Parys-boere: Verhoor weer uitgestel

Die ses beskuldigdes Dinsdag (2 Mei 2017) in die hof. Foto: Maroela Media

Die verhoor van die ses mans wat aangekla word van die moord op twee vermeende plaasaanvallers is weer Woensdag in die hooggeregshof in Parys in die Vrystaat uitgestel.

Boeta van der Westhuizen (46), sy seun Loedie van der Westhuizen (19), Anton Loggenberg (50), sy seun Cor Loggenberg (20), Miela Janse van Vuuren (23) en kapt. Henk Prinsloo (47) was weer in die beskuldigdebank. Hulle staan tereg op ʼn aanklag van moord in verband met die dood van Samuel Tjixa en Simon Jubeba.

Familielede van Tjixa en Jubeba was ook Woensdagoggend in die hof.

Regter Corné van Zyl het aan die begin van vanoggend se hofverrigtinge gesê sy wil gerugte en wanpersepsies oor die rede vir die uitstel van die saak gister eers regstel voordat die verrigtinge voortgaan. Volgens Van Zyl is daar in sommige mediaberigte beweer dat die verhoor Dinsdag laat begin het omdat daar gewag is vir haar om van Bloemfontein af te kom en daar eers vir haar verblyfreëlings getref moes word. Van Zyl het dit ten sterkste ontken.

Sy het verduidelik dat sy meer as ʼn week gelede ʼn dokument ontvang het waarin die voorverhoorverrigtinge uiteengesit word. In hierdie dokument is daar aangedui dat die verdediging steeds wag op sekere inligting wat hulle meen die staat aan hulle moet verskaf.

Van Zyl het gesê sy was bekommerd dat die uitstaande dokumente ʼn negatiewe uitwerking op die begin van die verhoor kan hê en het daarom besluit dat die verhoor eers 11:00 Dinsdag sou begin om die staat geleentheid te gee om die uitstaande dokumente in te handig en die verdediging kans te gee om dit te bestudeer. Omdat ʼn lid van die verdediging se regspan ʼn ander noodsaaklike verpligting gehad het, is daar met die onderskeie regspanne ooreengekom dat die saak eers 14:00 sou begin.

Volgens Van Zyl het sy na aanleiding hiervan eers Dinsdagoggend uit Bloemfontein vertrek, maar was heeltemal betyds by die hof in Parys om 14:00 met die verhoor te begin soos daar gereël was. Sy het gesê daar is ʼn wanindruk geskep dat die verhoor vertraag was omdat sy laat was, terwyl dit nie die geval was nie.

Sy het gesê die verdediging en die staat het eers ná 15:00 ooreengekom om die saak tot Woensdag te laat oorstaan omdat die verdediging ʼn hofaansoek wou indien. Die saak is daarom uitgestel.

Die saak is Woensdagoggend weer uitgestel om die staat kans te gee om op die hofaansoek van die verdediging te reageer. Die verdediging het ʼn aansoek ingedien om te versoek dat die staat sekere dokumente wat met die saak verband hou aan hulle oorhandig. Die aansoek is eers Woensdagoggend ingedien en daarom is die saak tot Donderdag uitgestel om die staat kans te gee om die aansoek deur te gaan en daarop te reageer.

Die ses beskuldigdes is almal verlede jaar in hegtenis geneem en op borgtog vrygelaat. Die staat voer aan die beskuldigdes was betrokke by die moord op Tjixa en Jubeba, wat op 6 Januarie 2016 deur boere van die Parys-omgewing op ʼn plaas aangekeer en glo só erg aangerand is dat hulle later in die hospitaal aan hul beserings beswyk het.

Boere in die gebied het beweer Tjixa en Jubeba was deel van ʼn aanval op Loedie van der Westhuizen sr., Boeta se pa, se plaas, maar die oorledenes se familie het dit ontken en gesê Tjixa en Jubeba is tydens ʼn loongeskil deur die boere doodgeslaan.

Die verhoor is tot 26 Mei op die hofrol geplaas.

Lees alle vorige berigte oor die Parys-boere op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johan Pretorius ·

Hierdie lyk vir my na n herhaling van die Boeremag Hofsaak, wat honderde kere uitgestel was.

Ester ·

Mag Regter Cornè van Zyl wysheid en krag ontvang van ons Hemelse Vader . Ek bid vir haar veiligheid en beskerming.

Skim ·

Ek hoop tog net julle het goeie regsverteenwoordiging. Ek weet nie wat is dit deesdae met die prokureurs/advokate wat hierdie plaasboere en kismanne verteenwoordig nie, dit is asof daar nie murg in hulle pype sit nie. Kyk bietjie wat het met OJ Simpson gebeur .. hy het EXCELLENT regsverteenwoordiging gekry en het weggestap van twee moordsake, daar is ook rassisme ingebring en die feit dat hy nie ‘n regverdige verhoor sou kry nie .. NIE EEN flippen wit plaasboer wen deesdae ‘n saak nie, al maak hy net ‘n werker SKRIK , sit hy vir maande. Het hulle te BANG geraak om die manne te verteenwoordig? Is hulle bang om as REGS uitgewys te word? Is hulle bang vir wat hulle careers gaan oorkom? Jy moet tog jou klient VERTEENWOORDIG, ongeag die protesgangers se optrede en die res van die publiek se gevoel . genade ek is erg teleurgesteld … Dis asof almal te bang is om pro-wit te baklei of op te tree~~ Kry bietjie lewe mense~

Alida ·

Dit is die staat se ou manier om net NOOIT betyds met enigiets te wees nie. Gooi die saak uit hulle mors almal se tyd.

Andries Erwee ·

Alida as jy die berig lees sal jy sien dit was die ve3rdediging wat die saak vertraag het met n laat aansoek.

Scalla ·

Hoeveel produksie ure en finansiele uitgawes gaan verlore met al die uitstel. Van uitstel kom afstel, indien alles nie ingedien is soos versoek is nie moet die saak uit die hof gegooi word.

humor ·

Regter van Zyl ry maar weer terug Bloem toe. Reinette sal oorneem.

Tanya ·

Daar word elke dag hoeveel mense vermoor deur die gemeenskap. Daar word bande om hulle nekke gesit en word so aan die brand gesteek. Niemand rep ‘n woord daarna nie. Waarom kan ons mense nie ook so saamstaan nie? Ons volkie is te vinnig om vinger te wys.

SARIE VAN HEERDEN ·

Was die wat dood is sommer langs die pad aangekeer en doodgemaak of was daar ‘n grondige rede waarop die boere gereageer het? Wat verwag die kriminele moet wetsgehoorsame mense doen om hul van hul nekke af te kry en hulself en hul eiendom te beskerm. Hul nooi vir koekies en tee?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.