Parys-boere: ‘Kom ons sê honde het hulle so gebyt’

Die beskuldigdes in die hof. Foto: Mariné Lourens

ʼn Staatsgetuie in die saak teen ses mans van Parys in die Vrystaat wat aangekla word van die moord op twee vermeende plaasaanvallers, is Maandag deur die verdediging met vrae gepeper oor die presiese gebeure van die dag toe die twee oorledenes glo aangerand is.

Anton Loggenberg, Cor Loggenberg, Boeta van der Westhuizen, kapt. Henk Prinsloo, Loedie van der Westhuizen en Miela Janse van Vuuren word aangekla van die moord op Samuel Tjixa en Simon Jubeba. Die staat beweer die ses beskuldigdes was deel van ʼn groep boere in die gemeenskap wat op 6 Januarie 2016 vir Tjixa en Jubeba op die plaas Swartklip aangekeer en so erg aangerand het dat hulle later in die hospitaal aan hul beserings beswyk het.

Müller van der Westhuizen, ʼn artikel 204-getuie, het reeds verlede week sy getuienis gelewer en is Maandag deur adv. Nico Dreyer, vir die verdediging, kruisondervra. Dreyer het Müller gepeper met vrae oor teenstrydighede tussen sy getuienis en dié van ander artikel 204-getuies.

Müller het gedurende die kruisondervraging erken hy het een van die oorledenes opgetel en teen die grond vasgepen, maar het ontken dat hy die oorledene geskop het soos ʼn vorige 204-getuie getuig het. Hy het ook getuig hy het gesien hoe Boeta van der Westhuizen een van die oorledenes met ʼn vuurwapen oor sy kop slaan. Hy het gesê hy weet nie hoeveel houe Boeta geslaan het nie, maar “dit was meer as een”.

Volgens Müller het die vuurwapen “met die laaste hou” uitmekaar gespat en het daar bloed oor die verdagte se kop en gesig geloop. Dreyer het aangevoer dat Boeta die oorledene slegs een keer geslaan het en dat die oorledene met sy arms gekeer en die hou dus sy arms getref het. Müller het ontken dat Boeta die oorledene slegs een keer geslaan het en het geantwoord hy het nie gesien dat die houe die oorledene se arms tref nie.

Anton Loggenberg en kapt. Henk Prinsloo in die hof (18 Mei 2017). Foto: Maroela Media

Op ʼn vraag van Dreyer of die oorledene dus oop wonde aan sy kop gehad het wat veroorsaak het dat daar bloed oor sy gesig loop, het Müller geantwoord hy het nie die oorledene se wonde gesien nie, maar wel die bloed.

Müller het ook aan die hof gedemonstreer hoe hy na bewering gesien het hoe Anton hard op een van die oorledenes se kop trap en met sy volle gewig op die oorledene se kop staan en wieg.

Dreyer het hier weer deur vorige staatsgetuies se verklarings gegaan waarin daar onder meer aangevoer word dat Anton op die oorledene se kop gestaan en in Sotho op hom geskree het en op die oorledene se bors getrap, oor hom getree en met sy hak teruggeskop en die oorledene teen sy kop getref het.

“Ek stel dit aan jou dat die weergawes van wat [Anton] gedoen het so wesenlik verskil omdat dit nooit gebeur het nie,” het Dreyer gesê. Müller het gesê hy stem nie saam nie en hy “kan net getuig oor wat hy gesien het”.

Hy het ook getuig hy het gesien hoe Cor ʼn beeskierie uit die bakkie haal en die oorledene “herhaaldelik” met die kierie slaan. Dreyer het gesê Cor ontken dat hy die oorledene herhaaldelik met die kierie geslaan het.

“Ek weet wat ek gedoen het en ek is hier om die waarheid te praat. Wat ander mense getuig, maak nie aan my saak nie. Ek weet wat die waarheid is,” het Müller aan die hof gesê.

Van links is Cor Loggenberg (20), Loedie van der Westhuizen (19) en Miela Janse van Vuuren (23). Foto: Mariné Lourens

Müller het in ʼn stadium aangevoer hy het gehoor hoe Boeta sê dat hulle vir die polisie moet sê die honde het die oorledenes so gebyt. Op ʼn vraag van Dreyer of hy seker is dat Boeta dit gesê het, het hy ja geantwoord. Dreyer het Müller toe daarop gewys dat hy in sy polisieverklaring sê dat Anton óf Boeta dit gesê het.

Müller het toe geantwoord dat hy nie seker is of Anton of Boeta dit gesê het nie, maar dat hy weet dit is wel gesê. Dreyer het dit gestel dat Müller nie seker is wie dit gesê het nie, omdat nie een van hulle dit gesê het nie. Hy het ook verwys na ʼn WhatsApp-stemboodskap wat vroeër aan die hof gespeel is waarin Müller sê dat hy self vir die polisie gesê het die honde het die oorledenes só gebyt.

Müller het volgehou dat Anton of Boeta dit wel gesê het. Dreyer het Müller ook gevra wie een van die oorledenes se hande vasgebind het. Hy het geantwoord hy het nie gesien wie die oorledene se hande vasbind nie, maar hy het wel gesien dat die oorledene se hande vasgebind is toe hy later gehelp het om hom op ʼn bakkie te laai.

Die verhoor duur voort.

Lees alle vorige berigte oor die Parys-boere op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Eish ·

Dis voorwaar nie n aangename ervaring om die saak se vordering te lees nie.
Indien hier skuldigbevindings gaan voortspruit, gaan n paar plase sonder bestuur wees. Gesinne gaan in totaliteit sonder penwortels wees. Hartseer saak hierdie.

