Parys-boere: Staatsgetuie sê verklaring ‘was regte ding om te doen’

Van links is Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, kapt. Henk Prinsloo, Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen en Miela Janse van Vuuren tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Maroela Media.

ʼn Getuie het Maandag in die hooggeregshof in Parys getuig hy is deur lede van die Valke geïntimideer om ʼn verklaring as ʼn staatsgetuie af te lê oor die gebeure van 6 Januarie 2016 toe twee vermeende plaasaanvallers na bewering aangekeer en só erg aangerand is dat hulle later aan hul beserings beswyk het.

Fanie Oosthuizen (44), ʼn plaasvoorman van die Parys-omgewing, was Maandagoggend weer in die getuiebank waar ses mans op twee aanklagte van moord teregstaan. Boeta van der Westhuizen (46), Loedie van der Westhuizen (19), Anton Loggenberg (50), Cor Loggenberg (20), Miela Janse van Vuuren (23) en kapt. Henk Prinsloo (47) word aangekla van die moord op Samuel Tjixa en Simon Jubeba.

Die staat beweer Tjixa en Jubeba is op 6 Januarie 2016 op die plaas Swartklip, net buite Parys, aangekeer en aangerand. Hulle is van die toneel na ʼn hospitaal in Parys gehaas, maar albei is kort ná die voorval oorlede.

Oosthuizen het Vrydag aan die hof gesê hy was die betrokke dag ook op die toneel waar Tjixa en Jubeba aangekeer is. Oosthuizen is verlede jaar in verband met dieselfde voorval in hegtenis geneem, maar getuig nou as ʼn staatsgetuie ingevolge artikel 204 van die Strafproseswet. Oosthuizen is Maandag deur adv. Hans de Bruin vir die verdediging kruisondervra nadat hy Vrydag sy getuienis gelewer het.

Oosthuizen het Maandag aan die hof bevestig dat sy seun, Daniël, en broer, Johan, ook die betrokke dag op die toneel was. Hy het gesê Daniël het egter niks aan Tjixa en Jubeba gedoen nie. Hy het gesê Johan het wel een van die verdagtes met ʼn vuis in sy sy geslaan. Oosthuizen het gesê hy het by sy aankoms op die toneel gesien hoe Loedie een van die verdagtes, wat op die grond gelê het, skop. Hy beweer hy het vir die groep gesê, “Stadig manne, nie so erg nie,” waarna Loedie opgehou het om die man te skop.

Oosthuizen het ook erken hy het een van die verdagtes se arm agter sy rug gedraai en hom gevra waar die vuurwapen is. Hy het gesê toe die verdagte hom nie antwoord nie, het hy sy arm nog meer gedraai. Die verdagte het hom op sy naam genoem en gesê hy maak hom seer en Oosthuizen het hom toe gelos. De Bruin het Oosthuizen gevra of dit nie waar is dat hy ook die verdagte opgetel het en hom op die grond neergegooi het nie. Dit het hy ontken.

De Bruin het Oosthuizen toe ondervra oor die gebeure wat daartoe gelei het dat hy ʼn staatsgetuie geword het. Volgens Oosthuizen het lede van die ondersoekspan van die Valke, wat die saak ondersoek het, aan hom gesê hy kan moontlik vervolging vryspring indien hy die waarheid vertel oor wat daardie dag gebeur het. Hy het ook aan die hof gesê lede van die ondersoekspan het aan hom gesê hulle sal hom in ʼn plek van veiligheid plaas sodat sy lewe nie in gevaar sal wees wanneer hy ʼn staatsgetuie is nie.

Op ʼn vraag van De Bruin het Oosthuizen gesê die Valke het, terwyl hy in aanhouding was voor sy borgtogaansoek, gedreig om sy seun en sy broer in hegtenis te neem indien hy nie aan hulle vertel wat gebeur het nie. Volgens Oosthuizen het die Valke gesê sy broer en seun was ook die dag op die toneel en dit is genoeg rede om hulle in hegtenis te neem.

Oosthuizen het aan die hof gesê hy het uiteindelik besluit om ʼn verklaring by die Valke af te lê omdat “dit die regte ding was om te doen” en omdat sy regsverteenwoordiger gesê het die tyd was nou reg om die waarheid oor die gebeure van daardie dag te vertel. Hy het gesê hy is deur sy prokureur na adv. Barry Roux verwys wat namens hom en van die ander mans wat in daardie tyd beskuldigdes was, te onderhandel om staatsgetuies te word.

Oosthuizen het gesê hy was “tot ʼn mate” verlig toe hy sy verklaring as staatsgetuie afgelê het, maar het geweet die verhoor moet nog plaasvind en was daarom nie heeltemal ontspanne oor die saak nie. De Bruin het gevra of dit is omdat hy geweet het hy gaan ongemaklike vrae moet beantwoord. “Dit is nie maklik om hier te staan nie,” het Oosthuizen gesê. “Mense maak jou uit as ʼn verraaier en ʼn rugsteker en mense wat jou altyd gegroet het, groet jou nie meer nie.” Op ʼn vraag van De Bruin of hy na die beskuldigdes verwys, het Oosthuizen gesê hy verwys na die beskuldigdes en hul families en vriende.

De Bruin het Oosthuizen gevra om gedeeltes uit ʼn verklaring voor te lees wat hy [Oosthuizen] vroeër afgelê het. Hy het daarin gesê twee beamptes van die Valke het hom probeer oortuig om ʼn staatsgetuie te word. “Hulle het my ingelig dat hulle genoeg bewyse teen my het om my toe te sluit en het gesê hulle het ook genoeg bewyse teen my seun, want hy was op die toneel. Hulle het nie gesê wat die bewyse teen my en my seun was nie,” het Oosthuizen gesê.

