Parys-boere: Getuie se weergawe betwis

Anton Loggenberg en kapt. Henk Prinsloo in die hof (18 Mei 2017). Foto: Maroela Media

Ockert van Zyl, ʼn boer uit die Parys-gemeenskap, wat Woensdag tydens die verhoor van ses mans wat teregstaan vir die moord op twee vermeende plaasaanvallers getuig het, was Donderdagoggend weer in die getuiebank.

Die hofverrigtinge het begin met Van Zyl (64) wat deur die verdediging kruisondervra is oor sy getuienis wat hy gister gelewer het.

Boeta van der Westhuizen (46), sy seun Loedie van der Westhuizen (19), Anton Loggenberg (50), sy seun Cor Loggenberg (20), Miela Janse van Vuuren (23) en kapt. Henk Prinsloo (47) staan tereg op twee aanklagte van moord in verband met die dood van Samuel Tjixa en Simon Jubeba.

Die staat beweer die ses beskuldigdes was deel van ʼn groep mans wat Tjixa en Jubeba op 6 Januarie 2016 op die plaas Swartklip, net buite Parys, aangekeer en so erg aangerand het dat hulle later in die hospitaal aan hul beserings beswyk het. Van Zyl het Woensdag getuig dat hy ook daardie aand op die toneel was waar Tjixa en Jubeba glo aangekeer is. Hy het onder meer getuig dat hy gesien het hoe Boeta een van die verdagtes met ʼn rubberband, vermoedelik ʼn waaierband, aanrand en hoe Prinsloo ’n skoktoestel gebruik om dieselfde verdagte op sy privaatdele te skok.

Die ses beskuldigdes Donderdag (18 Mei 2017) in die hof voordat die hofverrigtinge begin. Foto: Maroela Media

Die verdediging het Donderdag verskeie aspekte van Van Zyl se getuienis betwis. Adv. Hans de Bruin vir die verdediging het Van Zyl weer uitgevra oor die reaksie van die beseerdes wat met Van Zyl se aankoms op die toneel agterop Anton se bakkie gelê het. Van Zyl het getuig een van die beseerde mans het teen die kajuit van die bakkie gesit-lê, terwyl die ander beseerde naby die klap van die bakkie op sy rug gelê het.

Volgens Van Zyl het hy eers gesien hoe die man met die rubberbelt geslaan en met die toestel geskok word, voordat Prinsloo ʼn spuitbottel gebruik het om water in die verdagte se mond te spuit. Hy het getuig die man het geen reaksie getoon nie. Hy het ook gesê die ander verdagte op die bakkie het geen reaksie getoon nie en hy [Van Zyl] het “gedink hy is dood”.

De Bruin het Van Zyl gevra of die skoktoestel wat Prinsloo gebruik het, gewerk het en Van Zyl het gesê hy glo die apparaat het gewerk. De Bruin het egter aangevoer die skoktoestel se battery was pap en die apparaat het dus nie gewerk nie. Hy het ook aangevoer dat Prinsloo die skoktoestel een of twee keer in die beseerde man se ribbes gedruk het. Van Zyl het gesê Prinsloo het die man “drie of vier keer” op sy privaatdele geskok.

Regter Corné van Zyl het Ockert van Zyl gevra of hy die kenmerkende klak-klak-geluid gehoor het wat ʼn skoktoestel gewoonlik maak wanneer dit aan is en hy het gesê hy het nie die geluid gehoor nie. Van Zyl het toe erken hy kan nie met sekerheid sê of die skoktoestel gewerk het of nie.

De Bruin het ook in die hof uitgewys dat hoewel Van Zyl in sy getuienis gesê het Prinsloo het die beseerde man op sy privaatdele geskok, het hy dit nie in sy verklarings aan die polisie genoem nie. Van Zyl het erken hy het nie in die verklarings spesifiek genoem dat die verdagte op sy privaatdele geskok is nie, maar het gesê hy het nie gedink dit is belangrik nie.

