Parys-boere waarskynlik eers in 2021 gevonnis

Die Parys-boere wat aangekla word van moord verskyn weer in die hof. (Foto: Tania Heyns)

Die vyf boere van Parys in die Vrystaat wat vroeër skuldig bevind is aan aanranding ná die dood van twee vermeende plaasaanvallers in 2016, sal waarskynlik eers volgende jaar gevonnis word.

Boeta van der Westhuizen, sy seun Loedie van der Westhuizen, Anton Loggenberg, sy seun Cor Loggenberg en Miela Jansen van Vuuren sal in Desember vir die soveelste keer in die hof verskyn wanneer getuienis ter strafversagting sal voortgaan.

Die saak is vir 14 en 15 Desember op die hofrol geplaas.

“Ek voorsien nie dat die saak dan al afgehandel gaan word nie,” sê Piet Pistorius, die verdediging se regsverteenwoordiger.

Getuienis van ʼn maatskaplike werker ter strafversagting, asook dié van Rikki van der Westhuizen, Boeta se vrou en Loedie se ma, is reeds in Augustus aangehoor nadat uitspraak in Mei gelewer is.

Rikki het onder meer in die hof getuig oor die uitwerking wat die saak op haar gesin gehad het, asook die verwoestende uitwerking wat dit sal hê indien haar gesinslede tronkstraf opgelê sou word.

“Ons het gevorder, maar moes uitstel om die moontlikheid van korrektiewe toesig as gepaste vonnis en alternatief tot gevangenisstraf te ondersoek. Ons beoog om daardie getuienis volgende maand in die hof aan te bied,” sê Pistorius.

Die beskuldigdes is in Mei vanjaar onskuldig bevind aan moord op Tjixa en Simon Jubeba in Januarie 2016, maar wel skuldig bevind aan aanranding. Hul medebeskuldigde, kapt. Henk Prinsloo, is vrygespreek van alle aanklagte.

Dít nadat die ses beskuldigdes se verhoor reeds in Mei 2017 begin het en sedertdien talle kere uitgestel is.

Pistorius sê die uitgerekte verhoor van meer as drie jaar lank is baie traumaties vir die beskuldigdes.

“Hul lewe staan stil. Hulle kan nie vir die toekoms beplan nie. Van hulle is boere en ander is jong manne wat wou gaan studeer.”

Maroela Media het vroeër berig die staat het gedurende die verhoor beweer die beskuldigdes was deel van ʼn groep boere wat op 6 Januarie 2016 vir Tjixa en Jubeba op die plaas Swartklip aangekeer en só erg aangerand het dat hulle later in die hospitaal aan hul beserings beswyk het.

Regter Corne van Zyl het egter in haar uitspraak gesê sy kan nié die beskuldigdes aan moord skuldig bevind na aanleiding van prof. Jan Botha, ʼn afgetrede forensiese patoloog, se getuienis vir die verdediging nie. Botha het getuig dat die oorledenes destyds nog beserings kon opdoen toe hulle agter in ʼn polisievangwa vervoer is. Die vangwa het oor rowwe terrein gery.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

jzjz05 ·

Onthou, Malema word onder n ander reg as plaasboere verhoor,

Dries ·

Ek is bevrees teen 2031 is hy dalk president van die land, teen die tempo wat hy geregtigheid ontglip.

Pieter Rubeus ·

Wonder maar net, Die twee wat oorlede is word verwys na as plaas aanvallers? Hulle is moordenaars en rowers wat geen reg daar gehad het nie, maar boere word aangekla omdat hulle die kriminele erg beseer het en die twee beswyk het agter in ‘n polisie vangwa? Wat in werklikheid gesorg het dat daar nie nog iemand anders doodgemaak of doodgemartel is deur die twee nie.

Blikkantien ·

Boere wat mekaar uithelp is nou die sondebokke. Wat het daardie mense daar gesoek?

Lee ·

Dit is of hy of jy en jou gesin, wat moet boere dan nou doen.

Lian ·

Dis altyd ‘n turksvy as jy ‘n misdadiger aankeer en hy / sterf . Aan die anderkant:dis ‘n groot kommer dat misdadigers meer regte as wetsgehoorsame burgers het . In Amerika is ‘n eienaar swaar gestraf toe ‘n inbreker ernstig beseer is toe hy ‘n leer op die perseel gebruik en dit per ongeluk in ‘n poel olie gesit en die inbreker enrstig beseer is . In die UK is ‘n boer vir ‘n jaar tronk toe gestuur omdat ‘n plaasaanvaller die gebruik van sy arm verloor het tydens die aanval. Maar dis toe dat Tony Blair die wet aangepas het data sodra jy ‘n misdaad op ‘n ander persoon se eiendom pleeg, jy ALLE regte verbeur.

lollapot ·

HIER, sal dit nooit gebeur nie! Kriminele is kroonwild. . .

Suzette ·

Maar die Brackenfell terroriste word op waarskuwing vrygelaat!!!!!!!!!!!!?????????????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.