Cryosphear ·

As dit waar is, vra HOEKOM het dit gebeur? Kyk wat hulle aan ons doen as hulle suksesvol is in ‘n plaasaanval. Google bietjie.

Madel ·

Dis verskriklik sad dat die jong seuns se lewens nou so in chaos is.

Gatvol ·

Hoekom word ons so gepeper met vrae. Ons kry 10-15 jaar en as dit andersom is kry die ou 5jr en na 2jr kom hy uit????

Leahim ·

Dit is erg nou draai hulle op mekaar tipies sterkte aan die beskuldigdes ek hoop julle kry geregtigheid en die joiners moet onthou as jy op jou mense draai om jou eie bas te red gaan die ander kant jou nie aanvaar nie want jy het jou ware kleure gewys.

Jaco ·

Die waarheid gaan op n stadium uitkom. As almal maar net die waarheid van die begin af praat. Dit help nie jy probeer die pad oop lieg nie, dit sal altyd in jou gesig ontplof.

Andrea ·

My gedagtes ook! Draai teen mekaar. Hoekom dan enigsins by sulke aanvalle betrokke raak? Los maar die verdagtes, want leer jul hul n les, en die papaja beland in die waaier, gaan jul nie bymekaar staan nie.

Andre ·

Soos met die Anglo-Boere-oorlog, die ’92 Referendum, die Boeremag aangeleentheid, en nou weer in hierdie geval, is dit duidelik dat die kanker tussen ons is. Hou op om ander mense en ander nasies te blameer vir die situasie waarin ons verkeer, ons eie mense is ons doodsteek.

Daan ·

Net een vraag aan al die koerante om asb iets daaromtrent te doen, wat van die saak van die swart bier en sy vrou en hulle werkers wat 3 aanvallers gevang het, 12 uur gemartel het en een aanvaller dood is, dit het in Januarie gebeur en nog niks is daaroor gesê behalwe die Sowetan met die plakaat Farmer tortures man to death. Vind bietjie vir ons uit wanneer begin die saak

Kobie ·

15 jaar per man. geruie is reg grootgemaak. praat net die waarheid. 2 mense doodgeslaan deur boere.

manne los die ringe vir manne wat kan.

anton ·

Net weereens n bewys dat die Afrikaners NIE kan saam staan nie!!!!
Geen wonder die land is waar hy is nie!!!

bothaqii ·

Ai dis sleg kyk hoe word die boere behandel en uitgehaal,maar word die ” ander” wat PLAAS MOORDE pleeg en some gesinne dood maak vir geen denkbare rede so gepeper en gebrand merk. Die BOERE is GATVOL en KLA! Wens die regering wil wakker skrik…Se manet!!!

Marlene ·

Ek kan nie glo wat ek lees op hierdie kommentaar nie…. Dit wat hulle gedoen het is barbaars. Punt. Eks is so moeg dat velkleur alewig n kwessie is. Ons gaan so nerens kom nie. Two wrongs does not make n right.

bgj van der westhuizen ·

wel almal vergeet hoekom het dit gebeur die boer was aan geval en as die staat eits aan die probleem gedoenhet sal mense nie wet in eie hande neem nie en die wat nou praat om hulle self uit die gemors te kry moet onthou hulle is gemerk die res van hulle lewe en sal dalk baie nie meer welkom wees nie sal moet trek

Dirk01 ·

Ek dink die vrees en geskiedenis van wreedheid in plaas aanvalle en moorde het hier gemaak dat die boere ooreageer het en dinge gedoen het wat deur die situasie vererger is .Ek kan verstaan dat mense nie bereid is om pa te staan vir iets wat hulle nie gedoen het nie joiner of te nie ek sit nie in n tronk vir iets wat ek nie gedoen het nie .Ek dink wel die plaas boere leer duur lesse maar sal wel die gety draai en plaas moorde suksesvol afwend in so mate dat krimenele sal besef die risiko om te sterf is nie die moeite werd nie .Boere maak julle self bekend met die wet en kry gereelde kundige opleiding

cr ·

Ja, die rede vir dit wat gebeur het is as gevolg van: al die plaas aanvalle, moorde op Boere, diefstal van Boere, ens……. Die Boere is nou net keelvol vir weteloosheid van die regering wat te slap is om enige iets daaraan te doen. Hulle neem reg in eie hande want die polisie is maar ook net ‘n pion van ‘n korupte regering. As ek die Boere kan raad gee, maak seker niemand neem video’s van enige iets en as daar so iemand is, laat hy dan sy kop skud sodat sy ore hom kan wakker klap en vernietig sy foon en druk dit dan iewers in sodat hy wens hy het dit nooit gedoen.

petrie ·

Al wat ek kan sê is dat die Here sê jy mag nie doodslaan nie. Maak nie saak of jy wit of swart of pienk of blou is nie. Hoe kan ‘n mens moord regverdig as die Here sê jy mag nie moor nie. Almal wat dit doen, ongeag die velkleur, sal wel eendag verantwoording doen vir hulle dade.

WONDER ·

Almal skryf hier Afrikaners kan nie saamstaan nie. Nou wonder ek maar het verwag mense dat getuies hulle storie moet aanpas maw lieg net omdat hulle Afrikaners is? As ek nie saamstem met die optredes van ‘n Afrikaner wat ‘n misdaad gepleeg het hoe kan dit my ‘n verraaier maak? Dit maak eerder die wat saamstem mense wat hulle siel verkoop net ter wille van ‘n sogenaamde samehorigheid en trots. As hulle dienou vermoor het wat moet die getuies doen? Lieg?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.