Parys-boere: Getuie vertel van ‘bobbejaanspanner’, knipmes en honde

Die ses beskuldigdes Donderdag (18 Mei 2017) in die hof voordat die hofverrigtinge begin. Foto: Maroela Media

‘n Boer van die Parys-distrik het Donderdag in die hooggeregshof in die dorp getuig hoe hy gesien het hoe verskeie mans twee vermeende plaasaanvallers klap en skop ten spyte daarvan dat hy hulle gevra het om op te hou.

Stephanus Johannes Cilliers is Donderdag deur die staat na die getuiebank geroep in die verhoor van Boeta van der Westhuizen (46), Loedie van der Westhuizen (19), Anton Loggenberg (50), Cor Loggenberg (20), Miela Janse van Vuuren (23) en kapt. Henk Prinsloo (47) wat aangekla word van die moord op Samuel Tjixa en Simon Jubeba. Die staat beweer die ses beskuldigdes was deel van ʼn groep mans wat Tjixa en Jubeba op 6 Januarie 2016 op die plaas Swartklip, net buite Parys, aangekeer en so erg aangerand het dat hulle later in die hospitaal aan hul beserings beswyk het.

Cilliers het getuig hy woon al sedert sy geboorte in die gebied en boer op ʼn plaas in die Parys-distrik. Cilliers en sy pa, Johan Cilliers sr., is voorheen ook in verband met dieselfde voorval in hegtenis geneem en aangekla. Die aanklagte is egter in April 2016 teen hulle teruggetrek omdat daar nie genoeg bewyse was dat die mans by die voorval betrokke was nie.

Cilliers het tydens sy getuienis aan die hof gesê hy was die middag van 6 Januarie 2016 in die dorp (Parys) toe hy ʼn oproep gekry het dat Loedie van der Westhuizen sr. op sy plaas, Biesiesbult, aangeval is. Nadat hy brandstof in sy bakkie gegooi het, het hy in die rigting van Biesiesbult gery. Op pad daarheen het sy ma hom laat weet dat sy twee mans op hul plaas sien hardloop het in die rigting van Swartklip, ʼn plaas naby Biesiesbult.

Hy het gesê met sy aankoms by Swartklip het hy gesien hoe twee verdagtes met honde deur die veld gehardloop kom. Hy het ook gesien hoe sy pa en sy suster se seun, Rian, van voor af kom. Cilliers het gesê hy het uit sy voertuig geklim en vir die verdagtes gesê om stil te staan. Hy het gesê hy het een verdagte gevang, maar die tweede een het weggehardloop. Rian het die twee verdagte platgeduik en hy en Cilliers se pa het hom op die grond vasgedruk.

Miela Janse van Vuuren en Loedie van der Westhuizen tydens die ondersoek ter plaatse Dinsdag (16 Mei 2017). Foto: Maroela Media

Volgens Cilliers het Wikus van der Westhuizen, Daniël Oosthuizen en Loedie van der Westhuizen (een van die beskuldigdes) kort daarna op die toneel aangekom. Cilliers het getuig Loedie het een van die verdagtes gevra wat “Oubaas se honde” by hulle maak en toe die verdagte hom nie antwoord nie, het hy hom geklap.

Cilliers het getuig Müller van der Westhuizen en Wian van der Westhuizen het ook opgedaag. Hy beweer Müller het een van die verdagtes twee keer opgetel en op die grond neergegooi. Volgens Cilliers het nie hy of sy pa aan die verdagtes geslaan nie, maar het hulle albei vir die ander gesê om op te hou.

Hy sê hy het gesien hoe Loedie ʼn “bobbejaanspanner” op ʼn bakkie gaan haal en daarmee terugkom. Cilliers beweer Loedie het weer die verdagte gevra hoekom die honde daar is en toe die verdagte nie antwoord nie, het Loedie met die “bobbejaanspanner” op die grond langs die verdagte geslaan.

Cilliers het in die hof gesê hy het gesien hoe Van Vuuren, Loedie, Wikus, Wian, Daniël en Fanie Oosthuizen die verdagtes op hul bene en in die maag skop. Hy het later tydens kruisondervraging toegegee dat hy moontlik foutiewelik gedink het dat Van Vuuren die verdagtes geskop het terwyl hy eintlik net bloed van sy bene afgevee het.

Cilliers het getuig hy is daarna weg by die toneel omdat sy vrou gebel het en gesê het daar is ʼn probleem by hulle skape. Hy het gesê die verdagtes het regop op die grond gesit toe hy by die toneel weg is. Nadat hy seker gemaak het dat alles in orde is op sy plaas, het hy teruggery na die toneel by Swartklip. Hy het gesê dit was teen daardie tyd al sterk skemer en hy het gesien dat die verdagtes op die grond gelê het.

Die beskuldigdes, hul regspanne en die regter op die toneel. Foto: Mariné Lourens

Cilliers het getuig Thomas Direko, ʼn voorman op ʼn boer van die distrik se plaas, het ook by die toneel opgedaag. Direko is ook op die staat se lys van getuies. Volgens Cilliers was Cor, Boeta en Anton ook op die toneel toe hy terugkeer, maar hy het getuig Van Vuuren was toe nie meer daar nie.

Cilliers beweer hy het gesien hoe Boeta en Anton die twee verdagtes agterop Anton se bakkie laai. Hy het gesê nie een van die verdagtes het enige reaksie getoon nie. Die verdediging het Cilliers later tydens die kruisverhoor daarop gewys dat daar in sy pa se verklaring staan dat Anton met een van die verdagtes in Sotho gepraat het en dat die verdagte hom geantwoord het. Cilliers het hierop gesê sy pa het in ʼn stadium naby aan die voertuig gestaan waar die verdagtes gelê het, maar hy [Cilliers] was te ver van die voertuig af om te hoor wat daar gesê word.

