Parys-boere: Oorledene ‘breindood met aankoms by hospitaal’

Anton Loggenberg en kapt. Henk Prinsloo in die hof (18 Mei 2017). Foto: Maroela Media

ʼn Dokter het Maandag in die hooggeregshof in Parys tydens die opspraakwekkende moordverhoor teen ses mans van die distrik getuig een van die oorledenes was reeds breindood met sy aankoms by ʼn hospitaal in Bloemfontein in Januarie 2016.

Anton Loggenberg (50), Cor Loggenberg (20), Boeta van der Westhuizen (46), kapt. Henk Prinsloo (47), Loedie van der Westhuizen (19) en Miela Janse van Vuuren (23) word aangekla van die moord op Samuel Tjixa en Simon Jubeba. Die staat beweer die ses beskuldigdes was deel van ʼn groep boere in die gemeenskap wat op 6 Januarie 2016 vir Tjixa en Jubeba op die plaas Swartklip aangekeer en so erg aangerand het dat hulle later in die hospitaal aan hul beserings beswyk het.

OFM berig dr. Werner van Tonder, ʼn getuie vir die staat, het getuig een van die oorledenes is op 7 Januarie 2016 na die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas. Volgens Van Tonder was die man met sy aankoms by die hospitaal reeds breindood en nie in staat om self asem te haal nie. Van Tonder het getuig hy het ernstige kopbeserings gehad, swelling aan sy gesig en beserings aan sy bors.

Die ses beskuldigdes in Mei 2017 in die hof. Van links is Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, kapt. Henk Prinsloo, Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen en Miela Janse van Vuuren. Voor staan Hannes Grimbeek, ‘n lid van die verdediging se regspan. Foto: Maroela Media

Lina Maronsela, ʼn werker van die Vrystaatse nooddienste, het vroeër in die verhoor getuig sy is die aand van die beweerde aanranding na die toneel ontbied waar Tjixa en Jubeba aangekeer is. Maronsela het in haar getuienis aan die hof gesê een van die beseerdes het ʼn snywond agter sy kop gehad wat baie gebloei het. Die persoon het ook bloed in sy mond gehad wat sy meen inwendige bloeding was.

Die tweede persoon het ʼn snywond aan sy ken gehad. Maronsela het getuig albei beseerdes het kneusplekke aan hul bors en swelling aan hul gesigte gehad. Maronsela het onder kruisondervraging toegegee sy kon nie bepaal of die mans inwendige bloeding gehad het of nie, aangesien sy slegs hul uitwendige beserings kon sien.

Dr. Buang Lairi, ʼn patoloog wat die nadoodse ondersoeke op Tjixa en Jubeba gedoen het, het vroeër in die verhoor getuig die twee mans het veelvuldige beserings gehad, maar aan breinbeserings gesterf. Een van die oorledenes het in ʼn hospitaal in Parys gesterf, terwyl die tweede oorledene na die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas is, waar hy later ook gesterf het.

Die saak duur voort.

Lees alle vorige berigte oor die Parys-boere op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.