Parys-boere: Verhoor verloop nou só

Van links is Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, kapt. Henk Prinsloo, Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen en Miela Janse van Vuuren tydens ‘n vorige verskyning in die hof. Foto: Mariné Lourens

Die ses mans van die Parys-distrik in die Vrystaat wat aangekla word van die moord op twee vermeende plaasaanvallers, het vandag in die rondgaande hof in Parys aangedui wat hul planne is met hul regsverteenwoordiging.

Dít kom nadat Maroela Media vroeër berig het dat die verdediging se regspan hom aan die verhoor onttrek het nadat een van die beskuldigdes, Boeta van der Westhuizen, in die verhoor getuig het.

Van der Westhuizen word saam met sy seun, Loedie van der Westhuizen, asook Anton Loggenberg, sy seun Cor Loggenberg, kapt. Henk Prinsloo en Miela Janse van Vuuren aangekla van die moord op Samuel Tjixa en Simon Jubeba. Die staat beweer die ses beskuldigdes was deel van ʼn groep boere wat op 6 Januarie 2016 vir Tjixa en Jubeba op die plaas Swartklip aangekeer en só erg aangerand het dat hulle later in die hospitaal aan hul beserings beswyk het.

Parys Gazette berig adv. Koenie Pieterse wat vir al ses die beskuldigdes verskyn het, asook prokureurs Hannes Grimbeek wat Prinsloo verteenwoordig het, en Kobus Burger wat Anton, Cor, Loedie en Jansen van Vuuren verteenwoordig het, het hulle aan die saak onttrek weens ʼn moontlike botsing van belange.

Gideon Mandelstam, wat net vir Boeta verteenwoordig, sal aanbly as opdraggewende prokureur. Boeta sal egter ook ʼn nuwe advokaat vir verskyningsdoeleindes moet aanstel.

Die botsing van belange waarna verwys word, is sekere dele van Boeta se getuienis wat nie ooreenstem met van die ander mans se weergawes nie. Dit maak dit dus onmoontlik vir een advokaat om al ses beskuldigdes te verteenwoordig indien hul weergawes verskil.

Phaladi Shuping, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het Vrydag aan Maroela Media verduidelik hoe die verhoor nou sal verloop.

“Beskuldigde een (Boeta), twee (Anton) en ses (Miela) het aangedui dat hul elkeen hulle eie persoonlike regsverteenwoordigers aangestel het. Beskuldigdes vier (Cor) en vyf (Loedie) het aansoek gedoen om regshulp. Beskuldigde drie (Henk) het ’n spesiale aansoek gebring om aansoek te doen om regshulp,” het Shuping gesê.

Prinsloo moet volgens Shuping ’n spesiale aansoek doen om regshulp aangesien hy ʼn lid is van die polisie en regshulp ’n sekere salarisdrempel het waarvolgens hul regshulp toestaan of nie.

Boeta het aangedui dat hy deur ʼn ene adv. Pistorius van Centurion verteenwoordig sal word, Anton deur Johan Vorster van Bloemfontein en Jansen van Vuuren deur adv. Du Plessis van Mafikeng.

“Die saak sal op 30 Julie weer in dieselfde hof voorkom en die regshulp en -verteenwoordiging kwessie sal finaal uitsorteer word.”

Volgens hom sal die strafregtelike verhoor volgende jaar in Januarie voortgesit word.

Lees alle vorige berigte oor die Parys-boere op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Al ·

Hoe lyk die ander sake waar klomp mense ñ verkragter of moordenaar doodgemaak het? Jy hoor niks van hul sake verder nie, dalk het dit doodgeloop agv gebrek aan wie die skuldige is?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.