Kapt. Henk Prinsloo en Cor Loggenberg in die hof (18 Mei 2017). Foto: Maroela Media

De Bruin het dit ook aan Van Zyl gestel dat dit nie waar is dat die beseerde geen reaksie getoon het nie. Hy het gesê die beseerde man het glo vir water gevra en Prinsloo het hom gehelp om effens regop te sit sodat hy die water kon sluk wat hy hom gegee het. Van Zyl het volgehou hy het nooit gesien dat die man vir water vra of enige ander reaksie toon nie. Op ʼn vraag aan Van Zyl of hy gesien het dat die beseerde man ʼn stuk van die waaierband vashou waarmee hy na bewering geslaan is, het Van Zyl gesê hy het dit nie gesien nie.

De Bruin het Van Zyl ook gevra of hy gehoor het dat Anton vir een van die verdagtes vra waar die vuurwapen is, en dat die verdagte antwoord hulle het die vuurwapen weggegooi. Van Zyl het gesê hy het nie hierdie woordewisseling gehoor nie. Hy het later in antwoord op ʼn vraag van die staat weer gesê die twee verdagtes was nie in ʼn toestand om te kon praat nie.

Van Zyl het toegegee dat die stuk waaierband waarmee Boeta die man geslaan het, ʼn kort stukkie van ongeveer 20 cm was wat nie enige oop wonde sou kon veroorsaak nie. Op ʼn vraag van De Bruin of Boeta die man hard geslaan het, het hy geantwoord hy weet nie hoe hard dit was nie. Hy het ook tydens die hofverrigtinge saamgestem dat Boeta nie sy volle arm gebruik het om die verdagte te slaan soos wat ’n mens sal gebruik wanneer jy ʼn harde hou wil toedien nie.

De Bruin het Van Zyl gevra of hy goedgekeur het wat op die toneel gebeur het. Hy het gesê hy het nie die gebeure goedgekeur nie. De Bruin het gevra hoekom Van Zyl nie polisie toe gegaan het om aan te meld dat daar “twee mense op ʼn plaas gemartel word” nie. Van Zyl het gesê hy het gedink dit is nie nodig nie omdat daar klaar polisiebeamptes op die toneel was. De Bruin het gesê Van Zyl het dan getuig dat ʼn polisiebeampte deel was van die “wangedrag” op die toneel en weer gevra hoekom hy dit nie by die polisie aangemeld het nie. Hy het weer geantwoord die polisie was klaar op die toneel.

De Bruin het Van Zyl ook uitgevra oor die dag ná die voorval toe Van Zyl vir ʼn werknemer van ʼn motorwasplek op die dorp gesê het: “Ons het gisteraand twee k*****s doodgeslaan.” Van Zyl het erken dat hy wel die uitlating gemaak het, maar het gesê hy het dit nie bedoel nie en dit was “absolute sinnelose bravade”.

Van Zyl het getuig nadat hy sy voertuig by die motorwassery gelos het, het hy na die Spur gestap waar hy Anton en sy broer ontmoet het. De Bruin het hom gevra wat hy gesê het toe hy hulle sien. “Ek het gesê ‘Hallo, julle moordenaars’,” het Van Zyl getuig. De Bruin het hom gevra of dit korrek is dat hierdie uitlating veroorsaak het dat sy vriendskap met Anton versuur het, maar Van Zyl het dit ontken. Hy het gesê hy en Anton het die afgelope ruk nie meer gepraat nie, omdat die polisie hulle gewaarsku het om nie die hofsaak te bespreek nie.

Die verhoor gaan ná middagete voort met die staat se volgende getuie, Stephanus Johannes Cilliers.

Lees alle vorige berigte oor die Parys-boere op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

34 Kommentare

Reti ·

CAROL, wie sou jý sê moet toegesluit word na die inligting wat jy uit die berigte kry???

