Parys-boere: Hof sê oor borgtog

Die ses beskuldigdes sit Dinsdagoggend in die beskuldigdebank gereed vir die moordverhoor om te hervat. Van links is Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, kapt. Henk Prinsloo, Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen en Miela Janse van Vuuren. Voor staan Hannes Grimbeek, ‘n lid van die verdediging se regspan. Foto: Maroela Media

Die staat se aansoek om te versoek dat die borgtog van een van die beskuldigdes in die sogenaamde Parys-boere-moordsaak teruggetrek word, is Donderdag in die plaaslike landdroshof aangehoor.

Anton Loggenberg (50), Cor Loggenberg (20), Boeta van der Westhuizen (46), kapt. Henk Prinsloo (47), Loedie van der Westhuizen (19) en Miela Janse van Vuuren (23) word aangekla van die moord op Samuel Tjixa en Simon Jubeba. Die verhoor is al sedert die begin van die maand in die hooggeregshof in Parys aan die gang, maar is Dinsdag onverwags onderbreek deur ʼn nuwe hofaansoek van die staat.

Maroela Media het vroeër berig die staat het ʼn aansoek gebring dat Anton Loggenberg se borgtog teruggetrek moet word omdat die staat aanvoer hy het sy borgtogvoorwaardes verbreek. Die saak is Dinsdag vlugtig voor landdros Gustav Prinsloo aangehoor, maar hy het hom aan die saak onttrek en gesê aangesien hy die beskuldigde ken, mag die indruk moontlik ontstaan dat die hof bevooroordeeld is.

Landdros Jan Claassen het Donderdag van Kroonstad gekom om die aansoek in die Parys-landdroshof aan te hoor. Kapt. Francois Laux, deel van die Valke se ondersoekspan, het getuig Loggenberg het Ockert van Zyl, een van die staat se getuies, op sy selfoon geskakel. Volgens Laux verbied Loggenberg se borgtogvoorwaardes hom om met enige van die staat se getuies kontak te maak.

Laux het gesê volgens Van Zyl het Loggenberg tydens die telefoniese gesprek gesê hy sal al die “joiners” wat teen hom en sy seun getuig doodmaak. Laux het gesê “joiners” verwys na die artikel 204-getuies wat vir die staat getuig.

Anton Loggenberg en kapt. Henk Prinsloo in die hof (18 Mei 2017). Foto: Maroela Media

Loggenberg is ook na die getuiebank geroep waar hy deur die staat kruisondervra is. Loggenberg het aangevoer hy het Van Zyl geskakel om oor hul vennootskap te praat. Volgens Loggenberg het hy en Van Zyl ʼn vennootskap in hul beeste-boerdery aangegaan en is hy (Loggenberg) geregtig op 20% van die kudde se kalfies.

Loggenberg het aangevoer Van Zyl wil hom graag agter tralies hê sodat hy die vee kan verkoop sonder om Loggenberg sy regmatige aandeel te gee. Hy het gesê Van Zyl het reeds 31 van die beeste aan ʼn boer van Bapsfontein verkoop.

Volgens Loggenberg het hy na die plaas gery waar die beeste aangehou word om die vee te sien, maar die hekke was met slotte gesluit. Hy het Van Zyl daarna gebel om te hoor hoekom die hekke gesluit is.

Kobus Burger, Loggenberg se regsverteenwoordiger, het die hof onder meer ook daarop gewys dat daar in elk geval geen aanduiding is dat “joiners” werklik na staatsgetuies verwys nie.

Claassen het beslis dat die staat se aansoek op hoorsê-getuienis geskoei is en dat Loggenberg se borgtog daarom nie teruggetrek sal word nie.

Die moordverhoor, wat onbepaald uitgestel is sodat die aansoek oor Loggenberg se borgtog eers aangehoor kan word, sou om 14:00 hervat word. Fanie Oosthuizen (44), ʼn plaasvoorman van die Parys-omgewing en ʼn artikel 204-getuie, se kruisondervraging sal voortgesit word.

Lees alle vorige berigte oor die Parys-boere op Maroela Media.

*Inligting in berig met vergunning van OFM.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Peet J ·

Mooi so julle moet net kophou en alle sterke met julle saak.

Peet J ·

Mooi so julle moet net kophou en alle sterkte met julle saak.

So ja ·

Fantasties, kom “join” die boere en ondersteun hulle om hul onskuld te bewys.

Hennie ·

Kom ons kyk na feite voordat ons sommer besluit almal is noodwendig “onskuldig”. Ons hoop dit is so, maar dit lyk of sommige van hierdie boere julle vergryp het. Laat ons onself nie blindhou vir die waarheid nie.

Hendrik ·

Stem saam. Laat die reg sy gang gaan. As die manne hulle self skuldig gemaak het aan die dood van die mense, moet hulle daarvoor boet. Die skade wat sulke optrede veroorsaak is enorm en dra by tot die onmenslike geweld tydens plaas- en huisaanvalle. As hulle onskuldig is, laat die reg dit dan bevestig.

Johannes Meintjes ·

Ons vertrou dat die Coligny en Lichtenberg brandstigters, die wie skade veroorsaak het en onvoerders of gyselaarbendes met die nodige omsigtighied, detail en sorg vervolg sal word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.