Pas op vir ysterpenne op N4

Ysterpenne op paaie. (Argieffoto: Gautengse verkeerspolisie)

Motoriste wat op die N4 in Mpumalanga ry, moet uiters versigtig wees vir ysterpenne wat in die pad geplaas word om motorbande te laat bars.

Die polisie en gemeenskapspolisiëringsforums het opnuut waarskuwings aan motoriste uitgereik nadat verskeie voorvalle onlangs in Nkomazi aangemeld is. Motoriste wat in die omgewing van Hectorspruit ry – spesifiek van Impala Siding na Komatipoort – moet veral versigtig wees.

In ʼn onlangse voorval is ʼn taxibestuurder boonop wreed in dié omgewing vermoor nadat ysterpenne in die pad geplaas is. Hy was op pad na Mosambiek.

Die polisie het ook die afgelope paar dae ander klagtes ontvang van verdagtes wat motoriste teiken wat na en van die Lebombo-grenshek reis. Ysterpenne word glo op strategiese plekke geplaas waar motoriste veral kwesbaar is.

“Dit vind gewoonlik laat in die aand of vroegoggend plaas. Sodra motoriste oor hierdie ysterpenne ry, bars hul bande of word hul motors beskadig. Dit dwing hulle om stil te hou en ondersoek in te stel. Gewapende rowers storm dan gewelddadig op dié motoriste af,” sê lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, provinsiale polisiekommissaris.

Van die vermoedelik gesteelde goedere wat gevind is. (Foto: Komatipoort- en Malelane-GPF)

Items wat gesteel word, sluit kontant, selfone en ander waardevolle besittings in. Dit kan egter veel erger as net diefstal wees.

ʼn Taxibestuurder is op 11 April deur ongeveer 12 gewapende rowers aangeval en doodgekap nadat ysterpenne in die pad geplaas is. Hy het pendelaars van Suid-Afrika na Mosambiek vervoer toe die voorval omstreeks 23:00 plaasgevind het. Dit het tussen die Hectorspruit- en Coopersdal-aansluiting gebeur. Die insittendes van die taxi is beroof.

ʼn Mosambiekse man is in verband met dié voorval in hegtenis geneem en onder meer van moord en roof aangekla en dat hy onwettig in die land is. Hy is ook met ʼn onwettige vuurwapen en ammunisie in sy besit betrap en gevolglik aangekla. Hy sal na verwagting Dinsdag in die Komatipoort-landdroshof verskyn.

Die polisie het sedertdien op talle versteekte items en wapens afgekom. Dié items, wat selfone en geld insluit, is vermoedelik gesteel.

“Alle bewyse dui op ʼn sindikaat wat motoriste en reisigers teiken. Meer inhegtenisnemings sal hopelik binnekort volg.” 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.