Parys-boere: Hof sê vandag oor ontslag-aansoek

Kapt. Henk Prinsloo en Cor Loggenberg in die hof (18 Mei 2017). Foto: Maroela Media

Kapt. Henk Prinsloo, een van die beskuldigdes in die opspraakwekkende moordverhoor teen ses mans van die Parys-distrik in die Vrystaat, sal vandag hoor of die verdediging se aansoek om ontslag van alle aanklagte teen hom suksesvol was.

Prinsloo word saam met Anton Loggenberg, Cor Loggenberg, Boeta van der Westhuizen, Loedie van der Westhuizen en Miela Janse van Vuuren aangekla van die moord op Samuel Tjixa en Simon Jubeba. Die staat beweer die ses beskuldigdes was deel van ʼn groep boere in die gemeenskap wat op 6 Januarie 2016 vir Tjixa en Jubeba op die plaas Swartklip aangekeer en so erg aangerand het dat hulle later in die hospitaal aan hul beserings beswyk het.

Die verdediging beweer Tjixa en Jubeba het die betrokke dag vir Loedie van der Westhuizen sr. op sy plaas Biesiesbult aangeval en daarna van die toneel probeer vlug.

Die verhoor het reeds in Mei verlede jaar in die rondgaande hof in Parys begin met talle getuies wat al in die getuiebank was, onder meer boere van die distrik wat glo by die aankeer en aanranding van die verdagtes betrokke was, maar nou as art. 204-getuies vir die staat getuig.

Parys Gazette berig die staat se laaste getuie, Tim Direko, ʼn plaasvoorman, was verlede week in die getuiebank waar hy getuig het oor Prinsloo se rol in die beweerde aanrandings. Mbuzeni Xhalisa, ʼn kollega van Direko, het ook verlede week oor Prinsloo se aksies op die toneel getuig, terwyl Ockert van Zyl, ʼn boer in die Parys-gemeenskap, reeds verlede jaar beweer het Prinsloo het op die toneel ʼn skokstok teen een van die oorledenes se geslagsdele gedruk.

Die staat het Donderdag sy saak gesluit.

Volgens Parys Gazette het adv. Koenie Pieterse vir die verdediging daarna aangedui dat hy ʼn aansoek om ontslag op die aanklag van moord, asook enige ander aanklagte wat uit die voorval kan spruit, ten opsigte van Prinsloo wil indien. Volgens Pieterse het die staat nie voldoende bewyse voor die hof gebring om Prinsloo se aandeel in die moord op die twee oorledenes of selfs net aanranding te bewys nie. Pieterse het aangevoer daar is geen bewyse dat Prinsloo die bedoeling gehad het om enige misdryf te pleeg of onwettig op te tree nie.

Die ses beskuldigdes in Mei 2017 in die hof. Van links is Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, kapt. Henk Prinsloo, Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen en Miela Janse van Vuuren. Voor staan Hannes Grimbeek, ‘n lid van die verdediging se regspan. Foto: Maroela Media

Pieterse het verder daarop gewys dat daar nie betwis kan word dat die skokfunksie van die skoktoestel wat Prinsloo op die toneel gebruik het nie gewerk het nie. Ockert, Direko en Xhalisa het almal aangevoer dat hulle nie die kenmerkende geluid wat ʼn skoktoestel maak die aand op die toneel gehoor het toe Prinsloo die apparaat gebruik het nie.

Prinsloo het vroeër aangevoer dat hy slegs die skokstok in Jubeba, wat bewusteloos was, se sy gedruk het om reaksie uit hom te kry, maar dat die skokfunksie nie gewerk het nie omdat die battery pap was. Die toestel is as bewysstuk by die hof ingedien.

Pieterse het verder gesê dit is ook duidelik dat Prinsloo eers later op die toneel gekom het nadat die mans reeds aangerand was en dat Jubeba en Tjixa toe reeds agterop Anton se bakkie gelê het. Hy het benadruk dat Van Zyl, Direko en Xhalisa hulself met verskeie aspekte in hul getuienis weerspreek het.

