Parys-boere: Uitspraak wéér uitgestel

Vyf van die beskuldigdes Maandag in die hof. Van links is Boeta van der Westhuizen, kapt. Henk Prinsloo, Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen en Miela Jansen van Vuuren (8 Julie 2019). (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Die ses mans van Parys wat op twee aanklagte van moord tereg staan was Maandagoggend sigbaar teleurgesteld toe uitspraak in die saak wéér uitgestel is.

Regter Corné van Zyl sou vandeesweek uitspraak in die hooggeregshof in Parys gelewer het, maar die verrigtinge het weer eens nie vanoggend begin soos verwag nie aangesien Van Zyl ernstig siek is. Die saak is nou van 15 tot 18 Oktober op die hofrol geplaas.

Van Zyl sou aanvanklik in Mei haar uitspraak gelewer het in dié opspraakwekkende verhoor wat al sedert Mei 2017 sloer, maar het die saak uitgestel omdat die uitspraak nog nie gereed was nie. Sy het destyds gesê dat sy nie haar uitspraak kon voltooi nie weens die geweldige omvang van rekords wat deurgewerk moet word, en die aantal kwessies wat na vore gekom het in die meer as twee jaar lange verhoor.

Boeta van der Westhuizen, sy seun Loedie van der Westhuizen, Anton Loggenberg en sy seun Cor Loggenberg, kapt. Henk Prinsloo en Miela Jansen van Vuuren staan tereg vir die moord op Samuel Tjixa en Simon Jubeba in Januarie 2016. Die staat beweer die ses beskuldigdes was deel van ʼn groep boere wat op 6 Januarie 2016 vir Tjixa en Jubeba op die plaas Swartklip aangekeer en só erg aangerand het dat hulle later in die hospitaal aan hul beserings beswyk het.

Van die beskuldigdes en hul familielede buite die hof (8 Julie 2019). (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Buite die hof is vrae gevra oor wat sou gebeur indien van Zyl in Oktober steeds siek is, waarop adv. Piet Pistorius, Boeta se regsverteenwoordiger, verduidelik het dat indien die regter teen daardie tyd daartoe in staat is om haar uitspraak te skryf, ʼn ander regter die saak moontlik kan afhandel.

“Dit is ʼn teleurstelling. Ek weet julle wil afsluiting hê. Dié saak het ongelukkig al ʼn paar draaie geloop,” het Pistorius aan die beskuldigdes gesê.

Rikki van der Westhuizen, Boeta se vrou en Loedie se ma, het aan Maroela Media gesê sy ook is teleurgesteld dat die saak weer eens uitgestel is. “Ons het regtig ons harte daarop gesit dat dit nou gaan klaar wees, maar ek glo daar is ’n doel daarmee. Dit is nou so, ons kan dit nie jaag nie,” het sy gesê.

Sy het bygevoeg dat sy met elke verskyning haarself emosioneel moet voorberei. “Jy weet, in Oktober is dit al amper vier jaar [sedert die voorval.]”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Fame ·

Hulle is wit die straf gaan op sy swaarste wees, dit terwyl mense wat betoog en ander aan die brand steek en klipgooi en ongelukke veroorsaak absoluut NIKS oorkom nie . hoe werk ons regstelsel??

Theresa ·

Dis nou flippen belaglik. Maar ja – ons weet mos nou al teen die tyd hoe werk dinge nê?!

Patriot ·

En hier kom `n opvolg van die Boeremag lede se saak. Hulle stel uit en uit en uit.

Merie Perd ·

Mense, bedaar, die regter is siek. Kan julle nie verstaan wat siek beteken nie?

Nettie ·

@Merie Perd – en hoeveel keer is die saak al vantevore uitgestel??? Oor VIER jaar heen? Die laaste keer omdat die regter nie “gereed” was om haar uitspraak te skryf nie. As mens mos so ‘n verantwoordelike posisie beklee, sit jy mos die nodige tyd en dryf agter ‘n saak om dit so gou moontlik afgehandel te kry, al dan nie?

Schalk ·

Ek wil net weet hoekom die 2 vermoordes nie na die ccma toe gegaan het as hul geld verskuldig was nie. Of na n prokereur! Dis mos wat mens doen as iemand jou mos nie wil betaal nie!

PG ·

Weet nie of jy al met CCMA gedeel het nie. Het ondervinding al gehad en dit was nag. Kan net sowel vra hoekom is hulle nie net betaal nie. Kyk na die repurkussies vir alle betrokkenis wat al 3 jaar sloer. Nou ja, in retrospek…..

Christa ·

Kan n bevoegde regter nie optree EK die saak afhandel nie of is dit die bedoeling on die mense se straf uit te rek.

Stretch ·

Is dit standaard praktyk dat MM 4 foto’s van alle beskuldigdes in elke artikel plaas? Ek wonder maar net waarom….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.