Pas op vir avokado’s langs die pad

Foto: Pixabay

Avokado’s is tans ʼn skaars en duur item, want die 2021-oesseisoen vir die vroegste kultivar, die Fuerte, begin eers volgende maand. Hierdie kultivar is die bekendste een in Suid-Afrika en word vanaf middel Februarie in Limpopo tot vroeg in Augustus in KwaZulu-Natal geoes. Dit het die kenmerkende peervorm en soms ook ʼn lang nek.

Soos ons almal weet, skiet die prys van ʼn item die hoogte in as dit skaars word. Hoë pryse het dikwels twee ongewenste gevolge. Gewetenlose produsente begin vrugte oes wat nie ryp sal word nie en tweedens word vrugte gesteel om verkoop te word.

Derek Donkin van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Avokadokwekers (Saaga) waarsku verbruikers dat hulle versigtig moet wees as hulle in Januarie Fuerte-avokado’s by hul plaaslike handelaar of langs die pad te koop sien. Daar is ʼn goeie kans dat hierdie vrugte nie ryp sal word nie en dat dit dalk gesteel is.

Daar is wel Fuerte’s beskikbaar wat van die vorige seisoen oorgedra is, wat noodwendig baie duur sal wees. “‘Buite-seisoen’-Fuerte-avokado’s is donkerder van kleur en sal nie so blink soos die groen vrugte wees nie. Maar dit is onwaarskynlik dat hierdie vrugte langs die pad verkoop sal word,” sê hy.

ʼn Ander nuttige wenk is om te kyk of daar steeltjies aan die vrugte is. As daar ʼn klein stingel of stompie is, is die vrugte behoorlik geoes. As die stingel af is, is die vrugte moontlik gesteel. Boere sal nie hul vrugte van die boom afbreek nie, hulle sny die vrug saam met ses tot tien millimeter van die stingel af. Hierdie stompie wys hoe ryp die vrug is en sal van die vrug loskom as dit gereed is vir eet. Avokadodiewe, aan die ander kant, breek die vrugte van die bome af, omdat dit baie vinniger is as om elke stingel deur te sny.

Hy sê as verbruikers in Januarie wel avokado’s koop, moet hulle op die uitkyk wees vir hierdie tekens. “As die vrugte nie ryp word nie, neem dit terug en vra vir ʼn terugbetaling.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

JohanR ·

Was lanklaas in Tzaneen se area. Daar is die avo’s groot en LEKKER! Dit is eintlik ‘n area waar al die vrugte en groente groot is.

Francois ·

Hoe neem jy die avo’s terug as jy dit by ‘n dief gekoop het?

Anoniem ·

Teen R18-00 per Avo by die meeste bekende winkelgroepe, het ek my Avo tande maar getrek. Geen Avo is dit werd nie.

ONTPS ·

Ons Spar in Milnerton verkoop dit teen R29-99 vir een. Dke avo’s kan maar daar lê en vrot word, ek weier om soveel te betaal

Pieter ·

Our people plunder mos so ver hulle gaan hier gaan niks oor bly nie nie eers mossies nie

Vrijburger ·

Punt is – moet nie langs die pad koop nie tensy jy duidelik kan sien dit is die boer se stalletjie.

Hennie J ·

Die meeste produkte en kommoditeite wat sogenaamde informele verkopers aanbied is bedenklik in oorsprong. As ek iets wil koop of moet koop, besoek ek die winkel. As dit te duur is (soos avos)dan bly ek daarsonder.

quartus ·

Mens moet nie avokados by straat handelaars koop nie. Ons sien nou waar hulle aan hulle ” voorraad ” kom

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.