Op ʼn vraag van die staat of die verdagtes op die bakkie gegooi of versigtig neergesit is, het Cilliers gesê dit was donker en hy kon nie sien nie. Hy het ook gesê hy was te ver van die bakkie af om te sien of daar bloed op die verdagtes se gesigte was of nie. Hy het gesê in hierdie tyd het Prinsloo en Ockert van Zyl, wat vroeër vandag in die getuiebank was, ook daar aangekom.

Die verdediging het Cilliers gevra of hy bewus is van bewerings dat Wian ʼn knipmes gevat het en dit hard in een van die verdagtes se gesig gegooi het. Cilliers het gesê hy het wel gesien hoe Wian die knipmes gooi, maar kon nie sien waar op die verdagte se lyf die knipmes hom getref het nie.

Kapt. Henk Prinsloo en Cor Loggenberg in die hof (18 Mei 2017). Foto: Maroela Media

Die verdediging het ook aangevoer dit was Müller en nog ʼn persoon wat die verdagtes op die bakkie gelaai het en nie Boeta en Anton soos Cilliers beweer het nie. Cilliers het hierop gesê dit was donker en hy het ver van die bakkie af gestaan, so hy kon nie duidelik sien wat by die agterkant van die bakkie gebeur nie.

Cilliers het ook tydens die getuienis gesê die honde wat op die toneel was het aan Loedie van der Westhuizen sr. behoort. Hy het aan die hof gesê dit was windhonde en hulle is nie aggressief nie. Op ʼn vraag van die staat het hy gesê hy weet nie hoe dit gebeur het dat die honde by die toneel opgeëindig het nie.

Regter Corné van Zyl het op versoek van die staat die hof tot Vrydag verdaag wanneer die verhoor weer om 09:00 sal hervat.

Lees alle vorige berigte oor die Parys-boere op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

N Lourens Reitz ·

Die antwoord is redelik eenvoudig.Daar is min ja min gevalle waar boere in so saak betrokke is daarom die groot belangstelling van die media. Die aanslag op die boere is daagliks van moord en doodslag daarom is dit nou al so gedemoraliseer dat dit nie meer die aandag daarop trek nie want dit gebeur alle daags.

Vleisman ·

Dit is hoekom dit in die land gaan soos dit gaan, kyk wat gebeur in Coligny daardie groep mense van die gemeenskap staan saam, party weet nie eers waaroor dit gaan nie maar hy betoog saam. Nie ons ou boerevolkie nie, nee ons getuig eerder teen ons mede boere.

Gert ·

Ek stem gladnie saam nie. Ek is seker onlangse gebeure sal toon ons kan.

Carl ·

Wat sou jy dan doen? Onthou jy word voor die hof gedaag so kan nie weier anders kan jy tronk toe. Sal jy dan lieg?Sels om ‘n skuldige te beskerm?

Boerseun ·

Carel. Jong Cilliers het nie die waarheid gepraat in elk geval nie.

Toe staat hom vra toe sê hy Boeta en Anton het die 2 op die bakkie gelaai. Toe verdediging hom vra toe sê hy hy kon nie sien nie dit was donker. Nou hoekom nie dit van die bagin af sê nie tensy jy jou bakkies wil red?

Hannes ·

Dis duidelik dat daar n oorlog teen die blanke is–die he’ll is los waneer n swarte doodgeslaan word,maar die blanke is kaf en niks werd nie-Dis so jammer dat ons boere teen mekaar getuig-i.p.v. Ondersteun—-Ek vrees vir ons b lankes vir die toekoms,dat hul meer skade aan mekaar gaan doen as om saam te staan-

Magda ·

As ie mans verantwoordelik is vir die 2 plaaswerkers se dood – moet hulle daarvoor betaal – Solank as wat dit aan die Wit en Swart kant gaan soos nou – sal Rassisme net nooit stop nie – Kom osn gun elkeen maar n plekkie in die son – of ons dit verdien of nie.

Wonder ·

Wonder wat sou gebeur het as die oorledenes nie betrap was nie….. Dalk nog ‘n begrafnis van mense wat in hul plaashuis vermoor was? Daar is myns insiens ‘n diep gewortelte haat teenoor misdadigers wat so in mense se sige inbrand elke keer as die aanhoudende nuus van plaasmoorde breek. Die grootse rede dat hierdie tipe goed plaasvind is omdat die staat sy plig van beveiliging versaak en mense dalk voel hulle moet reg in eie hande neem. Daar is nie meer afskrikmiddels in ‘n verlamde wetstoepassing en vervolgings omgewing nie. Wie se skuld is die goed dan nou eintlik??? Laat mens wonder…

Johann cb ·

Nee Bittergal, hierdie tipe houding maak omstandighede nóg moeiliker vir almal wat omgee vir mekaar én ons land…sterk staan almal, en dink logies!

jakes ·

Ja…tipies van ons ou volkie
Kon nog nooit saamstaan nie. Daai getuie moet nog besef dat as ons nie na mekaar gaan kyk nie gaan niemand na ons kyk nie.

[email protected] ·

Ongeag die kleur van jou vel Amanda behoort jy jou dood te skaam om so opmerking te maak ! Wees eerder jammer vir die fam van almal wat wreedaardig doodgemaak word

Veritas ·

As die man die waarheid vertel, kan dit mos nie verkeerd wees nie. Hoekom moet hy lieg om ander te beskerm ?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.