Parys-boere: Só het dit gebeur, sê staat

Van links is Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, kapt. Henk Prinsloo, Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen en Miela janse van Vuuren. Foto: Maroela Media.

Die verhoor van die ses mans van Parys in die Vrystaat wat aangekla word van die moord op twee vermeende plaasaanvallers, het Donderdag amptelik in die hooggeregshof begin.

Dit kom nadat die verhoor nie Dinsdag of Woensdag, soos beplan, begin het nie, omdat die verdediging ʼn aansoek gebring het om die staat te versoek om inligting wat met die saak verband hou aan hulle te oorhandig.

Boeta van der Westhuizen (46), sy seun Loedie van der Westhuizen (19), Anton Loggenberg (50), sy seun Cor Loggenberg (20), Miela Janse van Vuuren (23) en kapt. Henk Prinsloo (47) staan almal tereg op die moord op Samuel Tjixa (34) en Simon Jubeba (24). Boeta en Loedie word ook op ʼn derde aanklag van regsverydeling aangekla. Al die beskuldigdes het skuld ontken op al die aanklagte teen hulle.

Die staat voer aan die beskuldigdes was betrokke by die moord op Tjixa en Jubeba. Die twee mans is op 6 Januarie 2016 deur boere van die Parys-omgewing op ʼn plaas aangekeer en glo só erg aangerand dat hulle later in die hospitaal aan hul beserings beswyk het. Boere van die omgewing het voorheen beweer Tjixa en Jubeba was deel van ʼn aanval op Loedie van der Westhuizen sr., Boeta se pa, se plaas.

Adv. Sandile Mthethwa vir die staat het Donderdag in die hof ʼn lys voorgelees van sommige van die getuies wat deur die staat geroep sal word om te getuig en ʼn uiteensetting gegee van wat hul getuienis sal wees. Verskeie van die getuies sluit inwoners van die Parys-omgewing in wat beweer hulle was die dag van die beweerde plaasaanval teenwoordig toe Tjixa en Jubeba op die plaas Swartklip deur die boere aangekeer is.

Volgens die staat sal van die getuies getuig dat hulle self deelgeneem het aan die aanranding van die oorledenes. Hulle sal ook glo getuig dat hulle gesien het hoe die ses beskuldigdes die oorledenes aangerand het met onder meer ʼn waaierband, ʼn kierie en ʼn bobbejaanmoersleutel. Hulle beweer ook die beskuldigdes het die oorledenes geskop en op hul liggame en koppe getrap.

Een van die getuies, ʼn plaaswerker wat deur sy werkgewer na die toneel gestuur is, sal glo getuig dat een van die beskuldigdes by sy aankoms op die toneel vir hom gesê het honde het vir Tjixa en Jubeba aangeval en dit is hoe hulle hul beserings opgedoen het. Hierdie getuie beweer hy kon egter sien dat Tjixa en Jubeba nie gebyt is nie, maar aangerand is.

Die staat beweer ook van die getuies sal getuig dat van die persone wat by die beweerde aanranding van die oorledenes betrokke was, dae ná die voorval na Boeta se plaas ontbied is waar hulle aangesê is om hulle skoene wat hulle die dag van die voorval aangehad het, te verbrand. Die waaierband wat na bewering tydens die aanranding gebruik is, is volgens die staat ook verbrand om die polisie te verhoed om dit as ʼn bewysstuk te gebruik.

Ander getuies wat vir die staat sal getuig sluit dokters en mediese personeel in wat die oorledenes behandel het, ʼn patoloog wat die nadoodse ondersoeke gedoen het, familielede van die oorledenes en polisiebeamptes wat die betrokke dag op die toneel was.

Adv. Hans de Bruin, vir die verdediging, het gesê die beskuldigdes sal al die aspekte van die staat se saak betwis. Hy het enkele aspekte van die staat se saak genoem wat nie betwis sal word nie, onder meer foto’s wat op Biesiesbult geneem is, foto’s van die oorledenes en foto’s wat tydens ʼn identiteitsparade geneem is.

Die saak sal om 14:00 hervat word wanneer die eerste getuie geroep sal word.

Lees alle vorige berigte oor die Parys-boere op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Lee ·

Ai ai. So boere moet maar net agterruit sit en vermoor word. Ons land val uitmekaar uit!!!

vierkleur ·

Lee,dis van al die terugsit , dat ons volk sit waar ons sit. Ek sal se dis tyd om op te staan,
en ons geliefdes te beskerm

Amanda du Plessis ·

Ja, seblief roep my ook as getuie. Het alles gesien, was in die boom daar naby! Hulle vermoor die een na die ander boer op die plase, maar dat die wit boere nou net waag om ook op te tree. O wee!!!

Hoe werk dit? ·

“Volgens die staat sal van die getuies getuig dat hulle self deelgeneem het aan die aanranding van die oorledenes.” Waarom word hulle dan nie ook aangekla van moord nie? Of is hulle velle nie wit nie?

Eps ·

Kan nie wag om te hoor hoe die getuienisse hulself gaan weerspreuk nie. Hoe word witmense altyd soos boewe behandel en swart moordenaars soos lords. Swart mense kry altyd baie gou borgtog terwyl wit mense deur lang produres gaan om borgtog te kry. Selektiewe vervolging word knaend toegepas.w

Dirk01 ·

Vierkleur opstaan en hoe wil jy dit doen? Ek verstaan parys boere se posisie ek hoop vir hulle part die aanranding is onwaar.Jy kan nie onnodige geweld gebruik nie.nou sit hulle met die probleme waar polisie hulle weg geneem het sonder die drama van nou . Boere moet hulself vergewis van die wet .Daar’s te veel om te verloor VIR HULLE .

Grotman ·

Vang jy hulle en lewer hulle aan die SAPD oor, dan is hulle binne paar weke of maande vry om verder te moor. So wat is die antwoord?? Die groep was te groot. Die getuienisse te veel.

Michael ·

Dit klink vir my na ek die gedeelte gelees het van die skoene brand dat van die boere staatsgetuie moes gedraai het .

Blits ·

Shame nou moet ons die staat glo, sorry ek GLO NIE SO NIE, dankie

SARIE VAN HEERDEN ·

Sit rustig en wag dat Maroela more begin berigte plaas van al die ooggetuies wat GESIEN het wat die boere doen. Hoe joernaliste sin maak uit al hierdie dinge weet nugter.

Christelle ·

Wat vir my die ergste is, is dat boer teen boer gaan getuig…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.