Parys-boere: Patoloog kruisondervra

Van links is Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, kapt. Henk Prinsloo, Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen en Miela Janse van Vuuren tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Maroela Media.

ʼn Patoloog wat die nadoodse ondersoeke gedoen het op die twee oorledenes van wie se moord ses mans van Parys nou aangekla word, is Dinsdag in die hooggeregshof gepols oor die manier waarop die oorledenes hul beserings opgedoen het.

Boeta van der Westhuizen (46), Loedie van der Westhuizen (19), Anton Loggenberg (50), Cor Loggenberg (20), Miela Janse van Vuuren (23) en kapt. Henk Prinsloo (47) staan tereg op twee aanklagte van moord in verband met die dood van Samuel Tjixa en Simon Jubeba. Die staat beweer die ses beskuldigdes was deel van ʼn groep mans wat Tjixa en Jubeba op 6 Januarie 2016 op die plaas Swartklip, net buite Parys, aangekeer en so erg aangerand het dat hulle later in die hospitaal aan hul beserings beswyk het.

Die ses beskuldigdes het skuld op al die aanklagte teen hulle ontken. Die verdediging voer aan Tjixa en Jubeba het daardie dag vir Loedie van der Westhuizen sr., Boeta se pa, op sy plaas Biesiesbult aangeval en aangerand. Tjixa en Jubeba het na bewering gevlug toe Van der Westhuizen sr. die paniekknoppie gedruk het.

Die hof het vroeër gehoor Tjixa en Jubeba is by die toneel, waar hulle glo aangekeer is, agter in ʼn polisievangwa gelaai wat met hulle in die rigting van die dorp gery het. Sers. Gerhard Keyser, ʼn lid van die SAPD in Parys wat daardie aand op die toneel was, het vroeër aan die hof gesê Tjixa en Jubeba was ernstig beseer en albei was bewusteloos. Keyser het die vangwa bestuur tot by ʼn plek langs die pad, ongeveer 12.8 km van die toneel, waar hulle die ambulans ontmoet het. Die twee beseerde mans is daar in die ambulans oorgelaai wat hulle hospitaal toe geneem het.

Regter Corné van Zyl. Foto: Mariné Lourens

Regter Corné van Zyl, die ses beskuldigdes, die onderskeie regspanne en lede van die ondersoekspan het Dinsdagoggend die toneel by Swartklip besoek. Daar het Keyser voor die konvooi voertuie gery om die pad aan te dui wat hy daardie nag met die twee beseerde mans gery het.

Dr. Buang Lairi is reeds verlede week na die getuiebank geroep en was Maandag heeldag en weer Dinsdagmiddag onder kruisverhoor geneem. Lairi het vroeër getuig Tjixa en Jubeba het veelvuldige beserings gehad, maar het aan breinbeserings gesterf.

Adv. Hans de Bruin vir die verdediging het Lairi Dinsdag uitgevra oor ʼn wond aan die onderkant van een van die oorledenes se oog. Daar is vroeër beweer die wond is moontlik veroorsaak nadat die oorledene met ʼn rewolwer geslaan is. De Bruin het dit aan Lairi gestel dat daar nie uitermatige krag gebruik is om die wond toe te dien nie en Lairi het met die stelling saamgestem. Hy het gesê die been onder die wond was nie gebreek nie en indien uitermatige krag gebruik is, sou die been waarskynlik gebreek gewees het.

De Bruin wou by Lairi weet of een van die oorledenes se blou gekneusde oë die oorsaak kon wees van iemand wat hom van agter af platgeduik het en hy wat op sy gesig geval het. Lairi het gesê hy twyfel of dit die geval was omdat hy meen indien iemand op sy gesig geval het, sou daar skaafplekke op sy gesig sigbaar gewees het.

Van die beskuldigdes en hul regspan tydens die ondersoek ter plaatse. Foto: Mariné Lourens

De Bruin het Lairi ook uitgevra oor die rowwe terrein waarop die polisievangwa gery het en die moontlikheid dat die beseerdes agter in die vangwa die beserings opgedoen het. De Bruin het die stelling gemaak dat Lairi wegskram van die feit dat die mans moontlik agter in die vangwa beseer is.

Adv. Jabulani Molotswa vir die staat wou by Lairi weet of enige van die oorledenes se beserings veroorsaak kon word deur hulle wat agter in die vangwa rondgeskud het toe die polisievoertuig op die rowwe terrein gery het. Lairi het gesê dit is moeilik om te bepaal of die mans die beserings opgedoen het voor of nadat hulle in die vangwa geplaas is. Hy het erken dit is wel ʼn moontlikheid dat die mans in die vangwa beseer is, maar het gesê indien die vangwa so stadig gery het soos die voertuie vandag op die toneel gery het, twyfel hy of die twee mans enige beserings agter in die vangwa sou kon opdoen.

Die verhoor sal môre hervat.

Lees alle vorige berigte oor die Parys-boere op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

buks ·

Dankie boere wat julle vir my en my familie en vriende se famielies beteken ek is aan julle kant.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.