Parys-boere weer in hof

Die Parys-landdroshof. Foto: Mariné Jacobs

Die Parys-landdroshof. Foto: Mariné Jacobs

Die ses beskuldigdes in die opspraakwekkende Parys-moordsaak sal Vrydag weer in die hof op die Vrystaatse dorp verskyn, waar die voorverhoorverrigtinge in die saak na verwagting sal begin.

Boeta van der Westhuizen (46), Cor Loggenberg (18), Loedie van der Westhuizen (18), Miela Janse van Vuuren (22), kapt. Henk Prinsloo (46) en Anton Loggenberg (49) staan tereg op ʼn aanklag van moord in verband met die dood van Samuel Tjixa en Simon Jubeba.

Die staat het vroeër aanklagte teen Fanie Oosthuizen (42), Wian van der Westhuizen (20), Muller van der Westhuizen (19) en Wicus van der Westhuizen (19) teruggetrek. Die aanklagte teen Johan Cilliers sr. en sy seun, Johan Cilliers jr., is reeds in April teruggetrek.

Phaladi Shuping, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het aan Maroela Media gesê die staat en die verdediging sal na verwagting vandag bekendmaak hoeveel getuies in die saak geroep sal word. Dit sal die hof ʼn aanduiding gee van hoe lank die verhoor sal duur sodat daar op ʼn verhoordatum besluit kan word.

Die staat voer aan die beskuldigdes was betrokke by die moord op Tjixa en Jubeba, wat op 6 Januarie vanjaar deur boere van die omgewing op ʼn plaas aangekeer en glo só erg aangerand is dat hulle later in die hospitaal aan hul beserings beswyk het. Boere in die gebied het beweer Tjixa en Jubeba was deel van ʼn aanval op Loedie van der Westhuizen, Boeta se pa, se plaas, maar die oorledenes se familie het dit ontken en gesê Tjixa en Jubeba is tydens ʼn loongeskil deur die boere doodgeslaan.

Lees alle vorige berigte oor die Parys-boere op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Bruno Stef ·

Dit is darem baie opmerklik hoeveel veral blanke Afrikaner mans met die spreekwoordelike mes teen die keel aangekla word.Elke slenter in die regsproses word aangewend om van n molshoop n berg te maak ten koste van die aangeklagtes maar die waarskynlikheid van n plaasaanval of die voorkoming daarvan word afgemaak as n onbenulligheid.

hanlie ·

WIT SWART WIT SWART WIT SWART

AFRIKANERS WIE DINK JULLE EINTLIK IS JULLE?

WEET JY IETS VAN ONS REGSTELSEL… OF IS DIT WEER JOU PERSOONLIKE MENING?

snoefie ·

die Boer betrokke by due LOONGESKIL was nou blykbaar so bang vir die twee dat hy versterkings ingeroep het? bolle! due plaasaanval klink meer logies. kan die boere verkwalik word as hulle reg in eie hande neem? die tereg se ekskusies om huis en plaasaanvallers so onskuldig soos pasgebore lammers te laat lyk noop mense om self op te tree. so wie is dus skuldig aan die OORTREDINGS? na my beskeie mening die gereg wat nie wit lewens wil beskerm nie.

Tameletjie ·

Dalk het die twee oorledenes regtig net na die plaas gegaan om hulle geld te vra wat nie aan hulle uitbetaal is ni. Dit gebeur.

Piet ·

Dis nou regtig twak. Waarom sal ‘n boer sommer begin om die lewe uit ‘n werker te slaan wat net vir sy geld kom vra? Die boer het soos enige ander persoon ‘n plek waar hy werk en ook ‘n plek waar hy bly. As ek in die nag by my werkgewer (in die dorp) gaan geld soek by sal huis, sal hy die polisie bel. Hierdie is dan nou volgens jou anders, is dit omdat hy wit is of omdat hy ‘n boer is, of albei?

Santjie stoof ·

Tameletjie oppas !!!
Hierdie is n tameletjie vir jóú.
Sies

Johan Esterhuizen ·

Nou gaan hulle die twee ae geeste roep om te kom getuig. As jy kom vir jou geld dan sal jy mos in die oggend kom. Wat soek jy jou geld in die nag. Dalk jou krugermiljoene wat jy versteek het. Hulle sal enige verskoning uitdink om die Boere wat aangeval word te laat swaarkry. En hulle die NVG dink ons is onder n kalkoen uitgebroei. Ai

Susan ·

Ja nee, klink te dik vir ‘n daalder om in die nag vir jou geld te gaan vra…. Boere verwag in elk geval die ergste as hulle nagtelike besoekers kry. Kan jy hom verkwalik dat hy hulp gesoek het? Ons lees mos almal die nuus.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.