Parys-boere-saak hervat

Van links is Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, kapt. Henk Prinsloo, Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen en Miela Janse van Vuuren tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Maroela Media.

Die verhoor teen ses mans van Parys wat aangekla word van die moord op twee beweerde plaasaanvallers, sal Maandag in die hooggeregshof in dié Vrystaatse dorp hervat.

Anton Loggenberg (50), Cor Loggenberg (20), Boeta van der Westhuizen (46), kapt. Henk Prinsloo (47), Loedie van der Westhuizen (19) en Miela Janse van Vuuren (23) word aangekla van die moord op Samuel Tjixa en Simon Jubeba.

Die staat beweer die ses beskuldigdes was deel van ʼn groep boere in die gemeenskap wat op 6 Januarie 2016 vir Tjixa en Jubeba op die plaas Swartklip aangekeer het. Dit is nie ver van die plaas Biesiesbult nie, waar Loedie van der Westhuizen sr., Boeta se pa, na bewering die betrokke dag in sy huis aangeval en aangerand is.

Volgens die staat het die boere vir Tjixa en Jubeba so erg aangerand dat hulle later in die hospitaal aan hul beserings beswyk het. Die ses beskuldigdes het skuld op al die aanklagte teen hulle ontken.

Die beskuldigdes, hul regspanne en die regter op die toneel (Mei 2017). Foto: Mariné Lourens

Die verhoor het in Mei vanjaar begin waartydens daar onder meer ʼn ondersoek ter plaatse gedoen is. Dr. Buang Lairi, die patoloog wat die nadoodse ondersoeke op die oorledenes gedoen het, het vroeër getuig Tjixa en Jubeba het veelvuldige beserings gehad, maar het aan breinbeserings gesterf.

Die staat het reeds verskeie getuies geroep, onder meer vir Ockert van Zyl, ʼn boer uit die Parys-gemeenskap, wat ook die dag op die toneel was waar Tjixa en Jubeba aangekeer is. Van Zyl het in die hof getuig Boeta het een van die beseerde mans met ʼn rubberband geslaan wat vir hom soos ʼn waaierband gelyk het. Hy het getuig Boeta het die beseerde man aanhoudend gevra waar die rewolwer is.

Van Zyl het ook getuig Prinsloo het dieselfde man as wat Boeta aangerand het met ʼn tipe skokstok “op sy privaatdele” geskok. Hy het gesê terwyl die aanranding gebeur het, “het daar bloed gespat” en hy het weggestaan van die voertuig af omdat hy nie wou hê die bloed moet op hom spat nie. Van Zyl het tydens sy getuienis gesê dat daar “aksie” op die toneel was. “Dit was wild gewees. Soos twee honde op ʼn haas; hulle het inligting gesoek,” het hy gesê.

Stephanus Johannes Cilliers, nog ʼn boer, het vroeër getuig hy was ook die aand op die toneel en het gesien hoe Loedie een van die beweerde plaasaanvallers klap en met ʼn “bobbejaanspanner” op die grond langs die verdagte geslaan het.

Boeta van der Westhuizen en Anton Loggenberg. Foto: Mariné Lourens

Fanie Oosthuizen, ʼn plaasvoorman van die Parys-omgewing, het tydens sy getuienis voor die hof beweer hy was ook die betrokke dag op die toneel en het gesien hoe Loedie een van die verdagtes skop terwyl die verdagte op die grond gelê het. Oosthuizen, wat ingevolge artikel 204 van die Strafproseswet as staatsgetuie getuig het, het ook erken hy het een van die verdagtes se arm agter sy rug gedraai en hom gevra waar die vuurwapen is.

In Mei het adv. Hans de Bruin, ʼn lid van die verdediging se regspan, hom onverwags aan die saak onttrek. De Bruin het sy redes hiervoor agter geslote deure aan regter Corné van Zyl verskaf en die redes is nie in die hof openbaar gemaak nie. Die staat het De Bruin se onttrekking aanvaar.

Oosthuizen se kruisondervraging is in Augustus deur ʼn ander lid van die verdediging se regspan behartig, voordat die saak tot November uitgestel is. Die verhoor is van 6 tot 24 November op die hofrol geplaas.

Lees alle vorige berigte oor die Parys-boere op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Frikkie Geld en huis ·

Ironies, nè. En so dikwels lees ons in MM en ander koerante se kommentare, dat dit nou tyd is vir die blankes om saam te staan. Saam met wie, is gewoonlik in my denke. Een of ander grootbek gaan die “leiding” neem, en nie lank daarna nie, die res uitverkoop vir ‘n paar rand. Wie het sedert 1992 die blankes in die staatsdiens & munisipaliteite uitgewerk om plek te maak vir die swartes?? Mede blankes!!! Ek staan liewer op my eie. Ek vaar heel goed.

Denise ·

Patetiese nou veraai die boere al mekaar in n tyd wat hulle moet saam staan of dit nou reg of verkeerd was !!!!!!!

Haan ·

Ons dink verniet ons grootste vyand is die aanvallers… Ons grootste vyand is verraaiers

christa ·

die boere moet pa-staan vir die aanranding., maar oor die skuldiges word niks gedoen nie. Wat ‘n belaglike regstelsel het ons nie.

Sê maar net. ·

Ek is skoon stom. Dit bewys weereens dat jy absoluut niemand kan vertrou nie. Ons moet nou maar stoksielalleen die bose beveg want jou “vriend” en mede stryder kan jou verraai. Hier is ‘ n duidelike voorbeeld van verraad.

Oom Doug ·

Daar is n plek in die Oos Transvaal met die naam verraaiers nek. Jy jong dit gebeur.
Sad.

JJ ·

Ek dink persoonlik dit is nie oor verraad nie maar meer oor my “60 sec of fame “voor die TV ….
en ja ek stem saam dit is skrikwekkend dat jy nie eers op jou mede mens kan staatmaak nie
dog ek se ook maar net

Leeu ·

As ek daar was, en ek’t nie deel aan die moord nie, sal ek ook getuig teen die ander. Dan is ek die verraaier, maar niemand se niks oor die moordenaar nie. Al hoe n geheim tussen 2 kan oorleef, is as een in die graf is.

Callie ·

Kom al van die Angloboereoorlog af. Ergste is jy verraai mense wat opgetree het oor niemand dit vir hulle doen nie. Onthou, jy is wit al is jy aan die kriminele se kant. Hoe groot gaan jou ontnugtering wees die dag as hulle jou of jou familie uit haal

Buks Barnard ·

Nog ‘n paar name om onder die opskrif, VERRAAIERS, in die geskiedenis aan te teken…

Lindie badenhorst ·

Ek stem saam. Sies. Boer getuig teen boer. Mag jy nooit ooit deel van die statistieke word nie. Hierdie is nie n rasse kwessie nie. Enige mens wit, swart pienk of pers sal by my pak kry as daar n hand op my ouer gele word

bgj van der westhuizen ·

wat die staat vergeet dat die mense in so op gewerk raak wand dit is weer in aan val op n plaas en as die staat sy werk gedeon het om te sorg dat hulle veilig was sal dit nie gebeur het nie ek dink al die mense wat aan gekla is moet nou n saak teen die regering doen om dat die versuim het om vielig hied te bring vir boere en die wat getuig teen boere was seker gedrieg om aan te kla te word as hulle nie getuig nie hulle span wit teen wit in as swart dood maak staan hulle saam en praat nie hulle beskerm mekaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.