Parys-boere: ‘Hulle het toe nog gelewe’

Foto: Mariné Lourens

Die eerste getuie in die sogenaamde Parys-boere-moordsaak het Donderdag in die hooggeregshof in die Vrystaatse dorp getuig van die gebeure die aand van 6 Januarie 2016 toe twee vermeende plaasaanvallers na bewering so erg geslaan is dat hulle later in die hospitaal aan hul beserings beswyk het.

Sers. Gerhard Keyser, ʼn lid van die SAPD in Parys, is Donderdag as die eerste getuie in die verhoor geroep. Boeta van der Westhuizen (46), Loedie van der Westhuizen (19), Anton Loggenberg (50), Cor Loggenberg (20), Miela Janse van Vuuren (23) en kapt. Henk Prinsloo (47) sal vandag weer in die beskuldigdebank wees wanneer die verhoor voortgesit word.

Al ses beskuldigdes staan tereg op twee aanklagte van moord in verband met die dood van Samuel Tjixa en Simon Jubeba. Boeta en Loedie word ook op ʼn derde aanklag van regsverydeling aangekla.

Keyser het Donderdag getuig hy is op 6 Januarie verlede jaar na Loedie van der Westhuizen sr. se plaas, Biesiesbult, ontbied waar Van der Westhuizen sr. aan hom gesê het dat hy die slagoffer van ʼn plaasaanval was. Keyser het getuig Van der Westhuizen sr. het bloedmerke aan sy arm en gesig gehad en dit het voorgekom asof hy aangerand is. Van der Westhuizen sr. het beweer hy het die paniekknoppie gedruk waarna die aanvallers gevlug het. Keyser het ook getuig dat daar merke op die muur langs die paniekknoppie was wat soos bloed gelyk het.

Keyser is ongeveer ʼn uur en ʼn half later by die plaas Biesiesbult weg na ʼn toneel op die plaas Swartklip waar twee verdagtes glo aangekeer is. Hy het gesê hy het met sy aankoms die twee verdagtes agter op ʼn wit bakkie sien lê. Albei was erg beseer en een van die verdagtes se kop was geswel. Volgens Keyser was albei verdagtes bewusteloos, maar het nog gelewe en vlak asemgehaal.

Keyser het getuig hy het gehelp om die verdagtes agter in die polisiewa te laai voordat hy baie stadig en versigtig gery het om die ambulans langs die pad te ontmoet. Nadat die verdagtes in die ambulans gelaai en hospitaal toe geneem is, is Keyser na die polisiestasie om die nodige papierwerk te doen.

“Ek het later die aand hospitaal toe gery om uit te vind wat die aard van die verdagtes se beserings was. Ek is ingelig dat een van die verdagtes in die Parys-hospitaal opgeneem is en dat die ander na Bloemfontein oorgeplaas sou word om mediese behandeling daar te ontvang. Hulle het in daardie stadium nog albei gelewe,” het hy gesê.

ʼn Tweede getuie sal vanoggend in die getuiebank wees wanneer die verhoor hervat word. Die staat het vroeër aangedui van die getuies wat geroep sal word, sluit inwoners van die Parys-omgewing in wat beweer hulle het gesien hoe die ses beskuldigdes die oorledenes aangerand het. Ander getuies wat vir die staat sal getuig is onder meer dokters en mediese personeel wat die oorledenes behandel het, ʼn patoloog wat die nadoodse ondersoeke gedoen het en familielede van die oorledenes.

Lees alle vorige berigte oor die Parys-boere op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

De Villiers ·

Waarom skenk die media nie dieselfde ywer aan hofsake van plaasaanvallers wat boere aanrand en vermoor nie? Net gevalle waar wit teen swart opgetree het, wek sensasie en die uitgerekte hofsake word tot op die fynste detail bespreek en die blankes gekriminaliseer. Ek verwys na hierdie Parys-, die Coligny- en die doodskis-gevalle. Hoeveel plaasaanvalle en ander aanvalle op blankes deur swartes word daar nie daagliks gepleeg nie, maar tog word van dié sake net terloops genoem, en dan is dit afgehandel. Dit polariseer die politieke arena in hierdie land wat rassespanning net vererger. Dis dubbele standaarde.

Giel ·

So as ek reg verstaan het hulle swak behandeling in die STAAT se hospital onvang?

Cherokee ·

Weet nie of jy reg raai nie, Giel. Volgens die parlementariërs en die minister van gesondheid is die staatshospitale in tip top toestand en hulle sal tog nie vir die publiek lieg nie.

koos ·

Gister is daar in n berig,berig dat daar mense sal kan getuig…”hulle het gesien hoe gebuer die aanrandig,en dat hul deel was van di”t….Hoekom is hulle ook nie gearestuer nie??????

Frikkie ·

Want hulle het nie so erg gedoen soos daardie 6…..daars ‘n verskil om iemand dood te slaan en te klap

Scalla ·

Maroela, verstaan ek die berig reg, Keyser het gehelp met die laai van die mans en die vangwa stadig en versigtig gery tot by die ambulans. Was hy die bestuurder of wat, waar was die sapd lede. Vra maar net.

Pieter ·

Man, as jy gesond in een van dardie “hellhole” staats hospitale ingaan kom jy dood daaruit!

Carel ·

Almal wat getuig teen die boere kla elke dag oor die stand van plaasmoorde. Die omvang van die krisis is so van aard dat aanvallers feitlik nooit vasgetrek word nie terwyl boere wreed vermoor word. Vir ‘n slag, na jare se frustrasie, kry boere uiteindelik die kans om reg te laat geskied veral aan lig van die feit dat die twee drake in die hande van die gereg net weer los gelaat gaan word en geen reg gaan geskied nie. En die eerste kans wat die gemeenskap kry om saam te staan om reg te laat geskied draai hulle op mekaar en getuig teen hulle eie mense. Te wetsgehoorsaam om op te staan teen ‘n korrupte bestel. Pateties!

Henriëtte ·

Ek stem saam met jou Carel en in die eerste plek wat soek hulle op die boere se plase, hulle het niks daar verloor nie. Moes die boere stil sit om doodgeskiet te word, ek dink nie so nie.

REALLY? ·

En so sal die een WIT BOER die ander een UITHAAL om sy eie bas te red. Nes die Waterkloof 4 .. almal skop en slaan saam, maar die staat is afhanklik van die getuies om die saak sterker te maak, en so sal die WIT BOERE wat saam geklap en geslaan en geskop het nou staatsgetuie draai om nie tronk toe te gaan nie, maar om hulle vriende tronk toe te stuur .dit is so TIPIES< nooit wanneer daar in 'n township 'n kangaroo court is of 'n verdagte deur 'n groep mense aangeval word sit iemand in die tronk of praat iemand nie . .. TRUST die WITTES om mekaar uit te haal .. Hoop net julle kan saam met julle gewetes leef. Was hierdie ouens AANVALLERS of nie? Die land se hele regstelsel en law enforcement is in sy maai in.

Fanie ·

Kom ons redeneer prinsipieël oor die saak. Al is ons almal regmatig woedend vir geweldsaanvalle, kan jy nie die reg in jou eie hande neem nie. Natuurlik moet jy jouself verdedig, mag selfs iemand uit noodweer doodskiet wat jou lewe bedreig. Maar as die boere verder as geregverdigde verdediging gegaan het en die vermeende aanvallers daarna self aangeval het sonder dat hul in lewensgevaar was- is dit moord. Die mate van geweld wat jy mag gebruik, hang af van die omvang van die bedreiging, en nie van hoe kwaad jy is oor plaasmoorde nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.