan een verwys is…

Cherokee ·

Dit lyl nie asof daar enigsins gespekuleer word oor wat eintlik aanleiding gegee het tot dit wat gebeur het, nie. Dit behoort tog deel te wees van die ondersoek ten einde motief of rede te bepaal.

Lynette ·

En ek hoop mense wat teenwoordig was en toe teen die res gedraai het, is vreeslik trots op hulself!!!!! Sies!!!!!

Se-Net ·

Ek stem saam. Die brutaliteit waarmee boere aangeval, gemartel en doodgemaak word, word altyd “ge-suger-coat” . Dis belaglik man! Call a spade a spade en se vir die wereld wat aan die boere gedoen word!!!

Se-Net ·

Dankie dat jul my komentaar nie eers op sit Maroela Media!

snoefie ·

hoie verskil hierdie insident van die mobjustice wat gereeld in die land plaasvind? in die Belfast geval is Pierre de Necker “soos n hond” doodgeskop in die strate van Belfast deur sowat twintig swart mense
gely deur n vroulije belhamel. nie een van hulle is nog aangekeer nie. ten spyte van die feit dat sy aanvallers herkenbaar is op n video wat op die toneel gemaak was. glo ten aanskoue van ten minste een polisielid. nvg, hoe moet hoe verklaar julle dit!

Brandwag ·

Hierdie storie sal verseker vesprei word, terwyl duisende boere hul lewens verloor. Hou op jou eie mense veg en staan saam Afrikaners. ‘n Boerestaat was nog altyd die enigste manier om ons eie belange tot voor te bring. Jy weet wat om te doen. Staan op.

Danille ·

Maak my siek om te sien hoe die storie so baie oproering veroorsaak, maar ons boere word 1 vir 1 vermoor sonder eninge oproering !!!!!
GOD ONS LAND HET U BITTER NODIG ♥

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.