Nettie ·

Ja, Carol, trap op jou reeds-vertrapte mede-Afrikaner (dit is AS jy wit is en jouself as ‘n Afrikaner beskou). Trap en trap hard! Dit is nie genoeg dat ons boere deur hierdie mense voor die voet uitgemoor word nie. Ons moet maar bek-hou en aanhou. Ons is die kosproduseerders van die land, maar ons word verguis, vertrap, vermoor, besteel, ons vroue word verkrag, kinders word gedwing om die wreedhede te aanskou, maar ons mag nie ‘n oomblik stil- en regop staan en onsself, ons dierbares en ons besittings beskerm nie. Mooi, Carol, ek hoop jy kan saans rustig slaap.

al ·

Van Zyl se getuienis is onbetroubaar. Een oomblik wil hy die man met bravade wees, ander oomblik piep hy soos ñ muis. Ek stem saam met verdediging waarom het hy nie polisie toe gegaan as die sg gedrag onaanvaarbaar is nie. Lyk my hy kan ook lekker jok.

Poplap ·

Iets maak nie sin nie of ek is dom… Het Van Zyl dan nie in gister se berig gese dat hy gehoor het hoe Boeta aanhoudend vir die man vra waar die vuurwapen is…maar vandag se’ hy, hy het nie dit gehoor nie. Sjoe! Hulle is verkeerd en moet erken dat dit so is…hierdie ding gaan lank draai en dis onnodig… TAKE RESPONSIBILITY ALL OF YOU! WHAT YOU DID WAS WRONG!!!!!

jj ·

Ja poplap soos al die moordenaars verantwoordelikheid aanvaar vir al ons boere en vroue wat brutaal vermoor en verkrag word ne. Ai jai dis hoekom ons blankes nerens sal kom nie.

Pat ·

Twee verkeerde dinge maak nie iets reg nie. As jy tot op die plaasaanvallers se vlak daal is jy niks beter as hulle nie. Mens moet nooit jou menswaardigheid en beginsels verloor nie. Ek kan my nie indink hoe die boere en hul families moet voel nie, maar ons kan nie hierdie gebeure goed praat nie.

Boerseun ·

Sover lyk die staat se getuies onbetroubaar en lyk hul dade na mense wat net hul eie basse wil red. Op die ou end gaan die gemeenskap julle verwyt die wat teen jul eie gedraai het.

Reinette ·

En die man wat gejok het oor n plaasaanval skitter in sy afwesigheid. Die bloed is asn sy hande. Gaan hy net skotvry wegkom met alles?

Ag tog ·

Reinette, as jy die berigte volg sal jy sien dat die konstabel/polisieman (keyser dink ek) wat eerste getuig het wel erken het dat dit soos ‘n plaasaanval gelyk het. Die oom (in sy 60’s of 70’s) het beserings getoon en daar was bloed langs sy paniekknoppie. Ek twyfel nie vir een oomblik dat as hy nie daai paniekknoppie gedruk het nie, sou hy nie meer vandag met ons gewees het nie en die mense sou lankal van hom, soos al die ander vermoorde boere vergeet het.

Piet ·

Ag tog, die mense wat nie die nuus volg nie en dan uit die bloute ‘n eier le moet liewers nie eers geantwoord word nie, maar ek waardeer dat jy probeer.

CAROL ·

Oh ne ….. doodmaak is doodmaak – moord is moord. Maak nie saak van die kleur vel nie.!!!

Boerseun ·

En doodmaak in oorlog ? Sien ons het n nuwe regter onder ons. So wat is jou opinie rakende die liegery van die staat se getuies so ver, of is mens skuldig tot jy onskuldig bevind word?

Shanie ·

Wat van ons boere wat daagliks aangeval en uitgemoor word? Hoor jy ooit van ‘n hofsaak oor daardie moordenaars? Ek se nie om reg in eie hande te neem is reg nie maar moet die boere ook net hande gevou sit en wag om geroof en gemoor te word?

Piet Pompies ·

Emosionele opsweping is natuurlik, veral as dit kom by mense wat na aanmekaar leef en die situasie emosioneel gemeenskaplik. Hierdie opsweping kan slegs plaasvind deur leierskap en daar is net een persoon wat dit begin het, die res van die mense is deur emosie betrek. Die persoon wat die vuurhoutjie aangesteek het, moet vorendag kom en verantwoordelikheid aanvaar en sy straf dra soos ‘n man.

al ·

Natuurlik sal almal se emosie opgesweep word, want dit kan jou familielid of geliefde wees wie se bloed van die muur afgewas moet word in die volgende plaasaanval.
Tog het die leier nie ñ pistool teen hul kop gehou nie.

