Parys-boere: Tjixa ‘in diep slaap’ ure voor hy sterf

Mantoa Lefatle in die getuiebank (22 November 2017). Foto: Maroela Media

Om 05:00 die oggend van 7 Januarie 2016 het ʼn verpleegster by die staatshospitaal in Parys, waar Samuel Tjixa ʼn pasiënt was, op haar notas aangedui die pasiënt toon geen reaksie nie, sy bloeddruk is baie laag, hy is op 100% suurstof en het ʼn bruinerige afskeiding uit sy neus en mond. Om 06:00 was hy dood.

Só het die hooggeregshof in Parys Woensdagmiddag gehoor waar Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, kapt. Henk Prinsloo, Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen en Miela Janse van Vuuren tereg staan vir die moord op Tjixa en Simon Jubeba.

Die staat voer aan die ses beskuldigdes was deel van ʼn groep boere in die gemeenskap wat op 6 Januarie 2016 vir Tjixa en Jubeba op die plaas Swartklip aangekeer en so erg aangerand het dat hulle later in die hospitaal aan hul beserings beswyk het.

Mantoa Lefatle was die aand van 6 Januarie 2016 aan diens by die Parys-hospitaal toe Tjixa en Jubeba met ʼn ambulans na die hospitaal gebring is. Die hof het vroeër gehoor Jubeba is vanaf ongevalle na die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas, maar Tjixa is in ʼn algemene saal in die Parys-hospitaal opgeneem.

Lefatle het getuig sy was aan diens in die algemene saal toe Tjixa omstreeks 01:30 na die saal gebring is. Sy het aan die hof gesê Tjixa is vir 24 uur observasie opgeneem en sou later die oggend vir X-strale gestuur word.

Volgens Lefatle het sy Tjixa se tekens van lewe geneem toe hy om 01:30 opgeneem is en dit op die hospitaalrekords aangeteken. Sy het gesê Tjixa was in ʼn diep slaap en kon glad nie kommunikeer nie.

Anton Loggenberg, kapt. Henk Prinsloo en Cor Loggenberg tydens ʼn kort verdaging in die hof (22 November 2017). Foto: Maroela Media

Hy is vergesel deur ʼn polisiebeampte wat aan haar gesê het Tjixa is in hegtenis geneem. Volgens Lefatle wou die polisiebeampte Tjixa se hande boei, maar het sy gesê hy kan dit nie doen nie, omdat Tjixa nie by sy bewussyn was nie. Sy het gesê die polisiebeampte was deurentyd langs Tjixa se hospitaalbed in die saal.

Dr. Sifiso Nxumalo het twee soorte pynmedikasie aan Tjixa voorgeskryf, asook Valium indien hy sou rusteloos raak. Lefatle het aan die hof gesê sy het nie enige van hierdie medikasie aan Tjixa gegee nie, aangesien hy nooit rusteloos geraak het nie.

Volgens Lefatle het Tjixa se tekens van lewe versleg en sy bloeddruk was in ʼn stadium só laag, dat sy vir hom ʼn drup gegee het om sy bloeddruk op te stoot. Sy het ook suurstof aan hom toegedien. Om 04:00 het sy vir Nxumalo gebel om hom in te lig dat Tjixa se toestand versleg en dat hy na die saal moet kom. Lefatle het getuig Nxumalo het gesê hy sal kom.

Om 05:00 het Lefatle weer vir Nxumalo gebel omdat Tjixa se toestand steeds versleg het. Nxumalo het weer gesê hy sal na die saal toe kom. Toe Nxumalo om 06:00 by die saal opdaag, het hy Tjixa dood verklaar.

Adv. Nico Dreyer vir die verdediging het Lefatle tydens kruisondervraging gevra hoekom sy nie die dokter om 01:30 geroep het toe Tjixa by die saal aangekom en van sy tekens van lewe abnormaal was nie. Sy het aan die hof gesê hoewel Tjixa se bloeddruk en hartklop-lesing nie normaal was nie, het sy nie die dokter ontbied nie omdat hy pas van ongevalle af gekom het waar die dokter hom gesien het.

Mantoa Lefatle in die getuiebank (22 November 2017). Foto: Maroela Media

Sy het aan Dreyer gesê wanneer ʼn pasiënt stabiel is, word hul tekens van lewe net elke vier ure geneem. Dreyer het dit gestel Tjixa was duidelik nie stabiel nie, aangesien al sy tekens van lewe nie normaal was nie. Hy het haar gevra hoekom sy nie elke 15 minute of halfuur weer sy tekens van lewe geneem het om te verseker dat hy nie versleg nie. Lefatle het toegegee sy moes dit gedoen het.

Lefatle is een van talle mediese personeellede wat alreeds gedurende die verhoor deur die staat geroep is om te getuig. Die hof het vroeër ook getuienisse aangehoor van twee paramedici wat Tjixa en Jubeba behandel het, Nxumalo wat die twee oorledenes by die Parys-hospitaal behandel het en drs. Werner van Tonder en Dalenie de Bruyn wat Jubeba by die hospitaal in Bloemfontein behandel het.

Margaret Mafubedu, ʼn verpleegster wat Tjixa en Jubeba by die ongevalle-afdeling van die Parys-hospitaal behandel het, is Woensdagmiddag ook na die getuiebank geroep. Sy sal haar getuienis Donderdagoggend voortsit.

Lees alle vorige berigte oor die Parys-boere op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

CB ·

Nou vra ek. So maak die land so ophef en hier is diebare vriend van ons in sy fabriek so erg aangerand en vir dood gelaat. Hy het breinskade, kan nie meer werk nie. Hy was die broodwinner met ‘n pragtige vrou en kinders. Dít het nie eers die nuus gehaal nie.

Wonder nie meer nie ·

Duidelik word teen die blankes gediskrimineer

Hanna ·

Klink my die staatshospitaal en personeel het n groot aandeel aan hierdie diewe se dood gehad. Wonder of hulle ook vervolg gaan word? Wishful thinking…

Natascha ·

Ek wens so hul wil meer ag slaan op al die onskuldige boere en ander wat so wreed vermoor word. As dit nou andersom was, was DIE saak nou al afgehandel en het hul net n paar maande gekry. Nee wat ek het geen respek vir ons land se regstelsel nie, daar is soveel onregverdigheid.
Wens net almal wil ander respekteer en nie op hul erf of by hul wonings gaan moeilikheid soek nie, Wat het hul daar gemaak? Kyk as ons boere nie saamstaan, word hul een een afgemaai. Hier is dit n duidelike bewys dat ons wittes niks mag doen om onself te beskerm nie.
Sterkte aan al die boere, jul verdien dit nie.

TM ·

Jy kan blakend gesond na ‘n staatshospitaal gaan en eweskielik van iets beswyk. Daar is geen beheer, geen omgee, geen beddens, geen menslikheid in hierdie plekke meer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.