Parys-pypmoord: Verdagtes borgtog geweier

Craig Marx. Foto: Pink Ladies/Facebook

Craig Marx. Foto: Pink Ladies/Facebook

Drie van die vyf verdagtes wat in hegtenis geneem is in verband met die moord op Craig Marx, ʼn sakeman van Parys in die Vrystaat, se aansoek om borgtog is Maandag in die dorp se landdroshof afgekeur.

Konst. Ntsika Mosili, polisiewoordvoerder, het Dinsdag aan Maroela Media gesê Koenraad van Aswegen (51), sy seun Koenraad jr. (21), en Dawid Kuyler (18), bly in aanhouding totdat hulle weer op 2 Februarie in die dorp se streekshof moet verskyn. Twee minderjariges, albei 17 jaar oud, is in die sorg van hul voogde vrygelaat.

Die vyf word daarvan verdink dat hulle Marx (47) op 4 Desember verlede jaar glo in ʼn lokval gelei en vermoor het, nadat hulle vantevore opknappingswerk by sy huis gedoen het, het Beeld vroeër berig.

Van Aswegen sr., wat Marx glo R10 000 geskuld het, het glo saam met die medepligtiges ʼn skoktoestel gebruik om hom te verlam. Hulle het hom glo hierna met ʼn staalpyp aangerand voor hulle hom met plastiek en toue vasgebind het. Hy is daarna lewend in ʼn stormwaterpyp sowat 15 km buite Parys gegooi. Volgens die lykskouing het Marx waarskynlik versmoor.

Die beweerde moordenaars is later deur middel van kringtelevisiebeeldmateriaal geïdentifiseer nadat hulle ná die moord by ʼn vulstasie gestop het om koeldrank te koop. Daar is ook R20 000 uit een van Marx se bankrekeninge onttrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Neptunus ·

Klink of die ondersoekbeampte goeie werk hier gedoen het. Wat natuurlik sy plig is.

anita ·

Gierigheid ,, dis hoekom hulle hom vermoor het…het hulle gedink hulle gaan wegkom met die moord..hoop hulle sit lank en suffer daar in die tronk….julle verdien…

Lillian ·

Om iemand te vermoor vir geld! Hoe siek! Sit en vrot in die tronk julle gemors!

Rina Pretorius ·

Mense kom ons wag met die oordele tot hulle skuldig bevind is, shoe die uitlatings is nie mooi nie, laat God die oordeel vel asb. Almal is onskuldig totdat hulle skuldig bevind is. Die oordeel kom ons nie toe nie want die Woord se die oordeel waarmee ons oordeel sal ons geoordeel word. Ons het almal groen koring op ons lande, dit kan enige tyd met enige van ons mense ook gebeur. Laat ons asb stil wees

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.