Parys-boere: ‘Hulle het gesê ons moet stilbly’

Van links is Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, kapt. Henk Prinsloo, Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen en Miela Janse van Vuuren tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Maroela Media.

ʼn Staatsgetuie het Maandag in die hooggereghof in Parys in die Vrystaat beweer hy is ʼn voertuig aangebied indien hy sou “stilbly” oor die gebeure wat daartoe gelei het dat twee vermeende plaasaanvallers in Januarie 2016 gesterf het.

Fanie Oosthuizen (44), ʼn plaasvoorman van die Parys-distrik, was Maandagoggend weer in die getuiebank waar ses mans op twee aanklagte van moord teregstaan. Boeta van der Westhuizen (46), Loedie van der Westhuizen (19), Anton Loggenberg (50), Cor Loggenberg (20), Miela Janse van Vuuren (23) en kapt. Henk Prinsloo (47) word aangekla van die moord op Samuel Tjixa en Simon Jubeba.

Die staat beweer die ses beskuldigdes was deel van ʼn groep mans wat Tjixa en Jubeba op 6 Januarie 2016 op die plaas Swartklip, net buite Parys, aangekeer en só erg aangerand het dat hulle later in die hospitaal aan hul beserings beswyk het. Oosthuizen is verlede jaar in verband met dieselfde voorval in hegtenis geneem, maar getuig nou as ʼn staatsgetuie ingevolge artikel 204 van die Strafproseswet.

Oosthuizen is Maandag deur adv. Hans de Bruin vir die verdediging kruisondervra nadat hy Vrydag sy getuienis gelewer het. Die kruisondervraging het begin met ʼn bewering wat Oosthuizen teenoor Kobus Burger, ʼn lid van die beskuldigdes se regspan, gemaak het.

Boeta van der Westhuizen (46) en Anton Loggenberg (50). Foto: Mariné Lourens

Oosthuizen beweer hy en Wiaan van der Westhuizen, wat verlede jaar ook in verband met dieselfde voorval in hegtenis geneem is, maar nou ook as ʼn staatsgetuie sal getuig, was saam in die polisieselle toegesluit nadat hulle in hegtenis geneem is.

Oosthuizen beweer Burger het by die selle opgedaag om met Boeta te praat en het toe aan hom [Oosthuizen] en Wiaan gesê indien hulle “stilbly” sal hy sorg dat hulle elkeen ʼn dubbelkajuit Toyota Hilux-bakkie ontvang. Volgens Oosthuizen het Burger gesê dat hulle die staat “vir miljoene gaan dagvaar” omdat die staat geen bewyse teen die beskuldigdes het nie.

De Bruin het aangevoer Burger het nooit hierdie uitlating teenoor Oosthuizen gemaak nie. Hy het Oosthuizen gevra hoekom Burger dan met hulle sou praat as hy daar was om Boeta te sien. Oosthuizen het getuig hy het by die hek van die polisiesel gestaan en Burger was reg aan die anderkant van die tralies toe hy dit aan hom gesê het.

De Bruin het gesê indien dit sou waar wees, kom dit om omkopery neer. Waarom het Oosthuizen dit dan nie aangemeld nie? Oosthuizen het geantwoord hy was in daardie stadium net gefokus op sy borgtogaansoek en het nie gedink dit is so ernstige kwessie nie, omdat hy nie gedink het “daar sal enige iets van kom nie”.

Die beskuldigdes, hul regspanne en die regter op die toneel. Foto: Mariné Lourens

“Ek het later eers gesien hoe die saak verloop. Die mense wat nou die beskuldigdes is en mnr. Burger het vir ons gesê ons moet stilbly en vandag moet ons hier teen hulle staan en nou word daar gesê ons vertel leuens,” het Oosthuizen gesê.