Die staat het op sy beurt aangevoer daar is genoeg bewyse dat Prinsloo wel op die toneel was en die feit dat Prinsloo erken hy het vir Jubeba met die skokapparaat in sy sy gedruk, dui op aanranding. Volgens die staat is dit irrelevant of die skokfunksie van die apparaat gewerk het of nie.

Die staat het ook beklemtoon dat daar getuig is Boeta van der Westhuizen het een van die oorledenes met ʼn waaierband “getik” in die teenwoordigheid van Prinsloo wat as polisiebeampte op die toneel was en dat daar getuig is Prinsloo het niks gedoen om die aanranding te probeer stopsit nie.

Regter Corné van Zyl het gesê sy sal vandag om 10:00 uitspraak lewer oor Prinsloo se ontslagaansoek. Die verhoor duur nog vir die res van die week voort.

Lees alle vorige berigte oor die Parys-boere op Maroela Media.

*Inligting in berig met vergunning van Parys Gazette.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Koos ·

Kan die ou grote nie ook ‘n langmouhemp en das dra soos die ander nie?

Laat los ·

LMGA die feit dat die SKOKAPPARAAT nie gewerk het nie is IRRELEVANT?? So as ek net ‘n baksteen teen jou druk sonder om jou daarmee te slaan is ek skuldig aan aanranding? WAAR kry julle hierdie ‘regsmense”? Mind you toe ek die woordjie STAAT hoor toe kon ek seker my eie afleidings maak. AS EK ‘n skokapparaat teen iemand druk en hy skok die ou nie, wat het jy aan hom gedoen? NIKS!! Dit is soos om ‘n strykyster teen iemand te druk en hom NIE aan te sit nie . die LOGIKA hier verstom my. DAAR is geen ordentlike bewyse teen hierdie manne nie en die getuies lieg oor en weer .. as dit andersom was sou hierdie manne LANKAL vry rondgeloop het.

Jan Nel ·

As ek iemand met ‘n stok slaan en die stok breek, met die gevolg dat die persoon nie seerkry nie, is dit nog steeds aanranding. As ek iemand dreig om met ‘n strykyster te brand en wanneer ek dit teen hom druk is dit koud, is dit nog steeds aanranding. As ek iemand probeer doodskiet en die pistool het ‘n misvuur, is dit nog steeds poging tot moord. “Julle” kry die regsgeleerdes uit universiteite met jare se ondervinding in die praktyk.

Oom Kalahari ·

Hierdie manne word gebruik vir ‘n vervolgings waansin. Daai twee kriminele het ‘n boer op sy private eiendom kom aanval en die moontlikheid bestaan dat hy en sy gesin se lewens in gevaar was en geneem kon word. Die twee kriminele is lewendig verwyder na die polisie stasie en toe kwansuis beswyk deur die aanranding op plaas, maar wat kon intussen gebeur het na polisie stasie. As die twee se toestand dan op die plaas so ernstig was weens die aanranding, waarom was daar nie ‘n ambulans/mediese hulp dadelik verkry tot behandeling nie. Ek ruik ‘n rot met hierdie hele saak wat gemik is op die slagoffers.

Hannetjie Harvie ·

Man of die skokstok gewerk het of nie, of hulle so erg aangerand is dat hulle later aan hul besering beswyk het of nie, niks hiervan maak regtig vir my saak nie. Misdadigers, veral hierdie wat plaasmoorde beplan, moet begin leer en besef, as jy ongenooid op my plaas kom, my veiligheid bedreig, of iets vat wat nie aan jou behoort nie, gaan jy die gevolge dra. As jy dan met jou lewe boet, dan het jy daarvoor gevra. Wat verwag hulle met al hierdie wrede moorde, die mense gaan reg in eie hande neem. Dis of my lewe of syne, so maklik soos dit

bgj van der westhuizen ·

wel daar was n plaas aan val en as die regering eits doen om dit te stop sal die mense nie die wet self toe gepas het nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.