Parys-boere: Moordverhoor vertraag

Anton Loggenberg en kapt. Henk Prinsloo in die hof (18 Mei 2017). Foto: Maroela Media

Die verhoor van die ses mans van Parys in die Vrystaat wat teregstaan op twee aanklagte van moord in verband met die dood van twee vermeende plaasaanvallers is nie Woensdagoggend in die hooggeregshof hervat soos verwag nie.

Die verhoor is Dinsdag onverwags onderbreek nadat die staat ʼn hofaansoek ingedien het dat Anton Loggenberg (50), een van die beskuldigdes in die saak, se borgtog teruggetrek moet word.

Loggenberg word saam met sy seun Cor Loggenberg, Boeta van der Westhuizen, kapt. Henk Prinsloo, Loedie van der Westhuizen en Miela Janse van Vuuren aangekla van die moord op Samuel Tjixa en Simon Jubeba. Die staat beweer die ses mans was deel van ʼn groep wat Tjixa en Jubeba op 6 Januarie 2016 op die plaas Swartklip, buite Parys, aangekeer en só erg aangerand het dat hulle later in die hospitaal aan hul beserings beswyk het.

Al ses mans is verlede jaar op borgtog vrygelaat. Die staat wil nou egter hê Anton Loggenberg se borgtog moet teruggetrek word omdat hulle beweer hy het sy borgtogvoorwaardes verbreek. Die staat beweer Loggenberg het in ʼn selfoongesprek met Ockert van Zyl, een van die staat se getuies, gesê hy sal al die artikel 204-getuies doodmaak.

ʼn 204-getuie verwys na getuies wat getuig in terme van artikel 204 van die Strafproseswet. Dié getuies gaan ʼn ooreenkoms met die staat aan in ruil vir hul getuienis.

Die ses beskuldigdes Dinsdag (23 Mei 2017) in die beskuldigdebank. Van links is Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, kapt. Henk Prinsloo, Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen en Miela Janse van Vuuren. Voor staan Hannes Grimbeek, ‘n lid van die verdediging se regspan. Foto: Maroela Media

Loggenberg het Dinsdag vlugtig voor landdros Gustav Prinsloo verskyn in verband met hierdie saak. Kobus Burger, Loggenberg se regsverteenwoordiger, het tydens hierdie verskyning aangedui dat hulle die staat se aansoek sal teenstaan. Prinsloo het hom egter aan die saak onttrek en gesê aangesien hy die beskuldigde ken, mag die indruk moontlik ontstaan dat die hof bevooroordeeld is.

Die saak is tot vanoggend uitgestel sodat ʼn landdros van elders gekry kan word om die saak aan te hoor. Intussen is die moordverhoor, wat voor regter Corné van Zyl aangehoor word, ook tot vanoggend om 09:00 uitgestel sodat die jongste aansoek eers afgehandel kan word.

Lede van die verdediging se regspan het aangedui dat sekere hofprosesse eers afgehandel moet word voordat die saak in verband met Loggenberg se borgtog voor ʼn nuwe landdros aangehoor kan word. Die verwagting is in dié stadium dat dié saak vanmiddag aangehoor sal word. Die moordverhoor sal na verwagting Donderdag hervat word.

Wanneer die moordverhoor hervat word, sal Fanie Oosthuizen (44), ʼn plaasvoorman van die Parys-omgewing en ʼn artikel 204-getuie, se kruisondervraging voortgesit word.

Lees alle vorige berigte oor die Parys-boere op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Boerseun ·

Ek is jammer vir hierdie manne vir die penarie waarin hulle is. Wanneer gaan die boere agterkom dat dit net nie die moeite werd is om iets te doen wat jou op aanklag van moord in die hof laat beland nie?

Michael barnard ·

Die boere moet die valke los dat hul hul werk self doen want as hul help word hul aangekla

Elmrie ·

Waar gaan die land eindig met al die moorde ek hieveel mense mot nog hulle lrwens verloor in die land voor daar opgetree wordsksnde dst ons land soo uitmekaar val
Hoverl boere leev in vrees vir hylle gesineen niemand gee aandag aan dit nieskande

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.