Oosthuizen het getuig hy het wel sy regsverteenwoordiger, Jan Ellis, van Burger se uitlating vertel. Volgens Oosthuizen het Ellis aan hom gesê Burger is onverantwoordelik en “besig om met die beskuldigdes se lewens te speel”. De Bruin het Oosthuizen gevra indien dit wel gebeur het soos hy beweer, hoekom het Ellis nie die beweerde omkopery aangemeld nie. Oosthuizen het gesê hy kan hom nie uitspreek oor Ellis se optrede nie en Ellis sal self gevra moet word hoekom hy die saak nie aangemeld het nie.

De Bruin het aangevoer Burger het in die hof tydens die borgtogverrigtinge, toe Oosthuizen teenwoordig was, gesê hulle sal die staat dagvaar, maar ontken dat hy ooit vir Oosthuizen en Wiaan voertuie aangebied het “as hulle stilbly”. De Bruin het ook beklemtoon dat die beweerde omkopery nie in Oosthuizen se verklaring genoem word nie.

Oosthuizen se kruisondervraging sal ná middagete hervat word.

Lees alle vorige berigte oor die Parys-boere op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Michael ·

Ek skaam my vir die staatsgetuie maar behalwe as dit by spur kom kan ‘n wit Afrikaans sprekende nie saam staan nie het geweet hulle gaan mekaar uitverkoop en die staat het dit blykbaar ook geweet.

Giel ·

Dat hulle aangerand is is so. Het nie een van daai boere wat vir die staat getuig hulle hande opgetel? Hoekom was hulle opgesluit? Hoekom die swak diens van die staat hieruit skotvry stap?

Wat wil jy sê? ·

Hoekom het die verdediging span hom nie uitgevra oor die saak nie maar eerder die nonsense? Omdat hulle nie iets teen hom kan se nie dis net meer bewyse daardie 6 is skuldig soos kan wees en dje regter sien dit raak en wie gee om of dit nie aangemeld was nie hy wou hom nie betrokke kry met dwasse goed nie of dia omkopery

Johan. H. ·

Die 2 is klaar dood, jy kan hulle nie terug bring nie, Lieg om julle boude uit die tronk te kry man, maak soos hulle, wat wel teen julle tel is jul velkleur.

Grassie ·

Om teen jou eie soort te draai is nou eenmaal maar ‘n eienskap van baie van ons volksgenote.

Adam ·

Dit het niks te doen met “teen jou eie soort draai” nie. Gelukkig is daar nog mense met integriteit wat besef wat is reg en verkeerd. Sou jy dieselfde posisie ingeneem het as ‘n blanke man jou kind vermoor het? Los asb die kinderagtige geteem oor velkeur. Waardestelsels het nie plek vir velkleur nie. Die regsberoep diskrimineer nie teen hierdie manne op velkleur nie net soos daar nie teen Oscar gediskrimineer was nie.

Hennie Kloppers ·

Het maroelamedia dalk die statestiek vir aanvalle, gewapende roof in daardie area voor en na die voorval? Kan dalk net die regte ding wees wat moes gebeur! Ek weet dis nie reg nie maar as hulle nie oortree het en sonder toesteming en gedoen het wat hulle gedoen het nie sou hulle vandag nog veilig gewees het

lolla ·

Hou op vinger wys na die getuies toe.Niemand weet waardeur hulle ook gaan om in daai getuie bank te staan nie.Dis nie net die beskuldiges wat deur hel gaan nie maar ook die wat moet getuig.En hou op om die veraaier kaart te speel.Ek bid vir die beskuldiges en die wat moet getuig.Want die hemel weet waardeur hulle nou gaan is nie lekker nie.

TDW ·

Sjoe mense, God het vir ons ‘n gebod gegee om nie vals getuienis te lewer nie. Jy kan hom nie verraaier noem wanneer hy die waarheid vertel nie.

MW ·

Hou dit in gedagte dat die 2 wat angerand is plaas anvallers was. Ons boere word op die wreedste moontlike maniere vermoor daar behoort 10 000 blankes voor daai hof te wees om die boere te ondersteun…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.