Parys steeds sonder krag

(Argieffoto: Mazhar Zandsalimi/Unsplash)

Die Ngwathe-munisipaliteit in die Vrystaat sê hulle is nie seker presies wanneer die krag weer in Parys sal aangaan nie. Dié Vrystaatse dorp is sedert Dinsdagaand in die donker gelaat nadat ʼn substasie omstreeks 20:32 aan die brand geslaan het.

Steve Naale, woordvoerder van die Ngwathe-munisipaliteit in die Vrystaat, sê die munisipaliteit en Eskom se tegniese spanne werk sedert Dinsdagaand onverpoos om die brandskade by die kragsubstasie te herstel.

Maroela Media het vroeër berig daar het Dinsdagaand ʼn fout in die transformator by die Parys Rural-substasie ontstaan. Dit het veroorsaak dat die transformator en só ook die substasie aan die brand geslaan het. Weens die brandskade wat in die stasie se beheerkamer aangerig is, is die hele dorp se krag afgesny.

Eskom het Woensdag gesê hulle beoog dat die krag teen Donderdagmiddag weer aangeskakel word.

Naale sê egter omdat dié herstelproses nie ʼn maklike taak is nie, kan hulle nog nie bevestig wanneer die krag weer sal aankom nie.

“Watervoorsiening en -verspreiding word kwaai beïnvloed deur kragonderbrekings. Watertenks sal voortgaan om water aan inwoners in die tyd te voorsien,” sê Naale.

Naale sê hulle sal inwoners deurgaans op hoogte hou deur gereelde terugvoer  deur te gee aan munisipale raadslede, plaaslike media, openbare uitsaaiers, sosialemediaplatforms en deur middel van SMS’e.

“Die munisipaliteit bedank inwoners vir hul geduld en samewerking tot dusver,” sê Naale.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Harry ·

Hier is heeltemal te veel mense wat betaal word om niks te doen nie. ‘n Munisipale beampte behoort al 26 jaar terug Eskom se rekening te betaal.
Mag hierdie soort wanorde lei tot hierdie regering se val!!

Stefan ·

Daar is mos ‘n groot uitstaande rekening van die munisipaliteit by eskom, wat die verbruikers wèl betaal het maar nooit deur die munisipaliteit oorbetaal is na eskom.
Seker die dat hulle nie so gretig herstel nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.