“Ek het geïntimideerd gevoel en nie geweet wat om te doen nie. Ek het gesê ek kan nie ʼn besluit neem voordat ek met my regsverteenwoordiger gepraat het nie. Hulle het toe gesê daar is klaar iemand wat met hulle praat en ek het aangeneem hulle het dus reeds inligting oor die voorval gekry. Hulle het gesê ek moet onthou ek kan skuldig bevind word op grond van gemeenskaplike doel omdat ek op die toneel was. Hulle het net negatiewe dinge te sê gehad oor my regsverteenwoordiging en ek het hoogs geïntimideerd gevoel deur hul dreigemente om my seun en broer in hegtenis te neem.”

Oosthuizen het ook gesê hy dink die Valke het met opset veroorsaak dat die proses van sy borgtogaansoek sloer sodat hulle hom langer in aanhouding kan hou en druk op hom plaas om ʼn staatsgetuie te word. Hy het gesê hy het in ʼn stadium aan die ondersoekspan genoem dat hy hou van visvang en beweer ʼn beampte van die Valke het aan hom gesê hulle sal hom ʼn plek langs die rivier gee waar hy kan woon omdat hy van visvang hou.

De Bruin het vroeër die dag Oosthuizen uitgevra oor die eerste verklaring wat hy aan die polisie gegee het, voordat hy ʼn staatsgetuie geword het. Oosthuizen het beweer hy het die verklaring in die polisieselle onderteken en het aan die hof gesê hy het nie ʼn eed afgelê voordat hy dit gedoen het nie. De Bruin het aangevoer dit is hoogs onwaarskynlik dat Oosthuizen nie ʼn eed afgelê het toe hy die verklaring onderteken het nie en beweer nou dat hy nie die eed afgelê het nie omdat hy bang is daar is iets in die verklaring waarmee die verdediging hom gaan konfronteer.

Oosthuizen het erken hoewel hy in hierdie verklaring gesê het hy het niks gedoen om Tjixa en Jubeba se dood te veroorsaak nie, beteken dit nie hy het niks verkeerd gedoen nie.

Oosthuizen se kruisondervraging sal Dinsdagoggend voortgesit word.

Die staatsaanklaers het joernaliste in die hof versoek om nie foto’s van die staatsgetuies te neem nie uit vrees dat hulle geïntimideer sal word.

Lees alle vorige berigte oor die Parys-boere op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Hans ·

Laat daardie boere vry! Hulle het die samelewing n guns gedoen.
Laat dit n voorbeeld wees vir die ander gediertes wat wil moor en roof soos hul luskry

Ben Prinsloo ·

Dit wil vir my voorkom asof Oosthuizen nog n hele paar ongemaklike vrae gaan moet beantwoord. Jammer meneer uit dit wat ek hier lees sal ek jou ook nie wil groet as ek een van die beskuldigdes is nie.

Eps ·

Die wet op gemeenskaplike doel veroorsaak baie probleme. Hoe kan jy geipliseer word as jy net ‘n toeskouer was? Tweedens wonder ek wat die werklike dood veroorsaak het. Ek hoop net dat geregtigheid sal geskied en dat selekteerde vervolging sal stop. Hoekom worfd misdadigers as helde in koerante beskryf?

Nonnie ·

Hoe kan jy gedisiplineer word as jy net ‘n toeskouer was? Maklik. As jy wreedheid sien en jy kan dit stop, maar jy kies om dit nie te stop nie, bly jy nog steeds onskuldig?

Dis dieselfde prinsipaal.

Michael ·

Ek verwonder my dat sommige mense nie sien wat hier gebeur het nie ‘n boer is op sy plaas aangeval hy verdedig homself die emosies loop hoog (hoeveel boere is al so doodgemaak op plase na 1994) die regering doen niks om die aanvalle te bekamp nie dan draai broer op broer om punte te verdien by ‘n regering wat die mense gefaal het.wat hulle gedoen het was verkeerd maar wat moes en kon hulle doen in ‘n Suid Afrika 2016

Dawie ·

Dit wil voorkom asof die plaasaanval ‘n liegstorie was en dat dit slegs ‘n geskil was tussen die boer en sy werknemers.

christa ·

ek stem saam met jou…… ek kan nie glo dat mense so reageer nadat soveel boere gemartel en gedood word nie…. dan wil ek diesulkes wat so maklik praat glad nie eers ken nie, wat nog groet. sal weer praat as dit julle raak. en die tyd kom.

MANIE ·

Wat n mens nie alles sal prys gee sodat jy net nie skuldig bevind moet word, Die mense kom al van die boere oorlog voor onder die afrikaner. Ja dit is so dat hulle verraaiers genoem word en behoort deur die gemeenskap verwerp te word wat hulle verdien.

Frik ·

Boere word daagliks aangeval en vermoor. Pleks van saamstaan sing ons soos kanaries. Niemand sal in die townships praat as hulle n misdadiger dood maak

Pop ·

Daardie honde het saam met die vermeende inbrekers gehardloop, wat vir my sê die honde het hulle goed geken. So hulle was van een van daai boere se werkers. Werk maar uit.

Piet ·

Genugtig mr Oosthuizen, die feit dat jy jouself bekommer omdat ander mense jou nie wil groet nie wek kommer by my. Is dit nie meer belangrik dat jy jouself in die oe moet kyk as jy jou dag begin nie? Sommige mense sal wil getuig en ander sal nie wil nie, dit maak nie saak wat jy besluit nie, solank dit strook met jou beginsels. Iets geen my die idee dit was nie vaste beginsels wat jou tot die besluit gedryf het nie. Ek hoop iets oortuig jou om teen jou eie seun te getuig, anders weet ek nie hoe jy met jouself gaan saam leef nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.