Mvn ·

Dis net snaaks dat as mense wat steel in townships aangerand en aan die brand gesteek word hoor mens nie veel daarvan nie maar hierdie storie word nou baie uitgerek…

KP ·

Van die kommentaar op hierdie blad is absoluut belaglik, wil diesulkes nie sommer die regter se plek ineem nie??????????? Dit is hoekom ons blankes in die gemors sit waarin ons sit, draai met die eerste veskoning teen mekaar. Jy is onskuldig tot die hof jou bo alle twyfel skuldig bevind het klaar.

Johan Likkewaan ·

Die beste is maar om liewers as groot groep die reg te laat geskiet mense, nie as julle 5 or 6 manne is nie. Ai. Ons kan leer uit die sisteem wat in lokasies gebruik word… Dit werk nou al hoe lank. Die polisie kan nie ‘n skare mense arresteer nie. Weet enige iemand wat het met die oom gebeur wat aangeval was deur die twee mannetjies? Hulle lyk dalk nou soos die slagoffers maar onthou waar hulle vroeer die aand was…

Michael ·

Ek het geweet hulle sou teen mekaar draai skaam my vir die van Zyl karakter wat sy afrikaner mentaliteit hier openbaar.

humor ·

Ek twyfel ook oor die egtheid van van Zyl se getuienis. Dit blyk dat daar heelwat leedvermaak in skuil wanneer hy gister gese het; “Dit was beslis nie n teepartytjie nie en ook dit, het rof gegaan.” Dit blyk tog wel of hy sy mes in het vir sommige teen wie hy getuuig.

Ben Prinsloo ·

Jammer om jou te pla Carrol maar ek kyk vir jou naam by die berigte van die plaasmoorde maar sien hom nie, kan jy dalk asseblief vir ons sê by watter plaasmoord het jy ook van jou regverdige kommentaar teenoor die oortreders uitgespreek. Ek bedoel niks lelik hierby nie.

E ·

Ek skaam my dood vir mense wat reg in eie hande neem en van hulself varke maak, ongeag van kleur. Meerderheid mense in ons land soek ń vreedsame lewe sonder gemors. Dit is die vêr links en vêr regs wat die tiepe van dinge veroorsaak. Hoe kan jy ń boer vermoor wat jou kos voorsien, werk en blyplek? Hoe kan jy ń werker aanrand wat jou huis skoonmaak, kar was en alles wat vir jou te veeleisend is doen? As jy iemand sien steel of wat ookal is daar mos die ordentlikke, regte manier om ń saak te stel. Laag, laag, laag!!!
Jy, jy vermoor die een wat jou kos gee, en jy, jy mishandel die een wat jou ‘slaaf’ is. Walglik.
Siek en sat vir hierdie onbeskofte, bullebak boellies in die lewe. En Dan wil ons, ons stemme gaan dikmaak by skole as boetties mekaar aanvat.
God slaap nie.

Stephan ·

Lees en volg die moordsaak van plaasaanvallers… Lees nooit dat plaasaanvallers gevang word nie. Sien nooit honderde witmense saam buite die hof van die plaasaanvallers nie. Sien nie witmense saam staan teen plaasaanvallers nie. “brand Suid Afrika”

Vic ·

Dankie Jean – goed gestel. Het nog nooit die boere oorlog dinge lekker verstaan nie – nou sien ek dit so voor my afspeel

Gilla ·

Ek sou dink Van Zyl moet maar ‘n ander lappie grond kry vir sy beeste as hy nog nie het nie…

Kosie ·

Ek is stom geslaan oor ons Afrikaners se mentaliteit. Al hierdie negatiewe kommentaar is kleinlik. In die lig gesien van al die brutale plaasmoorde wat plaasvind, en ook die onwilligheid van die regering om die boere te beskerm, is ek nie verbaas dat boere so teenoor oortreders op hul grond optree nie. Mense wat in glashuise woon moenie met klippe gooi nie.

al ·

Baie waar! Ons boere word net gesien as belastingbetalers wat die sakke van die Staat moet help volmaak, verder het hul geen regte nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.