Parys-boere: Uitspraak dán gelewer

Die ses mans van Parys in die Vrystaat wat van die moord op twee mans beskuldig word. Foto: Mariné Lourens

Die slotbetoë van die verdediging in die opspraakwekkende Parys-moordsaak sal in Maart in die hooggeregshof in Parys aangehoor word.

Die hof is Woensdag verdaag ná ʼn byna drie week lange sitting waartydens die verdediging hul getuies geroep en van die beskuldigdes ook self in die getuiebank was. Die staat het reeds vandeesweek sy saak gesluit.

Boeta van der Westhuizen, Loedie van der Westhuizen, Anton Loggenberg, Cor Loggenberg, kapt. Henk Prinsloo en Miela Jansen van Vuuren word aangekla van die moord op Samuel Tjixa en Simon Jubeba in Januarie 2016. Die staat beweer die ses beskuldigdes was deel van ʼn groep boere wat op 6 Januarie 2016 vir Tjixa en Jubeba op die plaas Swartklip aangekeer en só erg aangerand het dat hulle later in die hospitaal aan hul beserings beswyk het.

Die verdediging beweer Tjixa en Jubeba was dié dag deel van ʼn aanval op Loedie van der Westhuizen sr. se plaas, Biesiesbult.

Tydens die afgelope drie weke se hofsitting het Boeta en Prinsloo hul weergawes van die gebeure in die getuiebank gegee. Skulderkennings ingevolge artikel 220 van die Strafproseswet is ten opsigte van Anton Loggenberg, Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen en Miela Jansen van Vuuren ingehandig.

Anton Loggenberg en kapt. Henk Prinsloo in die hof (18 Mei 2017). Foto: Maroela Media

Anton erken in sy skulderkenning dat hy een van die mans op sy heup geskop en die ander een geklap het. Sy seun, Cor, erken in sy skulderkenning dat hy een van die mans een hou met ʼn rottangkierie oor sy maermerrie geslaan het.

Loedie sê in sy skulderkenning dat hy die twee mans geklap en een van hulle op die heup geskop het, terwyl Janse van Vuuren in sy skulderkenning aanvoer hy het een van die mans twee keer met ʼn gestewelde voet in die heup geskop, waarvan die tweede skop deur die man met sy hande en knieë afgeweer is.

Prinsloo se kruisondervraging deur die staat is Maandag voortgesit nadat hy verlede week ook kruisondervra is. Hy het in sy getuienis aangevoer hy word geïnkrimineer deur een van die staat se getuies, Tom Direko.

Direko is ʼn voorman op ʼn plaas van ʼn boer in die distrik wat ook op die toneel was waar Tjixa en Jubeba na bewering aangerand is.

Prinsloo het tydens sy kruisondervraging gesê hy vermoed die ondersoekspan het moontlik met Direko onderhandel om ʼn klag van diefstal teen Direko terug te trek indien hy teen die beskuldigdes sou getuig. Direko was een van ses beskuldigdes in die diefstalsaak waarna Prinsloo verwys het.

Kapt. Henk Prinsloo en Cor Loggenberg in die hof (18 Mei 2017). Foto: Maroela Media

Adv. Jabulani Mlotshwa, aanklaer vir die staat, het egter aan die hof gesê dié diefstalsaak is al voor die moorde op Tjixa en Jubeba in 2016 teruggetrek. Mlotshwa het ʼn brief van die direkteur van openbare vervolging aan die hof voorgehou wat op November 2015 onderteken is waarin bevestig word dat die diefstalsaak teruggetrek gaan word.

Prinsloo het Maandag gesê dat hy by ’n uitkenningsparade deur Direko uitgewys is en dat hy Direko vroeër moes aanspreek oor te min diensure as polisie-reservis wat gelei het tot Direko se ontslag as reservis in ongeveer 2004. Van die reserviste was ongelukkig oor hul ontslag het Prinsloo gesê.

Die saak is vandag uitgestel tot 4-8 Maart wanneer die verdediging sal kans kry om sy slotbetoë te lewer. Regter Corné van Zyl sal na verwagting haar uitspraak in die week van 27 tot 31 Mei gee. Indien die beskuldigdes skuldig bevind word, sal vonnisoplegging in Julie vanjaar plaasvind.

Rapport het vroeër vandeesmaand berig Boeta van der Westhuizen was op 31 Januarie in ʼn ernstige motorongeluk nadat hy vroeër die dag die verhoor in Parys bygewoon het. Die koerant berig verder Cor moes intussen sy studies aan die Noordwes‑Universiteit staak weens die druk van die verhoor, terwyl sy pa, Anton, “finansieel geruïneer” is deur die regskoste van die saak. Ook Prinsloo moes glo sy eiendomme verkoop oor die saak en is onseker oor sy toekoms in die polisiemag.

Inligting in berig met vergunning van Parys Gazette.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Hennie ·

Maak soos die bekendes, vra dat die klagtes terug getrek word.

Jozi ·

Verander asb die klagtes teen die beskuldigdes na “huisroof”.
Dis mos hoe dit deesdae werk, is dit nie?

Hannelie ·

Jozi jy slaan die spyker op die kop. Klink vir my na “huisroof”.

Cherokee ·

In ‘n nader forum sê Sarah (wat praat asof sy kennis dra) dat huisroof ‘n ernstiger klag is as poging tot moord.

James ·

Moet tog net nie jouself verdedig nie. Dan gaan jy dronk toe.

sweiz ·

Die minderhede word net gebruik as belasting melk koeie,en om skuld te kry vir die onvermoë van die meerderheid,hoekom verwag julle om regverdig behandel te word as dit by die wet KOM?

Verwonderd ·

Die storie klink vir my so deur mekaar soos ń pizza in ñ tuimeldroër.

PJC ·

Hierdie ouens is wit so as hulle skuldig bevind word kom hier weer ń buitensporige vonnis.

Carel ·

Adam, sit jou slim kind. Hoekom nie ook die datum van die artikel genoem nie?

Adam ·

Carel, die Strafposeswet is deurgevoer in 1977 en word van tyd tot tyd gewysig soos alle wette. Art 220 is nog steeds van krag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.