Parys-boere: Ma in trane oor dokter se getuienis

Die beskuldigdes in die hof. Foto: Mariné Lourens

Die hooggeregshof in Parys het Dinsdagoggend tydens die sogenaamde Parys-boere-moordverhoor gehoor een van die oorledenes, Samuel Tjixa, het geen ooglopende bloeding aan sy liggaam gehad ure voordat hy in die hospitaal dood verklaar is nie.

Dr. Sifiso Nxumalo het Dinsdagoggend sy getuienis voortgesit. Nxumalo was die aand van 6 Januarie 2016 aan diens toe Tjixa en Simon Jubeba by die ongevalle-afdeling van die hospitaal in Parys ingebring is.

Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, kapt. Henk Prinsloo, Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen en Miela Janse van Vuuren word aangekla van die moord op Tjixa en Jubeba. Die staat beweer die ses beskuldigdes was deel van ʼn groep boere in die gemeenskap wat op 6 Januarie 2016 vir Tjixa en Jubeba op die plaas Swartklip aangekeer en so erg aangerand het dat hulle later in die hospitaal aan hul beserings beswyk het.

Nxumalo het Maandag getuig hy is omstreeks 22:00 na ongevalle ontbied toe die twee mans ingebring is. Hy het die twee mans vinnig geassesseer en bepaal Jubeba het eerste mediese aandag nodig gehad. Nadat hy Jubeba behandel het en hom van ʼn lugwegbuis voorsien het, is Jubeba per ambulans na die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas.

Adv. Jabulani Mlotshwa, die staatsaanklaer, het Nxumalo Dinsdag uitgevra oor die diep sny aan Jubeba se agterkop wat volgens hom 3 tot 4 cm in lengte was en hy meen ongeveer 3 cm diep was. Nxumalo het aan die hof gesê na sy mening kon dié sny nie veroorsaak word deur iemand wat die pasiënt geskop het nie. Op ʼn vraag van Mlotshwa of die sny deur die agterkant van ʼn vuurwapen veroorsaak kon word, het Nxumalo ja geantwoord.

Volgens Nxumalo het hy tydens sy behandeling van Tjixa opgemerk dat hy erge kneusing aan sy bors opgedoen het. Die pasiënt was egter in staat om self asem te haal en volgens Nxumalo was daar geen ooglopende aktiewe bloeding sigbaar nie. Die pasiënt se oë was ook erg geswel. Nxumalo het gesê die pasiënt se telling op die Glasgow-komaskaal was 14 uit 15. Die Glasgow-komaskaal word gebruik om die bewustheidstoestand van ʼn pasiënt aan die hand van spesifieke aspekte te bepaal.

Ruth Qokotho, Tjixa se ma, het tydens Nxumalo se getuienis oor Tjixa se beserings in trane uit die hof gestap.

Dr. Sifiso Nxumalo. Foto: Mariné Lourens

Nxumalo het getuig omdat dit buite kantoorure was, kon hy nie onmiddellik X-strale van Tjixa laat neem nie. Hy het egter gevrees dat hy beserings aan sy longe of hart kon opgedoen het en dat sy lewe dus in gevaar kon wees. Hy het hom in ʼn saal by die hospitaal laat opneem met die voorneme om hom deur die nag te laat monitor en die volgende oggend X-strale van sy bors en kop te laat neem. Hy het gesê indien dit dan nodig sou wees, sou hy die pasiënt ook na Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein laat oorplaas het.

Volgens Nxumalo het ʼn suster hom omstreeks 04:00 gebel en versoek dat hy die pasiënt in die saal kom sien. Hy het getuig hy was egter besig met ander noodgevalle in die ongevalle-afdeling en het onderneem om te kom sodra hy daar klaar was. Om 05:00 het die suster hom weer gebel. Nxumalo het om 06:00 in die saal aangekom.

Hy het getuig die pasiënt se oë was baie erg geswel, sy neus het gebloei en hy kon geen polsslag by die pasiënt vind nie. Volgens Nxumalo het hy toe vermoed dat die pasiënt breinskade kon opgedoen het. Tjixa is in die saal dood verklaar.

Op ʼn vraag van Mlotshwa wat hy sou gedoen het as hy reeds 04:00 by die pasiënt aangekom het, het Nxumalo geantwoord daar sou nie veel meer gewees het wat hy kon doen behalwe om die pasiënt ook na Pelonomi-hospitaal te laat oorplaas nie. Volgens Nxumalo het hy die afleiding gemaak dat die pasiënt ʼn kopbesering moes opgedoen het voordat hy by die hospitaal aangekom het, wat uiteindelik tot sy dood gelei het.

Nxumalo het op ʼn vraag van die staat ook bevestig daar was deurentyd ʼn polisiebeampte saam met Tjixa in die saal voordat hy dood verklaar is.

Die verdediging het daarna aan die hof gesê dat gedeeltes van die kopieë van die hospitaalrekords wat in hul besit is byna onleesbaar is. Die hof het tydelik verdaag om die onderskeie regspanne geleentheid te gee om dié kwessie uit te sorteer.

Die verhoor duur voort.

Lees alle vorige berigte oor die Parys-boere op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Kwikkie ·

KAN HULLE ASB AL DIE PLAASMOORDENAARS OOK SO HANTEER!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

jan_alleman ·

die saak gaan nou al so lank aan , wat het die mannetjie op die plaas gesoek in die eerste plek ? ek neem aan hy was besig met sendingwerk ?

Helene Heyns ·

Ja, ons is ook in trane omdat ons mense so wreed vermoor word. Sal hierdie moordenaars ook so ywerig vervolg word dit wil sê AS hul ooit gevang word.

Necklace ·

Ma van OORTREDER in trane, wat van al die boere se trane? Die TRANE van die aanvallers se ouers en familie tel altyd baie meer as die vermoorde boere se familie se trane. Die BOERE het reg in eie hande geneem omdat die polisie niks doen aan plaasaanvalle nie. Daar word daagliks boere vermoor en die polisie en parlementslede was hulle hande in onskuld. Hoekom gaan julle nie so aan tydens mobjustice in townships waar swartmense ander necklace nie of is dit nie so erg nie?

Hanna ·

Ek glo nie hierdie Boere het bedoel on iemand dood te maak nie. Hulle het bloot op 2 diewe wat moontlik plaasaanvallers kon wees, afgekom en beheer verloor. Ek kan die boere se frustrasie met misdaad heeltemal begryp! Jammer dat dinge toe so moes uitdraai…. sterkte!

skerpioen ·

Ek wonder nou maar net oor die Dr se kwalifikasies… hy sit eers ‘n drup in voordat hy ‘n pyp in die lugweg insit? Ek wonder maar net…. buite ure virx-trale? As die ouens dalk beter mediese hulp gekry het kon hulle dalk nog vandag gelewe het? Kyk dit was nie reg om hulle so erg aan te rand in die eerste plek nie. Maar dit voel vir my die boere gaan nou swaar gestraf word en dit omdat daar nie ordentlike mediese hulp beskikbaar was nie…. ai toggie…

wipstert ·

Hoelaat is die twee mense aangerand? Dit was die middag as ek reg onthou… en die dokter word eers 22:00 na ongevalle ontbied toe pasiënte daar arriveer…. waar was hulle dan die heeltyd? ? ?

wipstert ·

Die mense is reeds die middag aangerand…. waar was hulle die heeltyd dat hulle eers 22:00 by die hospitaal gearriveer het?

SjN ·

Volgens my is die persoon dood weens nalatigheid by die hospitaal

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.