Parys-boere: Verskeie onbeantwoorde vrae

Die beskuldigdes in die hof. Foto: Mariné Lourens

ʼn Mediese dokter wat Woensdag tydens die sogenaamde Parys-boere-moordverhoor getuig het, kon verskeie van die vrae wat tydens kruisondervraging aan hom gestel is, nie beantwoord nie.

Dr. Sifiso Nxumalo, ʼn mediese dokter, het getuig in die saak teen Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, kapt. Henk Prinsloo, Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen en Miela Janse van Vuuren. Die ses mans word daarvan aangekla dat hulle deel van ʼn groep boere in die gemeenskap was wat op 6 Januarie 2016 vir Samuel Tjixa en Simon Jubeba op die plaas Swartklip aangekeer en so erg aangerand het dat hulle later in die hospitaal aan hul beserings beswyk het.

Nxumalo was die dokter aan diens die aand toe Tjixa en Jubeba na die Parys-hospitaal gebring is.

Adv. Nico Dreyer, vir die verdediging, het Nxumalo Woensdag uitgevra oor sy vroeëre getuienis dat Jubeba ʼn sny aan die agterkant van sy kop gehad het wat 3 cm tot 4 cm lank en 3 cm diep was. Dreyer het gesê volgens sy navorsing is ʼn mens se kopvel tussen 4 mm en 8 mm dik. ʼn Mens sou dus verwag dat ʼn sny van 3 cm beteken dat die pasiënt ʼn skedelfraktuur gehad het.

Nxumalo het gesê die pasiënt het volgens sy assessering nie enige skedelfrakture gehad nie. Hy kon nie verduidelik hoe dit dus moontlik is dat die sny 3 cm diep was nie.

Dreyer het Nxumalo ook gevra oor Tjixa se telling van 14/15 op die Glasgow-komaskaal. Die Glasgow-komaskaal word gebruik om die bewustheidstoestand van ʼn pasiënt aan die hand van spesifieke aspekte te bepaal, waaronder reaksie van die oë, verbale reaksie en motoriese reaksie. Nxumalo het gesê Tjixa het een punt vir verbale reaksie verloor.

Dr. Sifiso Nxumalo. Foto: Mariné Lourens

Tog kon Nxumalo nie aan die hof verduidelik hoekom daar op die hospitaalrekords aangedui word dat Tjixa slegs een punt vir verbale reaksie verloor het, wanneer Nxumalo in sy polisieverklaring, wat in Mei 2016 afgeneem is, aangedui het Tjixa was by sy bewussyn maar nie in staat om enigsins te praat nie.

Regter Corné van Zyl wou ook by Nxumalo weet hoekom die suster op die hospitaalvorm waar die pasiënt se huistaal aangedui moet word, geskryf het “kommunikeer nie”. Nxumalo kon ook geen antwoord hiervoor gee nie.

Van Zyl het Nxumalo daarop gewys dat al die inligting op die hospitaalvorm, wat sonder Tjixa se insette ingevul kon word, bv. bloeddruk, ens. wel ingevul is. Aspekte waarvoor Tjixa se verbale reaksie nodig sou wees, soos taal, pynvlakke en slaappatrone, is egter nie ingevul nie. Van Zyl het Nxumalo gevra of hy ʼn verduideliking hiervoor het. Nxumalo het hierop geantwoord dit moes ingevul gewees het.

Dreyer het ook aan Nxumalo gevra of dit mediese protokol is om, wanneer ʼn pasiënt ʼn kopbesering het, die pasiënt elke 15 minute aan die hand van die Glasgow-komaskaal te evalueer om te bepaal of sy toestand moontlik versleg. Nxumalo het toegegee dit is wel mediese protokol, maar het ook getuig hy het beide Tjixa en Jubeba elkeen net een keer aan die hand van die Glasgow-komaskaal geëvalueer.

Nxumalo is ook gepols oor ʼn voorskrif vir Valium wat hy vir Tjixa voorgeskryf het nadat Tjixa in ʼn saal by die Parys-hospitaal opgeneem is. Dreyer wou weet hoekom Nxumalo Valium vir ʼn pasiënt met ʼn kopbesering sal voorskryf. Hy het getuig Valium word voorgeskryf om pasiënte te kalmeer indien hulle rusteloos, verward of gewelddadig is. Dreyer het dit gestel dat daar geen bewyse voor die hof is dat Tjixa rusteloos, verward of gewelddadig was nie.

Tjixa het die oggend van 7 Januarie 2016 in die hospitaal in Parys gesterf, terwyl Jubeba na die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas is waar hy ook aan sy beserings beswyk het.

Nxumalo is Woensdag as getuie verskoon. Die staat sal na verwagting ná middagete sy volgende getuie, ʼn verpleegster by die Parys-hospitaal, roep.

Lees alle vorige berigte oor die Parys-boere op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Antjie ·

Miskien is dit nodig vir duidelikheid om daarop te wys dat indien ʼn pasiënt nie kan praat nie, hy slegs op daardie feit alreeds ʼn hele 4 punte verloor op die Glasgow Komaskaal. Ek vermoed hy sou verdere punte verloor het op motoriese respons, aangesien ek twyfel of hy instruksies sou kon volg. Om Valium dan voor te skryf, mag die vlak van bewussyn baie negatief beïnvloed, en, indien die pasiënt se asemhaling onderdruk word, sal hy addisioneel hipoksiese breinskade opdoen. Op skandering sou dit wys as swelling, wat blykbaar die geval was by sy maat in Bloemfontein. Ek wonder of die regter dit so sal insien. Ek hoop ook die NVG reageer korrek op die getuienis. Ander lewens hang daarvan af wat nie eens by die hofsaak betrokke is nie.

Van ·

So wat jy se is dat dit kon die dokter se nalatigheid ook gewees het?! Baie insigewende opmerking Antjie

Asjas ·

30% Slaagsyfer
Gekoopte lesensies, grade, kwalifikasies ens.
Staatsinstellings wat net eenvoudig nie omgee nie, kry mos pay
En so kan ons die heeldag aangaan …

Eish ·

Die vraag kom onwillekeurig by my op of die growwe mediese nalatigheid agv die feit is dat verskillende kriteria by universiteite bestaan vir die keuringproses tot mediese studies ten einde voorheen benadeeldes se getalle te verhoog. Wat in die geval daarop neer kom dat die voorheen benadeeldes n huidig benadeelde word vanweë n verslapte standaard.

ai! ·

Dankie vir jou uitleg. Hierdie saak is weer vol gate. Ongelukkig gaan die 6 bloei vir ander se nalatigheid. Ek hoop dat Dreyer gaan kop hou en aanhou peper mt belangrike teenstrydighede

Siestog ·

Ek dink hulle wil bittergraag hierdie boere dieselfde uitslag en vonnis gee as die doodskis 2 !

Boerseun ·

Hier is n slang, begin lyk of iemand die boere probeer opset. hoe land n ou in n gewone saal op chill pille maar was bewusteloos? Die veraaiers gaan maar moet trek as die ouens afkom?

Elize ·

‘n Mens sou verwag dat hy ten minste in die ICU eenheid opgeneem sou gewees het. Klink vir my ook soos nalatigheid van die hospitaal personeel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.