Parys-boere: Verhoor uitgestel oor hofaansoek

Van links is Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, kapt. Henk Prinsloo, Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen en Miela Janse van Vuuren tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Maroela Media.

Die sogenaamde Parys-boere-moordverhoor is Maandag in die hooggeregshof in Parys in die Vrystaat uitgestel sodat ʼn hofaansoek om die verrigtinge op video op te neem eers aangehoor kan word.

Boeta van der Westhuizen (46), Loedie van der Westhuizen (19), Anton Loggenberg (50), Cor Loggenberg (20), Miela Janse van Vuuren (23) en kapt. Henk Prinsloo (47) staan tereg op twee aanklagte van moord in verband met die dood van Samuel Tjixa en Simon Jubeba.

Die hof het Maandag gehoor die SAUK het ʼn aansoek gebring om die hofverrigtinge op kamera op te neem. Hierdie aansoek sal Dinsdag om 12:00 aangehoor word. Die ses beskuldigdes se verhoor is daarom uitgestel totdat hierdie aansoek aangehoor en die hof daaroor uitspraak gelewer het.

Die staat beweer die ses beskuldigdes het Tjixa en Jubeba op 6 Januarie 2016 op die plaas Swartklip buite Parys aangekeer en so erg aangerand dat hulle later in ʼn hospitaal aan hul beserings beswyk het. Die beskuldigdes het egter skuld op al die aanklagte teen hulle ontken en sê Tjixa en Jubeba was betrokke by ʼn aanval op Loedie van der Westhuizen sr., Boeta se pa, se plaas.

Ao. Joseph Hunter, ʼn lid van die Parys-speurtak, was Vrydag in die getuiebank en het getuig hy is die aand van 6 Januarie na Van der Westhuizen sr. se plaas, Biesiesbult, ontbied nadat daar na bewering ʼn plaasaanval was. Hunter het getuig hy is later die aand na die hospitaal in Parys om die twee verdagtes te sien wat glo kort ná die aanval deur boere van die gebied aangekeer is.

Hunter het onder meer getuig Tjixa en Jubeba was by sy aankoms by die hospitaal bewusteloos, maar het steeds geleef. Hy het gesê een van die verdagtes se kop was geswel en daar was bloed aan sy gesig. Volgens Hunter is hy die volgende oggend omstreeks 08:00 ingelig dat een van die verdagtes dood is, en omstreeks 09:00 dat die tweede verdagte, wat na die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas is, ook gesterf het.

Sodra die verhoor hervat word, sal Hunter kruisondervra word. Die verhoor is tot 26 Mei op die hofrol geplaas.

Lees alle vorige berigte oor die Parys-boere op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Peet J ·

Wonder of die aansoek van die S.A.UK., om die hofverrigtinge te mag beeldsein op meriete deur die staat oorweeg gaan word, dalk is die aansoek net gegrond op sensaiebejag.

al ·

Die SAUK se objektiewe beeld is geskaad, hulle is mos marionette van die zuptas en ANC

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.