Parys-boere: ‘Staatsgetuies was ongeloofwaardig’

Regter Corne van Zyl het bevind dat die staat se artikel 204-getuies tydens die opspraakwekkende Parys-moordsaak ongeloofwaardig was. Volgens haar het dié getuies nie net mekaar tydens die verhoor weerspreek nie, maar het hul weergawe van gebeure in die hof deurgaans verskil van hul weergawes in verklarings wat hulle aanvanklik afgelê het. Dit sluit in verklarings wat gemaak is tydens hul onderskeie borgtogaansoeke.

Volgens Van Zyl het die staatsgetuies dus hul eie aandeel in die aanranding op Samuel Tjixa en Simon Jubeba in Januarie 2016 as onbelangrik afgemaak en die skuld op die ses aangeklaagdes in die beskuldigdebank gepak.

Die beskuldigdes in die Parys-moordsaak is verlede week onskuldig bevind aan moord op Tjixa en Simon Jubeba in Januarie 2016. Kapt. Henk Prinsloo is vrygespreek terwyl die boere Boeta van der Westhuizen, Loedie van der Westhuizen, Anton Loggenberg, Cor Loggenberg en Miela Janse van Vuuren nié aan moord skuldig bevind is nie, maar wel aan aanranding.

Maroela Media het vroeër berig die staat het beweer dié ses beskuldigdes was deel van ʼn groep boere wat op 6 Januarie 2016 vir Tjixa en Jubeba op die plaas Swartklip aangekeer en só erg aangerand het dat hulle later in die hospitaal aan hul beserings beswyk het.

Van Zyl het in haar uitspraak gesê sy kan nié die ses beskuldigdes aan moord skuldig bevind na aanleiding van prof. Jan Botha, ʼn afgetrede forensiese patoloog, se getuienis vir die verdediging nie. Botha het getuig dat die oorledenes destyds nog beserings kon opdoen toe hulle agter in ’n polisievangwa vervoer is. Die vangwa het oor rowwe terrein gery.

“Die doodskoot in die saak was Botha se getuienis. Daar is bevind dat wat die staatspatoloë aangebied het nie vereenselwig kon word met die nadoodse ondersoeke nie,” het Piet Pistorius, die verdediging se regsverteenwoordiger, Maandag aan Maroela Media verduidelik.

Pistorius het ook gesê dat die Valke se ondersoekmetodes in die uitspraak fel gekritiseer is. “Daar is bevind dat hulle ongeloofwaardig was in hul benadering tot die saak.”

Volgens Pistorius is sy kliënte verlig en dankbaar dat die uitspraak eindelik gelewer is. Dit nadat die verhoor reeds in Mei 2017 begin het en sedertdien talle kere uitgestel is.

“[Die beskuldigdes] se lewens is vir langer as vier jaar tot stilstand gebring. Die saak is egter steeds nie vir hulle klaar nie en vonnisverrigtinge lê voor. Ons is net dankbaar dat die skewe beeld van die saak en die korrekte feite in die uitspraak gereflekteer is,” het Pistorius gesê.

Volgens Pistorius het die beskuldigdes se families ook swaar getrek sedert daardie aand in Januarie 2016. “Dit is stééds baie moeilik. Ons moet onthou dat neef teen neef in hierdie saak getuig het. Dit het verdeeldheid in die families veroorsaak.”

Die oorblywende vyf beskuldigdes wat op borgtog uit is, sal tussen 24 en 28 Augustus vanjaar gevonnis word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Michael 1

En so word geld en tyd gemors net om n punt te bewys ,ek verwag die staat sal appelleer teen die vonnis,hierdie is presies dieselfde as die vier van kfc in montana ook niks van gekom nie want daar was niks.Die hartseer hier is dat die boere nie kon saamstaan in n tyd van nood nie .

Trotse Boervrou

Ek is werklik bitter jammer vir die trauma wat julle en julle familie moes ervaar. Terselfdertyd is ek opreg dankbaar dat jul saak ‘n positiewe wending geneem het. Min mense het hierdie uitkoms verwag. Ons weet egter almal wat sou die uiteinde van die saak gewees het indien die rolle omgeruil was en julle aangeval sou word. Hierdie was na my mening net nog ‘n blatante “aanval” teen velkleur. Sterkte met die pad vorentoe. Ons bid vir julle.

Sarel

Mense se kewens verwoes vir Politieke gewin..nou vir die ander twee sake.

Scalla

Vir 4 jaar moet die mense in vrees lewe, hoop geregtigheid vind plaas.

Dirk Mostert

Het die Valke dan nie meer verdienstelike sake, soos korrupsie en wanbesteding van belastinggeld deur amptenare, om te ondersoek nie?