Parys-boere: Polisieman getuig oor toneel

Die beskuldigdes in die Parys-landdroshof (4 Mei 2017) Foto: Maroela Media

Die eerste getuie in die sogenaamde Parys-boere-moordsaak, was Donderdagmiddag in die getuiebank in die hooggeregshof in dié Vrystaatse dorp.

Boeta van der Westhuizen (46), sy seun Loedie van der Westhuizen (19), Anton Loggenberg (50), sy seun Cor Loggenberg (20), Miela Janse van Vuuren (23) en kapt. Henk Prinsloo (47) was weer in die beskuldigdebank. Hulle staan tereg op ʼn aanklag van moord in verband met die dood van Samuel Tjixa en Simon Jubeba. Boeta en Loedie word ook op ʼn derde aanklag van regsverydeling aangekla.

Sers. Gerhard Keyser, ʼn lid van die SAPD in Parys, is as die eerste getuie geroep. Keyser het getuig hy was die aand van 6 Januarie 2016 aan diens. Volgens Keyser het iemand van Parys Security Services, ʼn privaat veiligheidsdiens op die dorp, die polisiestasie geskakel en aangemeld dat Loedie van der Westhuizen sr. op sy plaas Biesiesbult aangerand is. Van der Westhuizen sr. is Boeta se pa.

Keyser het getuig dat hy met sy aankoms by die plaas vir Boeta by die hek ontmoet het. Boeta het aan hom gesê hy kan solank na die huis gaan waar Van der Westhuizen sr. is en dat hy [Boeta] gaan help om na die aanvallers te soek.

Keyser het gesê met sy aankoms by die plaashuis, het hy Van der Westhuizen sr. aangetref. Hy het bloedmerke aan sy arm en gesig gehad en dit het voorgekom asof hy aangerand is. Van der Westhuizen sr. het beweer hy was die slagoffer van ʼn plaasaanval en het gesê nadat hy die paniekknoppie in die huis gedruk het, het die aanvallers gevlug.

Keyser het gesê hy het ongeveer ʼn uur en ʼn half op die plaas Biesiesbult spandeer voordat hy na die plaas Swartklip ontbied is waar die beweerde plaasaanvallers glo aangekeer is. Die toneel waar die twee mans aangekeer is, was volgens Keyser ongeveer 4 km weg van van Van der Westhuizen sr. se huis af.

Keyser het gesê met sy aankoms by die toneel op Swartklip het hy die twee beweerde plaasaanvallers gesien waar hulle agterop ʼn bakkie gelê het. Volgens Keyser was die twee mans ernstig beseer, bewusteloos en het hulle vlak asemgehaal. Hy het gesê daar was ongeveer 12 mense op die toneel en ongeveer vyf of ses ander voertuie. Hy het gesê hy kan nie onthou of daar honde op die toneel was nie. Hy het wel getuig Prinsloo, een van die beskuldigdes, het aan hom gesê die twee beseerde mans is moontlik deur honde aangeval.

Keyser het gesê Prinsloo het ook aan hom gesê die twee mans was verdagtes van die plaasaanval op Van der Westhuizen sr. se plaas en dat hulle in hegtenis geneem moet word. Die verdediging het dit ontken en aangevoer Prinsloo was wel op toneel, maar het nooit opdrag gegee dat die twee mans in hegtenis geneem moet word nie.

Keyser het verder getuig hy het gehelp om die twee beseerdes agter in die polisiewa te laai en het daarna stadig en versigtig gery om die ambulans langs die pad te ontmoet wat hulle hospitaal toe sou neem. Die verdediging het aangevoer die beseerdes is net agter in die polisiewa gedruk, maar Keyser het dit ontken en gesê hulle is versigtig in die polisiewa gelaai.

Keyser het verder getuig Van der Westhuizen sr. het gesê een van die plaasaanvallers het ʼn vuurwapen by hom gehad, maar dat nie een van die beseerdes ʼn vuurwapen by hulle gehad het nie. Adv Hans de Bruin, vir die verdediging, wou weet of hy vir ʼn vuurwapen gesoek het en hy het geantwoord hy het, maar hy kon nie ʼn vuurwapen op die toneel kry nie.

Die beseerdes is na ʼn hospitaal in Parys geneem waar albei later oorlede is.

Die staat het vroeër aangedui van die getuies wat geroep sal word, sluit inwoners van die Parys-omgewing in wat beweer hulle het gesien hoe die ses beskuldigdes die oorledenes aangerand het. Ander getuies wat vir die staat sal getuig sluit dokters en mediese personeel in wat die oorledenes behandel het, ʼn patoloog wat die nadoodse ondersoeke gedoen het en familielede van die oorledenes.

Die saak sal Vrydagoggend hervat.

Lees alle vorige berigte oor die Parys-boere op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johannes Meintjes ·

Soos met die skandalige “Boeremagsaak” bly ons mense op grondvlak uitgelewer aan hulle eie genade en pogings ter oplossing, terwyl Afrikaner “leiers” mekaar verwerp, wederstrewig handel, belangrik lyk, poseer vir fotos, toesprake maak, berade hou, ledegeld insamel en niks tasbaars uitrig ten opsigte van selfbestuur en selfbeskikking sodat die blanke Afrikaner kultuurgroep stigtelik met hul lewe en nasionale ekonomiese bydrae kan voortgaan nie. Alle sogenaamde Afrikaner “leiers” hoort ook in die hof aangekla te word!

SARIE VAN HEERDEN ·

Let maar op. Hierdie saak gaan nou BAIE ooggetuies oplewer wat persoonlik gesien het hoe die oorledenes vermoor word. Maroela sal daaroor berig. Coligny hier kom ons.

Willie ·

Vra die FW de Klerk stigting om hulle te help. Hy het die manne in die penarrie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.